Die eerste oggendstrale kruip deur die venster toe hy sy dowwe oë wakker vryf. Pynlike snikke en hoesgeluide hang swaar in die dik, vogtige atmosfeer. Hy hef sy seer lyf op en loop suutjies tussen die matrasse deur, wat die saal se vloer vol lê.
Met ’n kreun en ’n geskud hoor hy hoe die water deur die pype sukkel en uiteindelik by die kraan uit spoeg. Hy was sy gesig en kyk na homself in die gekraakte spieël. Hy is maar net nog een van die mense wat nie ’n ander keuse het as om in hierdie veiligheidsaal te bly nie. Hoe kan die mens so gevorderd en tog so primitief wees?
Die wêreld is nie meer dít wat hy in die verlede geken het nie. Die uitputting van die meeste fossielbrandstowwe in die negentien-negentigs het daartoe gelei dat elke land se regering slegs een gierige behoefte het: energie. Die behoefte is so groot dat dit bevredig moet word, al sou dit beteken dat dit deur die benadeling van hul eie medemens geskied.
Hy skud sy kop toe hy vanaf sy gedagtes na die werklikheid terugkeer en weer die beeld van homself in die spieël sien. Voordat hy weer daaraan begin dink, draai hy om en haal sy veiligheidspak uit die kas. Sy vingers tik vanself die sekuriteitskode in en meteens verander die toegangstatusliggie van die pak van rooi na groen. Terwyl hy die pak, wat effens te groot is, aantrek, dink hy aan die dag toe hy dit van die lyk van ’n Rooipartysoldaat gesteel het.
Die geluid van sy eie asemhaling vul die helm en gasmasker van die pak terwyl hy na die voorste portaal van die veiligheidsaal stap. Die outomatiese toegangmasjien skandeer sy oog en die deur kreun oop. Die bekende, sieklike walm tref hom soos ’n muur, maar hy druk deur en vaar die duisternis in.
Hy sal nooit die dag toe hy van die nuus gehoor het, vergeet nie. Sy goeie vriend, wat ’n soldaat van die Geelparty is, het dit aan hom vertel nadat hy ’n gesprek van sy seniors afgeluister het. Ongeveer ses jaar gelede het die Portugese argeoloog Alberto Meireles diep onder die Nyiragongo-vulkaan iets merkwaardigs waargeneem. Die uiterste temperature en hoë druk, tesame met ’n prehistoriese edelgesteente wat nêrens anders in die wêreld te sien is nie, het tot die skepping van ’n nuwe element gelei.
Meireles het die element na homself vernoem en een jaar later is tegnologie ontwikkel wat ongekende volhoubare energie vanuit meirelium kan put. Die nuus van die geheime element het egter sy pad na die politieke partye van die land gevind en kort daarna is die Rooiparty en Geelparty in ’n titaniese stryd vasgevang met die hoop om die mynregte vir meirelium te bekom.
Die belofte van oneindige rykdom vir die uitvoer van die skaarsste hulpbron ter wêreld het die land se diktators van al hul sinne beroof. Grootskaalse uitwissing van enige ondersteuner van die vyandige party het plaasgevind. Konvensionele wapens was egter nie genoeg nie, en die politieke partye het hul oplossing in die donker huursoldaatgroep, die Skerpioene, gevind. Met nuwe wapens van ongekende krag is die partye se verwoesting tot ’n nuwe vlak geneem. Gewere en koeëls is verruil vir chemiese wapens, wat siektes en dood oor die hele land gelaat het.
Die buitekant van ’n gebou begin tussen die dik mis vorm. Die outomatiese lasergewere tel sy beweging op en draai na sy kant toe, maar die frekwensie wat sy veiligheidspak uitstraal, laat hul weer na hul oorspronklike posisies terugkeer. Hy klop teen die deur in die geheime ritme – nie alles hoef deur tegnologie beheer te word nie. Die deur kraak oop en hy tree die Rebellegroep se hoofkwartier binne.
“Arthur Lwu, ek het gehoor jy is amper dood in die onlangse plaag!” Sy ou vriend se gesig steek nie sy verbasing weg nie, maar tog kan Arthur sien hy is bly. Die twee mans stap na die groot saal, waar die Rebellegroep in doodse stilte in afwagting sit. Arthur tree voor die mikrofoon in en haal diep asem.
“Mans en vroue van die Rebellegroep. Vandag staan ek, Arthur Lwu, voor julle met een doel – die doel wat ons almal gemeen het. Vandag is die dag wat ons die wêreld bewus maak van die onsin wat in ons midde is. Vandag is die dag wat ons na die Nyiragongo-myn gaan en die wêreld wys dat daar beskikbare energie is en dat nie slegs die rykes in gemak hoef te leef nie!”
Die Rebellegroep vaar die mis in vir die twee kilometer lange staptog na die Nyiragongo-myn. Een uur later bevind Arthur hom presies waar hy verwag het hy sou wees: in die middel van ’n bloeddorstige geveg.
Die grond lê besoedel met die rokende lyke van mans en vroue wat met lasergewere geskiet is. Die Rebellegroep dring die myn deur die sekuriteitsdeure binne, alhoewel meer as die helfte van die mag reeds dood is. Nét een elektroniese inligtingsdokument moet as bewys aan die VN gestuur word en alles sal verby wees.
Arthur sien die sentrale beheerkamer waar die inligtingsdokument is. Terwyl die res van die Rebellegroep die vyandige mag op ’n afstand hou, skakel hy sy kriptiese-kode-ontleder in die deur van die beheerkamer in. Tien sekondes later skuif die deure oop. Sy vingers is dom van die adrenalien en hy sukkel om die inligtingsdokument op die geprojekteerde skerm te vind.
Die laaste Rebellesoldaat word geskiet en die sekuriteitsmag pyl op Arthur af. Hy het dit! Sy vinger skuif na die knoppie toe wat ’n lewe vir sy kinders sal verseker. ’n Brandende skoot tref sy sy en hy sak tot op die grond. Sy bewussyn verdof toe hy na die gat in sy liggaam kyk.
Die stem van ’n nasie se kinders vul sy hele wese en met die laaste krag in sy liggaam druk hy die knoppie in.
Hy val op die grond neer en glimlag toe die laaste skoot hom tref.

