WF 2012: Die Skadu

  • 0

Dit is die jaar 2173, 25 jaar na die Derde Wêreldoorlog, en die aarde staar ’n apokalips in die gesig. Die wêreld is permanent met ’n digte laag rook mis bedek as gevolg van die nimmereindigende inisiatiewe om die Ryk uit te brei.

Die Ryk, ’n finansieel sterk korporatiewe amalgamaat, se uitsluitlike fokus is die aanbidding van Mammon, die god van rykdom. Die Ryk het uitgebrei tot ’n supermoondheid in die nasleep van die Derde Wêreldoorlog. Met die uitsondering van die Ooskus van die VSA, wat desperaat vasklou aan die illusie van “vryheid”, en Sentraal-China, wat onherbergsaam is as gevolg van die Volksrepubliek se aggressiewe industrialisasie gedurende die vorige eeu, word die res van die wêreld deur die Ryk regeer. Alhoewel tegnologiese kennis bo alle verwagting jaarliks eksponensieel vermeerder het – dink maar aan die reusevooruitgang in die medisyne en kubernetika – het net die waarlik ryk patriarge toegang tot dié tegnologie. Dit is dus vir slegs 0,021% van die wêreldbevolking beskore, met die uitsondering van diegene wat formeel affilieer met die Ryk. Kloning het die Ryk verder in staat gestel om legioene superieure, geneties meerderwaardige soldate te skep wie se uitsluitlike doel is om die Ryk te dien.

Dit is in hierdie wêreld waar Tiberius St Michael in 2149 in Bern gebore word. As seun van ’n welgestelde familie is Tiberius een van die min uit die 26 miljard aardbewoners wat kubernetiese augment-inplantings ontvang.

Hy geniet ’n lewe van luuksheid wat tragies tot ’n einde kom toe die Ryk sy familie valslik van kettery beskuldig. Sy ouers word om die lewe gebring en die Ryk lê beslag op al hul rykdom. Van daardie dag af is hy gewikkel in ’n konstante stryd om uit die Ryk se pad te bly. ’n Stryd om oorlewing – om ’n manier te vind om wraak te neem op diegene wat sy ouers vermoor het. Hy steel om aan die lewe te bly en wanneer die geleentheid hom voordoen, is hy ’n sluipmoordenaar.

Vanweë sy legendariese vaardighede het Tiberius mettertyd die bynaam “Die Skadu” gekry. Alhoewel niemand geweet het wie hy werklik was nie, was sy dade welbekend in die Ryk. Sy naam het in lofgedigte en op haatplakkate gepryk. Die Ryk het hom vervolg, terwyl die armes hom bewonder het. In die media is hy vergelyk met Robin Hood, asook met Achmed, “Die Jakkals”, wat WO3 begin het. Omdat die Ryk nie bewus was van sy ware identiteit nie, het hulle hom nie as so ’n groot bedreiging beskou nie. Hulle het wel ’n paar agente opdrag gegee om hom gevange te neem.

Tiberius was slim en het seker gemaak dat hy geen leidrade agterlaat om onnodige aandag op hom te vestig nie. Hy het dikwels na maniere gesoek om die Ryk vir sy misdade te blameer en het só bygedra tot die begin van die rebellie. ’n Uitgebreide netwerk kontakte en informante het hom gehelp om uit die pad van die Ryk en plaaslike wetstoepassers te bly.

Hy was op pad uit die krotbuurte van Zagreb na Lhasa toe hy paaie kruis met die Keiserlike Inkwisisiepatrollie. Uit die wa het ’n geween en’n gevloek, slagspreuke van rebellie en beloftes van wraak gekom. Tiberius het besef dat almal sou sterf wanneer die patrollie die Keiserlike Vesting bereik, en alhoewel alles in hom hom gewaarsku het om by hulle verby te ry, het hy ná jare van ballingskap gesmag na kameraadskap. Hy het die element van verrassing tot sy voordeel gebruik en teen ’n hoë spoed tot teenaan die wa gekom. Toe hy reg langs die wa was, het hy van sy motorfiets afgespring en die wa probeer stuit. Hy het twee gemodifiseerde 44.Magnums uitgepluk.

