WF 2012: Die laaste man op aarde

  • 0

Pieter word wakker toe die son se strale deur die gordyne in sy kamer skyn. Dit is die eerste keer in ’n baie lang tyd wat die son skyn; gewoonlik is die lug buite net vogtig en mistig.

Hy staan op en kyk of hy nog genoeg kos in voorraad het vir die  maand. Hy het besluit om nou net in een kamer te bly. Hy vind dit makliker en voel dan minder alleen. Die vuur wat hy die vorige nag gemaak het, gloei nog en hy besluit om nog hout by te voeg om die vlamme en die vuur aan die gang te kry. Hy sal later die vuur benodig as hy vir hom wil kos kook, maar besluit om vir eers net ’n blikkie perskes vir ontbyt te eet. Daar is net ’n paar blikkies kos oor en toe hy die laaste bietjie sap direk uit die blikkie drink, besef hy dat hy vandag nog blikkieskos sal moet koop.

Pieter gaan sit agter sy lessenaar en skakel die rekenaar aan. Hy doen dit nou al baie minder om die battery te spaar. Hy het nog vaagweg hoop dat hy op ’n manier met iemand wat ook lewend op aarde is, sal kan kontak maak, daarom het hy aanhou probeer. Hy gaan op al die normale sosiale netwerke, maar daar is geen nuwe inskrywings nie, behalwe vir sy laaste een. Die feit dat niemand reageer nie, maak hom benoud oor die moontlikheid dat hy die laaste man op aarde kan wees. Aan die ander kant is hy nie goed met rekenaars nie. Alhoewel hy die vak op skool geneem het, het hy meer in sport en meisies belanggestel. Kan dit wees? Kan hy regtig die enigste persoon wees wat oorleef het?

Toe hy die rekenaar afskakel, staan hy op om sy rugsak te kry en begin stap om sy maandelikse inkopies te doen. Hy verlaat die huis en stap in Gadelstraat af met vensters wat met dooie oë na hom staar. Dit is doodstil. Mev Nell se tuin, wat op ’n tyd baie vreugde aan hom verskaf het, lyk nou wild en onversorg. Hy kan nog goed onthou hoe mnr Nell elke Sondag agtuur die gras gesny het. Dit voel asof die stilte hom spot. Was vandag Sondag? Hy het ophou tred hou met datums en dae. Pieter het aangeneem dit is nie meer belangrik nie.

Die supermark se donker vensters groet hom. Ten spyte van wat gebeur het, voel hy nog steeds nie gemaklik daarmee om produkte en blikkieskos te vat sonder om te betaal nie. Maar daar is niemand om hom aan te kla of geld te vra nie. Hy wens daar was, maar dit bly doodstil. Terwyl hy ronddwaal en sy rugsak vol blikkies en kos pak, dink hy terug aan die dag wat alles veroorsaak het. Al wat hy kan onthou, is dat hy in die hospitaal wakker geword het sonder enige lewendige siel rondom hom. Hy dink net dat geen tweede lewe soos dit kan wees nie – daar moet iets wees; daar moet meer wees. Nie net hy en die stilte nie. Toe sy rugsak vol is, vat hy die pad terug huis toe.

Pieter kom by die huis aan en hou hom besig deur sy rugsak uit te pak en sy enigste warm maaltyd van die dag te maak en te eet. Ten minste hoef hy nie meer oor skottelgoed te stres nie – hy eet sommer direk uit die blikkies en gooi dit dan waar daar eens grond was in sy agterplaas.

Toe die son verdwyn en dit nag raak, het hy dit oorweeg om vir die eerste keer in sy lewe ’n boek te lees, maar besluit toe om eerder sy rekenaar aan te skakel en te kyk of vandag die dag sal wees wat hy iemand vind wat nog lewe.

Dit is nie vyf minute nie. Skielik verskyn daar ’n boodskap voor hom op sy rekenaarskerm:

"Hallo, wie is jy?"

"Pieter. Jy?"

"Evelin. Waar is jy?"

"Kaapstad. Jy?"

"Weskus."

Dit voel vir hom so ver weg. Hy wonder net hoeveel dae dit hom sal neem om tot daar te stap en hoe lank hy buite in die ope sal moet wees. Die feit dat hierdie vrou bestaan, verskaf steeds gemak aan hom en hy besef nou hy is nie alleen nie.

