WF 2012: Die Verlammer

  • 0

X905 Idols was so droog gisteraand! Daardie een meisie se stem is al soveel keer verstel dat haar programmeringstelsel dit nie meer kon vat  nie!” Ek en Zorgenster staan by my skoolbank en gesels. Ek probeer hom in sy neon-oë kyk, maar my sig wil net afgly na sy blink staalarms wat duidelik nuwe drade gekry het vir maksimum sterkte en o, dis so mooi gepoleer dat ek my eie refleksie in sy boarms kan sien.

“Ek weet, nè!” stem hy saam. “Dit was so…”  Hy gaan omtrent in standby-stelling, want sy het by die klaskamer ingestap en al sy sensoriese monitors is skielik op haar gefokus. “Aaa,  ek moet gaan …” sê hy dromerig, terwyl hy wegglip in die rigting van die alomberoemde Verlammer. Hy en die res van die manlike geslag in die kamer. Almal. Na haar.

Rosie Ismaervet. Ook bekend as die Verlammer, wat al die ouens se breine verdoof. Die Russies wetenskaplike se agteragterkleindogter. Haar hoofaantrekkingseienskap vir die outjies? Sy is, anders as die res van ons, 100% mens (meer soos 119% as ek kyk na daai vetjies wat oor haar stywe sterielwit ruimtebroek loer). Alhoewel ons ander nog steeds menslike breine het, is ons nie so bevoorreg om bypassende lywe soos Rosie te hê nie, maar eerder koue staalomhulsels.

Die manier hoe hierdie tegnologiese metamorfose tot stand gebring is, is deurdat die Blou Planeet (ook geken as Ape of Are of iets in daardie lyn – my Aardrykskunde is nie regtig op standaard nie), wat eens die tuiste was van ons voorvaders, ’n geweldige natuurramp van al die elemente ervaar het. Moeder Natuur was nie gelukkig met hulle nie. Dr Ismaervet en ’n paar ander wetenskaplikes het hierdie komende gevaar voorspel en het al voorsiening gemaak daarvoor om te kan ontsnap met behulp van ’n ruimteskip wat in die geheim gemaak is. Toe die rampe die dorpie waar die doktor gebly het (wat baie klein was omdat hulle in geheim wou werk) getref het, kry hy en sy medewetenskaplikes die gesondes en die beseerdes bymekaar en laat vat hulle na die sterre. Die meeste beseerdes was al ver weg en naby aan die dood, maar dr Ismaervet het ’n plan B gehad. Hy het ’n manier gevind om die brein van die pasiënt wie se liggaam nie meer funksioneer nie, oor te plaas na ’n robotlyf – dis waar my tipe gebore is. Die wetenskaplikes het ook toe uitgevind dat, alhoewel ons robotwesens nie letterlik babas kan kry nie, hulle wel nuwe menslike breine kan kweek deur stukkies van twee afsonderlike skenkers se breine te versmelt. En siedaar! ’n Hele nuwe era!

Die doktor, sy wetenskaplikes en sommige van die mense wat hulle met lyf en al kon red, het net aangegaan om onder mekaar te teel, as mens dit so kan stel. Die probleem wat wel hier ontaard het (volgens my biologie-meneer) is dat die “spesiediversiteit” onder die egte mense verlaag het en so ook hul weerstand teen siektes. As gevolg hiervan is hulle getalle besig om te val en Rosie is die enigste kind oor wat ’n volgende generasie kan voortbring. Niks meer seuns wat haar kan help om die menslike spesie te laat voortleef nie.

Hierdie feit het gemaak dat al die ouens Rosie baie waardeer. Hulle wil Rosie se vlesigheid en rooi wange inneem, want ná haar is dit net koue staal. Soos ek.

Mr Diijdk breek die groep seuns rondom Rosie op, bulder dat hulle by hulle sitplekke moet kom en vra Rosie sag en mooi of sy nie asseblief op haar plek sal gaan sit nie. Ek gluur haar aan toe sy haar pad vat na haar sitplek. Skielik verloor sy haar balans oor iemand se tas wat haar pootjie en daar tref sy die vloer. Ek grinnik van lekkerkry en dan skree sy skielik.

“Wat makeer?”

“Het jy seergekry?”

“Kry die noodhulp!”

Die bondeltjie seuns is weer knoes rondom haar terwyl sy trane en trane uithuil.

Die volgende dag sit Rosie met krukke. Sy het haar voet verstuit. Ek gee ’n ingenome glimlag. Mooi so. Daai brose flerrie verdien dit. My oë flikker. Ek kan voel hoe my brein konneksies maak en ’n plan op ’n silwer skinkbord vir my aanbied.

Rosie Ismaervet moet ’n robot word.

En ek weet presies hoe …

Dis nou al vier maande nadat ek my plan begin implementeer het en die resultaat is presies wat ek begeer het: ’n robot-Rosie. Hoe het ek dit reggekry? Wel … kom ons sê net hulle kan mý die Verlammer begin noem.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top