WF 2012: Die geheimsinnige pers gloed

  • 0

Prrr! Ek kan nie glo dat my wekker nou al lui nie. Kan dit wees? Ja, dis sowaar al sewe-uur! Ek moet dadelik opstaan as ek betyds by die viswaters wil wees. Ek strompel Ma se kamer binne. “Ma! Maaa! Kan ons asseblief ry? Nico wag!”

Ag nee! Ek glo dit nie! Ma het so pas haar verjongingsgesigmasker aangesmeer. Dit kan ure duur! Vies stap ek na my kamer en plons op die mat neer. Vererg lê ek met die tossels en speel. Skielik gewaar ek Ou Piet, Boeta se witmuis, uit die hoek van my oog. Hy’t sowaar weer die pad gevat. Arme ding is stokoud. Ek beter hom terugvat voordat Wimpers, ons gemmerkat, hom beetkry. Dit sal nie juis skade wees nie. Ou Piet is ’n fossiel. Hy kan van sy pyn en skete verlos word.

Hy gaan ewe gedwee sit dat ek hom kan optel. Ek kyk ’n oomblik na die beplooide muisgesiggie, yl haartjies, dowwe ogies, krom beentjies en toontjies sonder naels. Sê nou net ek kan iets ontdek wat Ou Piet weer jonk kan maak, of Ma se plooie kan wegvat. Dink net hoe beroemd sal ek wees. Dr Tertius Smit, die gesogte verjongingskuurwetenskaplike!

Ek gaan sit voor my rekenaar, die visvang lankal vergete. Daar is nou belangriker dinge om te doen. My vingers beweeg flink oor die knoppies. Kom ons kyk: verjongingsrome, bestanddele, navorsing … al die inligting laat my kop draai! Ek klik op navorsing. Ek lees verder. Die wortelsap van die noko-plant kan moontlik gebruik word in die behandeling van ouer bome om totale veroudering teë te werk. Die veiligheid en sukses daarvan is egter nog nie bewys nie.

Wat van … ? Verjonging in mense of diere? Navorsing: dag na dag en week na week sit ek agter die rekenaar. Tot my verbasing kom ek eendag agter dat die vreemde bossies in ons agterjaart die ware Jakob is! Glo dit of nie: die einste noko-plant! Kan een mens só gelukkig wees?

Hande vol noko-plantwortels word in Ma se knoffelpers fyngedruk. ’n Vreemde pers vloeistof syfer deur. Dit ruik soos gemmer en lemoen. Ek begin my bedenkinge hê … Sal dié pers goed nou die ding dóén? Ek gaan Ou Piet as “proefmuis” gebruik. Dalk is dit giftig. Hy ís darem al baie oud …

Versigtig suig ek ’n paar druppels in ’n druppertjie op en spuit dit in sy mond. Ek hou hom fyn dop. Dit lyk nie juis asof iets gebeur nie. Ek sit hom maar terug. Nou net geduldig wag en kyk – miskien … miskien nie?

Vroeg die volgende oggend storm Boeta my kamer binne. Sy oë is so groot soos gholfballe. “Ouboet, kom kyk! Iets snaaks het met Ou Piet gebeur!” Ek bewe. Hoop nie hy’t die emmer geskop nie! Wat gaan ek vir Boeta sê? Hy’s tog só lief vir daai muis!

Ek storm sy kamer binne. Daar sit hy, sowaar nog lewendig. “Wat’s fout?” vra ek huiwerig. Ek kyk aandagtig na Ou Piet. Sy rimpelgesiggie is sowaar glad, sy ogies blink, en hy’t selfs weer toonnaels! Verbeel ek my, of het hy ’n vreemde pers gloed? Ek sal vanaand kyk as Boeta slaap. Of sy stert skyn … Stadig trek ek my skouers op en probeer onskuldig voorkom. My linkeroog spring-spring vreemd, soos wat dit altyd maak as ek nie heeltemal eerlik is nie. Boeta ken my té goed: “Toe nou, wat het jy hier aangevang?” Kortasem vertel ek hom die hele storie. Ek het stilstuipe verwag, maar verbasend genoeg is hy net so opgewonde soos ek.

