WF 2012: Dure internet!

  • 0

’n Voluit betaalde vakansie na New York het vir die vier jongmense Joie, Max, Gwen en Dave na ’n droom geklink – alle uitgawes vir hul reis word deur die sosiale netwerk almalsaam.com gedek. Toe hulle die private vliegtuig betree, word “gesonde” alkoholiese drankies aan hulle bedien. Hulle word ook gevra om hul selfone in te gee in ruil vir ’n rekenaarskerm om aan die vlugvermaak te kan deelneem, 'n nuwe aanlynspeletjie-ervaring. Maar dit is geen gewone spel nie. Vasgevang op 30 000 voet word hulle gedwing om te speel vir hul lewens en die lewens van diegene vir wie hul omgee. Wie is die onsigbare vanger? Waar kom hy vandaan? Hoe ken hy hul intiemste geheime? Daar is geen manier om te ontsnap nie, en niemand kan vertrou word nie. Hulle sal spoedig uitvind dat jou lewe aanlyn dodelike aflyngevolge kan hê.

Dié fenomenale prys is deur die vier kandidate gewen nadat hulle vir ’n kompetisie ingeskryf het. Dave is ’n bietjie snobisties en het ’n slegte houding. Max is meer teruggetrokke en hou sy aanlynprofiel baie privaat. Die twee meisies, Joie en Gwen, wek die indruk dat hulle innemend en vriendelik is, totdat hulle donker geheime ontdek word ...  So gepraat van geheimenisse ...

Die avatar praat met ’n alligatorstem. Hy is die gids in die aanlynspeletjies. Sy rol is om die speletjies op die kandidate af te dwing en vrae te vra. Net die avatar weet wat werklik aangaan en wat die uiteinde gaan wees. Vir die vier kandidate lyk alles soos ’n droom. Hulle kan ’n addisionele prys wen, soos 'n ’n eilandwegbreek. Diegene wat nalaat om die speletjies te speel, verbeur dié wonderlike kans. Die speletjies word gespeel deur 'n eenvoudige drievraagrondte per speler. Die vrae is indringend en die antwoorde word verkry van die internet, aanlyndata en digitale profielering. Dít alleen maak dit al klaar 'n wonderlike ervaring – die vier deelnemers se verrassende opmerkings en navrae. Elkeen het egter iets wat hulle probeer wegsteek. Gaan dié kamoeflering werk of deur die speletjies ontbloot word?

Dave dink hy kan enige meisie onder die son kry; hy maak asof hy ryk is en hy is grootpraterig. Een van die vrae wat aan hom gerig word, is: “Hoeveel meisies het jy die afgelope jaar gesoen?” Dave se antwoord is arrogant en selfversekerd: “So plus minus veertig.” Die alligator weet hy vertel ’n leuen en sê dan voor almal: “Geen!” Aan Gwen, die meisie wat “nie kan flirteer nie”, word die volgende vraag gestel: “Ken jy dié persoon?” Daar verskyn ’n foto en inligting van ’n aantreklike man op die skerm. Gwen sweer hoog en laag sy weet nie wie die man is nie. Sy ken hom glad nie. Die alligator lig die sluier: “Dit is Sheree, jou aanlynliefkoser!” Die spelers aan wie daar nog nie vrae gevra is nie, is heel rustig. Hulle lag vir die ander wat so opgewerk raak omdat hulle geheime uitgelap word. Wel, daardie laggie word vinnig gesluk toe dit Joie se beurt is. ’n Video word gespeel waarin ’n meisie in ’n agterstraat in Amsterdam vermoor word. Die vraag is of sy al óóit die video gesien het. Haar antwoord is ’n heftige “Nee!”. Vanselfsprekend kom die alligator weer met die korrekte antwoord vorendag: “Jy het die video drie keer na mekaar gekyk, die volgende dag weer twee keer en toe stuur jy die webtuiste na twintig van jou vriende om óók te kyk!” Dit is nou nie meer kinderspeletjies nie. Dit begin ernstig raak. Max besef dit. Hy is gespanne en liggeraak. Hy wil weet wié die alligator is. Hy begin aan die toerusting ruk en pluk. Duidelik het Max nie die terme en voorwaardes gelees nie. ’n Persoon op sy Bakkiesboek word gekies en ’n video word gespeel oor hoe hy doodgemaak word. Dit begin nou ’n kwessie van lewe en dood word.

Hulle moet speel, of hulle nou wil of nie!

Die alligator stuur elkeen individueel badkamer toe om hulle ’n “private werkie” te gee om te doen. Max moet vir Joie doodmaak, Joie moet vir Dave vergiftig, Dave moet Gwen met ’n mes steek, en Gwen moet vir Max kry om van haar te hou. Nie een van hulle voer hulle opdrag korrek uit nie. Gwen word deur Dave doodgemaak. Dave word deur Max doodgemaak. Joie vergiftig vir Max.

Joie bly alleen oor. Sy kan nêrens heen gaan nie! Sy sien waarheen die vliegtuig op pad is. Dit stuur op ’n berg af! Sy probeer mooi met die alligator praat, maar hy is ’n rekenaar hier op aarde – ’n rekenaar wat beheer word deur niemand nie! Hy volg sy eie kop. Hy het geen gevoel nie. Hy voel vere vir Joie. Sy kan dit nie meer hanteer nie! Sy weet wat sy ook al nou gaan doen, gaan nie help nie. Sy skraap al haar moed bymekaar en spring by die vliegtuig uit ...

Voor sy haar kom kry, is sy op die grond, onbewus van wat om haar aangaan.

Sy is dood.

Soos al die ander.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top