WF 2012: Die pers botteltjie

  • 0

Dit is pikdonker. Die wind huil om die hoeke van die gebou. Die vloer is yskoud ...

Waar is ek?

Ek is so blind soos ’n mol sonder my bril. Ek voel-voel rondom my op soek na my bril.

Skielik gryp iemand my hand, maak my oë toe met ’n vuil, grillerige lap en stoot my in ’n stoel.

Vreesbevange maal vrae deur my kop. Waar is ek? Hoe het ek hier gekom? Ek kan hoegenaamd niks onthou nie!

“Waar is ek? Wat soek jy van my?”

Ek hoor net ’n snaakse geluid wat soos ’n radio klink wat sukkel om sein op te vang.

“Ek soek antwoorde! Hoekom is ek hier? Ek het nie ...”

Die lap word van my oë afgeruk ... en ek word verblind deur die skerp lig wat in my oë skyn. ’n Harde, swaar, koue hand gee vir my ’n voorwerp aan wat soos ’n  bril lyk. Teen die spoed van wit lig trek ek die voorwerp oor my oë.

Ek kon my oë nie glo nie.

Oral om my is een persoon, maar verskeie weergawes. Die een se mond sit waar sy oë moet wees, nog een se hande sit bo sy kop, wat soos horings lyk, ’n ander een se voete is waar sy hande moet wees.

Voor my staan ’n lang, slanke man met ’n ingenome glimlag wat na my  staar. Sy arms sowel as sy bene is metaalagtig, maar die res is vlees en bloed.

“Wat soek jy van my?”

“Laat ek my voorstel. Ek is professor Stoigometrie. Welkom in 2100!”

“2100?”

“Ja, jonge dame. Die era van ’n geriefliker, eenvoudiger, probleemvrye lewenstyl. Jy sien, my assistent het jou vanoggend op die vloer van my laboratorium gevind. Ek was in ekstase toe my assistent my roep, aangesien jy my sal kan help om my projek uiteindelik te vervolmaak. ’n Mens moet mos perfek wees, alhoewel ’n mens se dade nie altyd korrek is nie.”

“Wag, prof ... waarmee help?”

“Ek verduidelik gerus, maar dit sal dalk beter wees as ek eerder vir jou gaan wys. Hanggat, bring vir my die pienk boeie sodat ek die lieflike jong dame uit haar verknorsing kan help.”

In die verte kom ’n man aangeskarrel: nóg ’n weergawe ... Maar ek verstaan hoekom die professor hom Hanggat noem. Iets moes drasties vekeerd gegaan het, aangesien sy boude tot op sy voete hang!

“Jy sien, jonge dame, ek het vir Gemsbok gevra om vir my bietjie in die argiewe te gaan krap om uit te vind watter beroep jy in die vroeë 21ste eeu beklee het. Hy het dit onder my aandag gebring dat jy ’n werk in die wetenskap beklee het.”

“Ek verstaan nog steeds nie hoe ek Professor kan help nie.”

Ons staan voor ’n groot, hoë, grys deur. Hy haal ’n bos sleutels uit waarop daar meer sleutels is as die getal dae in ’n jaar. Ek is so dankbaar ek hoef nie die sleutel uit te ken nie, aangesien ek ’n blondine is, maar tot my verbasing is dit eintlik nie sleutels nie. Dit is klein rekenaarskyfies wat hy by die deur indruk. Dit lyk soos ’n deurknop, maar eintlik het dit ’n klein rekenaarskermpie aan die binnekant.

Niks kon my voorberei op wat volgende gebeur nie.

Die deur maak ’n klikgeluid en gaan stadig oop ...

In die vertrek is daar massiewe tenks met voete, arms, bolywe, bene en arms in ... maar niks lyk normaal nie.

“Ek kon nog nooit die regte kombinasie van chemikalieë bymekaargooi om ’n perfekte kloon te maak nie en ek het gedink jy kan my dalk help, aangesien jy ’n wetenskapagtergrond het. Jy kan dalk agterkom wat ek verkeerd doen.”

Ek is nog in verwondering oor die klomp liggaamsdele toe ek besef wat hy vra. Ek is stomgeslaan!

“Professor, ek werk maar ’n skrale jaar al in die labratorium. Ek weet nie hoe ek u kan help nie. Buitendien, ek wil nie betrokke raak by onheilige dinge soos kloning nie! Ek glo nie daaraan nie. Ek is jammer, Professor!”

Die professor gaan staan botstil en ’n stilte daal oor die vertrek. Hy word briesend kwaad – dit lyk of stoom binnekort by sy ore gaan uitkom soos hy oorkook van woede. Hy gryp my aan my arm dat ek ineenkrimp van die pyn. Hy kan seker nie nee vir ’n antwoord vat nie.

“Jy het nie ’n keuse nie, jonge dame. Jy is in my era, my laboratorium; jy sal doen wat ek sê! Óf jy help my om my kombinasie te vervolmaak, óf jy sien nooit weer die buitekant van hierdie gebou nie!”

Sy hande word al hoe stywer om my arm; ek kan skaars my woorde uitkry.

“Prof ... Professor gee my nie veel van ’n keuse nie. Ek sal kyk wat ek kan doen, maar ek belowe nie resultate nie.”

“Goeie besluit, goeie besluit. Hanggat, vat haar na die onderste laboratorium, sy sal daar in vrede kan werk.”

                                                                   ***

Dit is koud, donker en eensaam. Ek werk al vir drie dae aaneen en ek kry nie die regte kombinasie nie. Dan sit die oë waar die mond moet wees of die bene is waar die arms moet wees, of die ergste nog, ek kry net ’n voet! Ek is moedeloos, raadop! Ek wens net daar was iemand wat my kon help om uit te vind wat die professor eintlik beplan ...

“Hy wil nie jou insae hê nie. Hy wil jou oopsny en kyk hoe jy saamgestel is om te kyk wat hy verkeerd doen. Hy wil jou gebruik om sy kombinasie te vervolmaak.”

“Wie het dit gesê?”

“Dit maak nie saak nie. Luister net na my. Vat die klein pers botteltjie op die regterkantste rak skuins agter jou. Dit sal jou aan die slaap maak en jou terugvat na die 21ste eeu. Net ’n deursigtige kloon sal agterbly. Maar jy moet vinnig maak – ek hoor voetstappe.”

Ek gryp die botteltjie eers ’n bietjie huiwerig, maar ek is desperaat. Ek vat een groot sluk ... Alles word waserig ... deurskynend.

Die son skyn helder; ek lê warm in my bed.

My bril is op my oë.

Ek wonder wat maak die pers botteltjie in my hand.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top