’n Paar vrae later.

"Is jy alleen?"

"Ja."

"Is jy beseer?"

"Nee."

"Het jy al enigiemand anders gesien?"

"Nee."

Hulle het albei ooreengestem om die volgende dag weer te praat en vir eers te gaan slaap.

Die volgende dag word Pieter wakker met ’n gevoel van hoop en opwinding. Hy kan nie onthou wanneer laas hy so gevoel het nie. Alhoewel dit koud en mistig is, voel hy positief. Die weer het hom nog meer alleen laat voel, maar toe onthou hy van Evelin en voel asof daar wel hoop is vir hom.

Daardie aand nadat hy sy geblikte maaltyd en vrugte geëet het, skakel hy sy rekenaar aan en wag ongeduldig vir Evelin om met hom te praat. Terwyl hy wag, het hy begin wonder hoe sy lyk. Hy weet dit maak nie saak nie, maar sy gedagtes het net aanhou dwaal. Hy wonder waar sy is. Hoe lyk haar huis? Is sy veilig? Bestaan sy ooit, of droom hy?

Toe skielik: "Hallo."

Verligting het oorgeneem toe sy hom groet en hy op haar boodskap geantwoord het. Hy het haar vertel van sy besorgdheid. Sy het net gelag en hom verseker dat sy reg is en niks oorgekom het nie. Hulle het lank gesels en later begin grappe maak oor die groot dag van die ramp, en die feit dat net hulle oorgebly het. Dit voel vreemd om daaroor te lag, maar dit het verligting verskaf.

Hulle het gepraat oor hulle lewens voor die groot ramp. Hy was ’n joernalis en sy was ’n dokter. Hy het krieket gespeel, wat sy haat, en sy is mal oor dans, terwyl hy twee linkervoete het as dit daarby kom. Die gesprek het net aangehou en daardie aand het hulle albei vir die eerste keer in ’n jaar met ’n glimlag op hulle gesigte gaan slaap.

Hy het die volgende dag, vandat hy opgestaan het, uitgesien daarna om weer met Evelyn te gesels soos wat hulle afgespreek het hulle daardie aand weer sou doen. Hy het sy aandag van haar probeer aftrek deur weer te gaan stap, kos te koop en hout vir die vuur bymekaar te maak, maar kon haar nie uit sy gedagtes kry nie. Hy het gedagdroom oor haar en gewonder wat sy sou maak as hy by haar in die Weskus gaan kuier. Kan dit wees? het hy gewonder. Is dit moontlik om op iemand verlief te wees wat jy nog nooit ontmoet het nie? Hy dink toe: as daar ‘n moontlikheid is dat sy daar buite is en nog lewe, moet daar ander oorlewendes ook wees.

Die tyd het uiteindelik aangebreek en hy skakel sy rekenaar aan en tik in  "Hi". Hy het iets soos "Hi, lief" oorweeg, maar wou haar nie afskrik nie. Terwyl die tyd aanloop, staar hy na die skerm en wag vir haar om op sy boodskap te reageer, maar steeds niks nie. Hy raak moeg daarvoor om heeltyd na die skerm te staar en besluit om dit vir die res van die nag af te skakel. Sy kop oorstroom met gedagtes oor wat moontlik met haar kon gebeur het. Hy dwing homself om te slaap.

Die volgende oggend het die son se strale, wat helder deur sy dun gordyne skyn, weer vir Pieter laat wakker word. Hy staan op, gooi nog hout op die vuur en maak ’n blikkie perskes oop vir ontbyt. Hy sit toe en skakel sy rekenaar aan. Hy volg sy gewone ritueel en kyk na al die sosiale netwerke en verskillende webtuistes op soek na ’n reaksie of ’n antwoord. Toe hy op die webtuiste van die vorige aand kom,  het sy laaste gesprek met Evelyn voor hom op die rekenaarskerm verskyn. Hy het net geglimlag en teruggedink aan wat sy en haar gesprekke vir hom beteken het. Hy gaan haar mis. Pieter sal net weer gewoond moet raak aan die idee van alleen wees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top