Middernag sluip ek stilletjies Boeta se kamer binne. Maak die deur versigtig oop. ’n Pers gloed kom op my afgehardloop. Boeglam skakel ek die lig aan. Dis Ou Piet. Die pers woemasap het hom met een sprong oor die glashokkie laat spring.

Later het ons te ongeduldig geword en sy vordering was te stadig na ons sin. ’n Dubbele dosis konsentraat. Dit sou die ding doen. Dit het gewerk en ’n uur daarna het sy beentjies pylreguit geskop, sy nuwe lyfie in die rondte getol en toe’t hy begin hol.

Opgewonde vertel ons vir Ma die hele storie. Eers was sy erg geskok; toe begin sy die muis van ’n kant af bekyk. “Ja, sowaar,” sê sy. “Julle het ’n wenresep hier beet!” Ek kyk na Ma se beplooide gesig, en wonder of ons tóg nie maar moet probeer nie. Ou Piet is dan springlewendig! Dalk ’n paar druppels verjongingsap in haar tee … Boeta lees my gedagtes. “Wat? Is jy mal? Sê nou net … Nee, ek wil nie eers daaraan dink nie. Kom ons kyk eers hoe vorder Ou Piet.”

Ma kan haar nie beteuel nie. Skielik gryp sy die druppertjie en hol  badkamer toe. Ons sit haar benoud agterna. Sy is besig om die pers vloeistof op ’n watte te drup en aan die diep kraakpootplooie langs haar oë te smeer. Eers die linkerkant: die plooie om haar linkermondhoek en die papperige linkerwangvel. Ek vra verskrik: “Wat dóén Ma?” Met dié kom pers Piet om die hoek tussen my bene deurgehardloop. ’n Tree van my af steek hy skielik vas … Sy oë verkleur pers, sy mond is wyd oopgesper. Pers spoeg drup op sy toonnaels en voor ek kan sê “muis”, slaan hy neer, rol ’n slag om en skop ’n paar keer styf. Morsdood!

Ma gil en laat paniekerig die glasdruppertjie op die teëlvloer val. Die glas spat aan skerwe en orals waar die noko-sap land, skyn die wit vloerteëls pragtig pers … Ek en Boeta kyk na mekaar en toe na Ma. O hel ...!

Ma kyk verbysterd na ons twee. ’n Koue rilling gaan deur my lyf toe ek haar gesig sien. Sy draai haar kop stadig na die spieël, oë stokstyf toegeknyp. Ons haal skaars asem. Die linkerkant van haar gesig lyk soos ons skool se pragtige hoofmeisie, en die regterkant soos ons kwaai biblioteekjuffrou sin.

Ma bars gillend in trane uit! Ons maak ons vinnig uit die voete en kruip sommer al twee onder my bed weg. As Pa kom …

Ons het nie geweet hoekom Ma huil nie. Was dit van blydskap omdat die noko-sap werk, of is haar gesig permanent skeefgetrek? Ons hoor hoe Ma Pa histeries bel. Hy moet hom huis toe haas. Vergeet van sy gholfklubvergadering. Ons het haar nog nooit so hoor huil nie.

Vyftien minute later storm Pa die huis binne, reguit badkamer toe. Skielik raak dit stil.

Ma begin giggel en lag van blydskap. Sy en Pa kom my kamer binne. Haar gesig is weer normaal! Daar het nog ’n traandruppel onder haar ken gehang. Dit tref my met ’n slag: Die teenmiddel vir die noko-sap is traanvog.

Ek en Boeta was so verlig! Een ding weet ek: My resep werk beslis.Ek gaan dit so gou moontlik patenteer en sommer sakke vol geld maak.

Dr Tertius Smit, die bekende verjongingskuurwetenskaplike, klink nou glad nie meer na so ’n onmoontlike droom nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top