21 Desember 2012, 02:12. My pa is op pad Kaïro toe om in die piramides te gaan werk. My pa kon nog nooit vir my sê watter werk hy doen nie; hy het maar altyd gesê hy is ’n toergids, maar ek het geweet daar is ’n skerpioen in die sand.
Daardie aand het hy vir my ma gesê dat hy nie by die huis sal wees nie, want daar is ’n krisis by die werk. Ek maak toe ’n flou verskoning dat ek grieperig voel en net in my kamer sal wees vir die res van die aand. Ek het al maande terug gesien hoe my pa met hiërogliewe op die internet peuter. Ek het sy skootrekenaar gesteel en op sy laaste webwerf gaan soek. Toe ek op die dokument klik, spring daar ’n klomp snaakse letters op die werkskerm. Ek herken toe hier en daar ’n paar van die beelde. Pa het altyd met die Egipiese figure in die Bybelse tyd gespook. Van die snaaksste mense met die dierkoppe wat voor die beeldskone vrou buig wat in bokmelk gebad het. Ugh! Ek dink haar naam was Nefritata of Nefrititi of so iets. Ek het in sy dagboek gesien dat hy vanaand iets spesiaals moet gaan doen.
Nadat my pa gery het, vat ek toe my rugsak en motorfiets en volg hom. My pa se praktyk is net langs die piramides, maar hy het tot by die piramides gery. Met die sandwolk wat hom insluk, volg ek hom tot in ’n groot motorhuis binne-in die piramide. My pa vat die hysbak tot op die punt. Ek kruip toe agter ’n deur weg en luister die gesprek af. “Ek het dit by my ... Sal dit werk?” vra my pa. “Gee dit vir my, meneer Khalif,” sê ’n diep stem. Al wat ek toe hoor, is ’n geweerskoot.
Ek hoor toe hulle voetstappe naderkom. Ek kon nie beweeg nie. Al wat ek by my gehad het, was die mes wat my oupa vir my gegee het. Toe hulle verby my geloop het, het hulle in ’n snaakse taal gepraat, iets wat ek nog nie tevore teëgekom het nie. Ek volg hulle by die deur uit tot buite die piramide. Die stel trappe vat jou tot by die punt van die piramide. Ek waag dit om by die teenoorgestelde kant van die piramide as hulle te staan. Ek hoor weer snaakse geluide wat klink soos klippe wat teen mekaar skuur en toe sien ek hoe die toppunt van die piramide begin oopmaak.
Dit was al pikdonker. Skielik sien ek hoe wolke vorm en ’n groot tornado op pad na ons toe, maar die snaakse ding van hierdie tornado was dat dit soos ’n groot stofsuier is. Dit het al die sand rondom die piramides en die sfinks opgesuig totdat daar net groot marmerplate met snaakse patrone oorgebly het.
Ek sien toe vreemde vlieënde voorwerpe uit die tornado verskyn en bo ons tot stilstand kom. Die mense wat my pa vermoor het, was toe een van dié kreature. Die tornado verpletter alles wat in sy pad kom. Op elke piramide se toppunt het ’n helder lig geskyn wat meer van die vlieënde voorwerpe gebring het en oor die hele Egipte gestuur het. Die ander meer menslike kreature het vir die kreature in die vlieënde voorwerpe goud aangebied.
Ek bestudeer toe die hiërogliewe op die klippe en sien ’n skets van ’n mes wat een van die Egiptiese gode in sy hand gehad het. Ek herken die patrone op die mes. Ek haal my mes uit, vergelyk dit en sien dat dit presies dieselfde is! Terwyl ek nog met bewondering na my mes staar, het een van die kreature my gesien en my bestorm. Ek mik na die gedierte se keelgat en sien net hoe sy kop afrol by die piramide met blou vloeistof wat daaruit spuit. Ek veg totdat ek by die plek kom waar die piramide se punt skyn. Toe ek weer sien, is daar ’n dosyn kreature met pikswart ovaal oë wat my bestorm. Een van hulle gryp my en gooi my van die trap van die piramide af. My mes steek by ’n gleuf vas, en dit keer toe dat ek my morsdood val.
Skielik begin die piramide skud en daar verskyn ’n kraak op die marmerplate langs die piramides. Ek sien toe honderde figure wat deur die marmer breek. Die figure wat by die piramide opgeklim het, was dié wat die dier se koppe gehad het met die mens se lyf. Iemand verskyn toe langs my. Die mooiste vrou wat ek in my lewe nog gesien het, kyk na my en knik haar kop in respek. “Salaam malikum, Ravi. Ek is Nefretiti. Ek dank jou dat jy die farao se mes in die piramide gesteek het om vir my en my soldate se hulp teen ons oervyande te vra. Ek sal dit van hier af vat,” sê sy. Haar elegante wit rok waai in die wind van die tornado. Met een handgebaar het sy die tornado stilgemaak en al die vernietiging wat dit veroorsaak het, herstel. Al die sand het weer aan die woestyn behoort. Haar soldate val toe die kreature en hul vlieënde voorwerpe aan.
Na die geveg het al die kreature teruggevlug na hul dimensies. Nefretiti het my oupa, nou blykbaar die farao, se mes uit sy gleuf gepluk. Elke piramide se toppunt het weer toegegaan en al die dierkop-soldate het weer in die sand verdwyn. Net voordat Nefretiti verdwyn het, het sy my op my voorkop gesoen. Toe sy my gesoen het, het dit gevoel asof die aarde se swaartekrag my neergedruk het en my knieë onder my uitgeslaan het.
22 Desember 2012, 09:35. Ek skrik wakker en kyk verward rondom my. Ek kom in die kombuis en sien my ma en pa wat aan tafel sit en eet. “Pappa! Is dit werklik jy?” vra ek verbaas en hardloop na hom toe. “Hoe hard het jy jou kop gestamp?” vra my ma spottend. My ma vertel my toe dat my pa gister twee ouens uitgevang het wat goud gesteel het. My pa vertel toe dat een van die ouens my seker met die deur teen die kop moes gekap het.
“Waarom het jy lipstiffie op jou voorkop?” vra my ma nuuskierig. “Dis ’n lang storie,” antwoord ek en glimlag.

