WF 2012: Die son brand fel

  • 0

Die son steek sy blink kop bo die rand van Leeukop uit en verlig die verlate Kaapse strate. Dit is die jaar 2053. Daar is geen teken van lewe buiten die sagte geritsel van die blare soos dit waai nie. Skielik kom koerantafleweraars in ’n vlaag op hul fietse daar aan en smyt haastig die koerante op die voorstoepe van die stil huise neer. Hulle weet hulle kan dit nie meer lank buite in die oopte waag nie. Die son se strale val op die wit papier en verlig die hoofopskrif in vet, swart letters: “Wees bang. Wees BAIE bang, Suid-Afrika.” Edna gryp net betyds na die koerant en slaan haar voordeur haastig toe net toe die son se strale ’n diep swart gat deur al tien bladsye brand.

Biep. Biep. Biep. ’n Rooi lig flits bo-op die skandeermasjien om aan te toon dat die inhoud klaar ontleed is. Die drukker druk blitsvinnig die resultate van die ondersoek op die spierwit papier uit. Professor Edna Carstens laat val die koerant op die vloer en haar hande gryp gulsig na die stapel papiere wat een vir een uit die mond van die drukker gly. Haar oë glip oor die inhoud. ’n Reuse-glimlag verlig haar gesig. Soos blits storm sy by haar laboratorium uit en kies koers na die koelkamer. Haar voete gly oor die teëlvloere, so vinnig hardloop sy, maar sy kan haarself nie dwing om stadiger te beweeg nie. Sy is net te opgewonde. Daar gekom, stoot Edna die swaar deur van die koelkamer oop. Sy stap die yskoue vertrek vinnig binne en haar hande grawe deur die inhoud van die menigte rakke. Edna kry uiteindelik dít waarna sy soek. Stadig stap sy terug na haar laboratorium, versigtig om nie haar kosbare fonds te beskadig nie. Sy sit die petribakkie versigtig op die vlekvryestaalblad van haar werkbank neer. Sy staar vir ’n wyle na die wonderwerk voor haar. Na jare se harde werk, min slaap en bloedsweet is dit uiteindelik klaar: die middel wat alle lewe soos ons dit ken, sal verander. Uit die hoek van haar oog sien sy weer eens die gebrande koerant wat op die vloer lê. “Ook net betyds,” dink Edna.

Buite is die son al volkome op en Edna kan voel hoe die vertrek al hoe warmer word. Sy maak die blindings voor die venster dig toe en stel die lugverkoeling nog kouer. Die invloed van aardverwarming op die planeet het ’n realiteit geword. Die mensdom wou nie luister na die wetenskaplikes se waarskuwings en pleidooie om meer “groen” te leef en die aarde te bewaar nie, en nou is dit te laat. Die onvermydelike gevolge van globale verwarming is besig om sy tol van die mensdom te eis. Die dae raak al hoe warmer, so warm dat enige mens wat langer as twee uur in die sonlig deurbring, omkom van dehidrasie of sonsteek. En soos die dae al hoe warmer word, raak die nagte al hoe kouer. Die kwik op ’n tipiese Kaapse nag draai gewoonlik by subzero-temperature rond.

Die feit bly staan dat die mens se dae op aarde getel is en dat die mensdom ’n onafwendbare dood in die gesig staar, of so het sy gedink, maar Edna se wondermiddel kan alles verander. Sy lig die petribakkie versigtig op en bestudeer dit van alle kante. “Dames en here,” sê sy hardop vir haarself. “Ontmoet die mensdom se nuwe beste vriend. Die sleutel tot die suksesvolle oorlewing van die menslike ras. Die MHM: Menslike Homeostatiese Middel.”

Die middel werk volgens ’n baie eenvoudige konsep. As die mens op aarde wil bly voortbestaan, sal hul hulself moet aanpas om in die mees ekstreme omstandighede te kan oorleef, en met die hulp van Edna se nuwe middel sal dit moontlik wees. Dié middel stel die mens in staat om hul eie liggaamstemperatuur te reguleer. In warm weer keer die middel dat die liggaamstemperatuur onnatuurlik hoog styg, en dit kan ook die liggaamstemperatuur van ’n persoon laat daal. Die middel sal ook die liggaam stimuleer om meer water terug te hou en te herabsorbeer, wat die mens in staat sal stel om vir baie langer periodes sonder water te leef. Boonop sal die middel ’n wasagtige laag soos die kutikula van ’n plant op die vel vorm, wat waterverlies deur verdamping sal verminder.

Wat die koue dae betref, sal die middel die liggaam se metabolisme baie stadiger maak om te keer dat baie liggaamshitte só verlore gaan. Die mens se harttempo en asemhaling sal ook stadiger word om minder energie te verbruik, net soos diere s’n wat in ’n toestand van hibernasie verval. Boonop sal die middel ook veroorsaak dat die mens ’n dubbellaag pels groei wat die hele liggaam bedek, wat hom in staat sal stel om in die koudste toestande moontlik te oorleef. Dit klink dalk nie ideaal nie, maar as die mens wil oorleef, sal hulle maar net hierdie feit moet aanvaar, en vroue kla mos altyd dat hulle nie hou van skeer nie.

Edna klap haar hande saam. “Nou nog net vir die toetslopie,” sê sy singend. Versigtig neem sy die petribakkie en trek ’n klein hoeveelheid van die inhoud in ’n spuit op. Sy haal diep asem en bring dan die spuit nader aan haar arm. Sy het tog niks om oor bekommerd te wees nie – al haar resultate het bo alle redelike twyfel bewys dat die middel wel sal werk. Die naald maak kontak met haar arm en die vloeistof dring haar are binne. Dit brand. Edna sit die spuit op die tafel neer en stap tot by die voordeur. Uit die hoek van haar oog sien sy weer die gebrande koerant op die vloer lê. Stadig maak sy die voordeur oop en staar na buite. Die son brand fel, en orals is mense haastig op pad na die veiligheid van hul verkoelde huise. “One small step for man, but one giant leap for mankind,” sê Edna en stap die hitte van die middag binne.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top