Tiberius het skote op die wagte afgevuur, wetende dat hulle die Reg van Nietigverklaring volg en al die gevangenes sou doodmaak. Die doel van sy aanval was om die roete na die bandietvesting van Muzzaffarabad te verander, een van die min plekke waar hy geweet het hy welkom was.

Toe hy die laaste wag vermoor, besef Tiberius dat hy ’n gruwelike fout gemaak het. Sy familiewapen is op die basisse van al die koeëls wat hy gebruik het. Dit sal die Ryk volmag gee om hulle legioene te stuur om hom gevange te neem en in kettings voor die Keiserlike Raad te bring. Hy was nie bereid om die paar vriende wat hy nog gehad het, se lewens in gevaar te stel nie. Hy het die wa gestop en die gevangenes bevry met aanwysings na die naaste stad. Hulle was verward. Almal behalwe een. Aurelius Johnson het homself aan Die Skadu bekendgestel en sy lewenslange lojaliteit en trou beloof. Tiberius het aanvanklik daarop aangedring dat Aurelius saam met die ander moes vlug, maar toe hy besef hoeveel hy gerespekteer en bewonder word, het hy dankbaar sy aanbod aanvaar.

Vir die volgende vier weke het Aurelius intense opleiding ondergaan. Hulle het van dorp tot dorp beweeg en tydens hul verblyf in die stad Dunhuang het hulle tyding ontvang van ’n groep rebelle wat op die rand van die Sentrale Chinese Uitvalsgrond wag. Hulle het die gerugte egter verwerp en ’n week aangebly in Dunhuang, waar Aurelius geleer het om sy 30.cal Jérigo-aanvalsgeweer te bemeester. Hulle ontsnap net-net uit ’n lokval wat die Keiserlike Legioene vir hulle gestel het.

Wetende dat hulle nêrens meer veilig is nie, vlug hulle na Lhasa, net om te besef dat die hele provinsie omring word deur die Keiserlike Legioene. Om deur te breek, sou ’n gewisse dood beteken, oorgee was nie ’n opsie nie en om deur die wildernis te beweeg, was bykans onmoontlik.

Tog het hulle gedink aan die gerugte van rebelle naby die wildernis, en hulle het besluit om die kans te waag. Die rand van die wildernis was bedek met ’n digte, suur mis wat die hoë radioaktiewe kristallynstrukture op die rivieroewer gekamoefleer het. Aan die ander kant het die woestyn uitgestrek gelê. Hulle het binne ’n honderd meter van die mistige oewer gebly, oortuig dat die Keiserlike Legioene hulle nie daar sou kom uitsnuffel nie. Later het hulle ’n mensgemaakte struktuur in die omtrek gewaar en aangeneem dat dit die rebelle moes wees, en het toe deur die mis soontoe gery. Die mis was hoogs gevaarlik en giftig en net toe hulle besluit om liewer om te draai, bereik hulle ’n heining omring deur geïoniseerde pyle wat die bestraling van die struktuur weghou.

Hulle sien ’n man in swart geklee by wat soos die ingang lyk.

Toe hulle stilhou, vra die man in swart in ’n bulderende stem: “Keiserlike of Harbinger?” Die Skadu antwoord: “Harbingers? Is julle die rebelle?” Die man antwoord: “Ons is die Harbingers wat die Ryk se ondergang gaan beteken; nou beantwoord die vraag!”

“Harbinger,” antwoord Die Skadu. “Ons wil graag by die rebellie aansluit.” Waarop die man antwoord: “Ons is altyd op soek na nuwe rekrute, maar eers moet julle getoets word.” Terwyl hy praat, het hy ’n koeël na Aurelius afgevuur en ’n kromswaard teen Tibernius se nek probeer druk. Die Skadu het die aanval gemaklik gesystap en die man het benoud na asem gesnak toe Aurelius se geweerkolf hom hard in die maag tref. Hy kyk op in die lope van twee 44.Magnums. “Indrukwekkend,” sê die man terwyl ’n hand vol swart geklede manne na vore tree. “Welkom by die rebellie.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top