WF 2012: Droomartritis

  • 0

Vandag staan ek hier … Om my is vreemde mense, vreemde wesens. Hulle doen snaakse dinge en reageer anders; hulle gesigte lyk bekend – wel, soortvan bekend. Blou, groen en bruin oë – maar onnatuurlik; dit kyk diep binne jou. Emosionele manipulasie – almal speel met almal se gevoelens. Donkerte wat heers. En dis tóé dat ek tot die besef kom: Ek’s alleen; ek het oorleef …!

My naam is Jenna May, maar almal noem my Jenna. September 1990, die maand toe alles verander het, vir altyd. Drome is vreemde en onverklaarbare gebeurtenisse – beelde en sommiges glo selfs visioene van die toekoms. Ek het nog nooit regtig aandag gegee aan my drome nie, en min het ek geweet dat dit wel ’n droom sou wees wat my toekoms sou verander op dié stikdonker nag van 15 September. Met geen maan nie en die sterre dof agter die weerkaatsende stadsliggies, is ek in my droomwêreld.

Die droom is anders. Ek sit in ’n woestyn, kruisbeen, alleen … Ek sit doodstil, maar dit voel of iemand of iets my ledemate in verskillende rigtings trek. Die pyn is ondraaglik! Ek sien steeds niks – niemand nie. En dan skielik is daar stilte en dan donkerte. Dan wit lig wat my byna verblind.

Soos my oë die skerp lig gewoond raak, kan ek my gesin sien. Ek is nie meer in die droë woestynomgewing nie. Ons is in die mooiste grasveld – miskien ’n piekniekterrein? Dit is die perfekte dag vir so ’n tipe uitstappie. Hulle staan almal by mekaar. Eerste sien ek my liefste ma, Sonja – sy is steeds pragtig vir haar ouderdom en ek kan die lagplooitjies onder haar oë sien. Langs haar is my pa, Marco. Sy gesig is strak en onvriendelik tot jy hom leer ken – hy het die sagste en nederigste hart. Ek voel dankbaar en glimlag vir my klein engelboetie, net hoër as my ma se knieë – hy is slegs drie jaar oud. Ek stap nader en wil begin gesels oor hoekom ons hier is. Ek begin praat, maar daar kom geen woorde uit nie – geen klank nie, niks nie!

Skielik skrik ek wakker, kyk om my rond en probeer nog onderskei tussen realiteit en my droom. Ek soek haastig na my selfoon toe ek besef dis reeds lig buite my venster. Ek skarrel rond en kry dit uiteindelik onder my rug. Ek het seker baie rondgerol in die nag. Dis reeds halfses; ek’s laat! Binne ’n halfuur is ek kant en klaar, reg vir skool. Dis Dinsdag en die naweek se moegheid haal my nou eers in, maar ek is te laat – ek dink nie eens aan my moeë lyf of droom nie! Ek gryp my tas en ons kom halfagt by die skool aan.

Die vyfde periode het aangebreek en dis die eerste rustige periode van die dag. Ek het kans om te dink. Voor ek my kom kry, is ek besig om by die venster uit te staar en te dink aan die buitengewone gebeure in my onderbewussyn laasnag. Ek hoor die Engels-onderwyser in die agtergrond bulder, maar dit is nou vir my oninteressant – ek’s moeg. Die droom pla my, soos ’n haartjie in my oog wat my aanhoudend krap. Kan die droom moontlik iets beteken? Nee, dis te deurmekaar daarvoor. Soos ek by die venster uitkyk, raak ek weer bewus van wat om my aangaan.

Ek sien ’n lang man ver op die rugbyveld. Hykyk in die rigting van ons klaskamer, wat op die tweede verdieping is. Hy’t ’n lang jas aan en ’n bitter en morbiede uitdrukking op sy gesig. Dit is vir my vreemd en ek elmboog my beste vriendin, Lydia, langs my en beduie dat sy ook moet kyk. Sy kyk deurmekaar na my en trek haar skouers op asof sy wil vra: Wát? Ek kyk weer, maar die amper spookagtige man is weg. Ek kyk weer om seker te maak. Dalk het ek my verbeel – ek is redelik moeg, en my verbeelding speel dalk met my.

Enkele dae later kan ek nie die droom of my verbeelding se spookman uit my gedagtes kry nie! Ek voel gefrustreerd en besluit om vir Lydia te vertel van die droom, maar van die spookman stil te bly. Sy morbiede gesig is tot vandag toe in my gedagtes ingeprent. Dit maak my bang. Ek vertel haar in detail soos ek dit onthou. Toe ek klaar is, sê sy eers niks nie. Sy kyk na my, maar stil, amper asof sy geskok is. Sy sê toe dat dit dalk net ’n ongewone droom is en dat ek daarvan moet vergeet.

Daardie aand voel dit of iemand my dophou in my kamer, en ’n intense alleenheid sak oor my toe. Dis toe dat ek die donker geklede man by my deur sien staan. Ek voel hoe die hoendervleis op my rug na my nek toe beweeg. Die man praat nie, maar dis asof ek kan hoor wat hy dink, en ek weet onmiddellik dat die man ’n verbinding met my droom het. Is dit net ek wat hom kan sien?

In die volgende paar dae het dinge begin skeefloop. Lydia het my vertel dat sy die dag toe ek haar van my droom vertel het, daardie nag presies dieselfde droom gehad het. Sy het haar ma en pa van die vreemde droom vertel. Sy praat toe ook van die spookman. Maande het verbygegaan. Elke dag het ek net meer alleen, woordeloos en bang gevoel. Dis asof almal ophou praat het. ’n Ander mag wat heers. Die mag wat versprei word deur jou eienaardige droom vir ’n ander persoon te vertel. Die spookman het my nie meer besoek nie. Maar gou-gou het almal van hom geweet. Hy kom om vreugde te steel. Hy maak jou hart koud. En nou is dit elkeen vir homself. Die spookman versprei geeste van selfsug, ongeduld, onvriendelikheid en emosionele koudheid van huis tot huis. Dis hoe die droompandemie begin het. Nuusberigte en televisieuitsendings het tóé nog daarvan gepraat, maar nou …

Nou staan ek hier en sien blou, groen en bruin oë, maar geen koerantberig of televisieprogram praat oor die donkerte wat oor die wêreld gekom het nie. Dis soos ou nuus en almal het dit gewoond geraak. Ek staan hier alleen … en wag dat die lig van die wêreld weer sal terugkeer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top