WF 2012: Die eksperimente

  • 0

Die geklik-klik-klik van haar hakke weergalm deur die rye verlate kantore. Sy loop verby ’n paar persoonlike besittings wat sommer so in die haas daar vergeet is en nou nog hier en daar rondlê. ’n Stoflagie gee die gebou ’n onheilspellende gevoel. Daar was lanklaas enige menslike aktiwiteit in hierdie area.

Area 19.

Soos dit deesdae bekend staan.

Dit word gebruik as die span se rookskerm vir wanneer daar uitsonderings is. Soos vandag …

Die vrou kom tot stilstand voor ’n weggesteekte kantoor. Die enigste een wat nog gebruik word.

Stadig lig die man agter die tafel sy kop. Professor Perelli, of eerder Meester, soos hy aan die res van die span bekend staan. Hy kyk lank na die donkerkopvrou wat gespanne en uiters bekommerd voor hom staan. Mens kan sien sy het gejaag om by hom uit te kom. Perelli het haar nog nooit met haar laboratoriumjas in hierdie deel van die gebou gesien nie, het haar nog nooit ’n fout soos hierdie sien maak nie.

“Ek het jou gewaarsku, Jenna! As hier nou iemand moes inkom …”

“Hulle het gekom, Perelli! Ons het die proses klaar begin; dit is onmoontlik om dit alles nou te stop! Die onderwerp sal doodgaan. Ons sal drie jaar se werk en eksperimente verloor!”

“Ons het tog seker gemaak … na die tye gekyk. Hoeveel keer! Ons sal dadelik al die ander uit die weg moet ruim. As hulle iets laat lek … Ons kan miljoene verloor!”

“Kom, Perelli, dit help tog nie nou om hier rond te staan nie! Ons sal dadelik die Noodoperasie moet uitvoer! Ons het tog nog heeltyd geweet daar is ’n moontlikheid …”

Perelli oorweeg al die moontlikhede terwyl hy stadig maar seker opstaan. Hy hoor Jenna oor ou bokse en papiere val terwyl sy probeer om die lang figuur voor haar in te haal. Daar is ’n vasberadenheid aan sy stap op pad na die laboratorium toe. Hy weet hy sal die plan moet uitvoer, al is dit ook hoe erg. Hy probeer om nie aan sy emosies te dink terwyl hy verby die saal loop nie. Die reuk van brandende lyke hang dig in die lug. Hy weet as hy nou regs kyk, sal hy die oonde sien, daar vir slegs een doel: om ontslae te raak van alle lastige oorblyfsels.

Hy herinner hom aan dit waarvoor hy hier is.

“Nou is nie die tyd vir emosies nie, Perelli!” raas hy saggies met homself.

Die reuk van ontsmettingsmiddel en bloed raak al hoe skerper hoe nader hy aan die laboratorium kom.  Hy haal diep asem en fokus op die aanhoudende klik-klak van Jenna se skoene oor die sementvloer.

Dit is nou of nooit.

Met nuutgevonde krag stoot hy die bekende grys deur oop. Hy was al ’n duisend maal hier, maar hierdie keer is anders.

Hy voel die spanning in die lug en hoor hoe Jenna haar asem skerp intrek wanneer hy die wag by die deur aan sy keel gryp. Die man probeer loskom uit sy greep. Hy spartel terwyl al die kleur sy gesig stelselmatig verlaat. Wanneer die man uiteindelik ophou terugveg, gooi Perelli hom teen die deur.

Hoe nader Perelli aan die nuutste projek kom, hoe vinniger begin sy hart klop. Hy kom voor ’n koue, grys staaltafel tot stilstand. Die Projek lê voor hom: ’n meisie, seker dertien jaar oud. Sy is so bleek soos ’n lyk, maar tog weet Perelli hy het nog niks om oor bekommerd te wees nie. Sy is net besig om te rus ... om reg te maak vir Die Taak, die rede waarvoor sy ontwerp is.

As die wêreld tog maar net weet hoe waardevol sy is, hoeveel sy vir die toekoms van die mensdom kan beteken. Behalwe vir die feit dat sy geniaal is, is sy ook gebou vir gevegte, gebou om sy vyande uit te roei.

Perelli troos hom daaraan dat die president hom sou bedank as hy maar net geweet het van al die eksperimente wat hy onder sy neus uitvoer.

Die meisie was by verre hulle tydrowendste, maar suksesvolste projek. Perelli het amper soos ’n pa vir hierdie geneties manipuleerde skepping van hom geword, al sou hy dit nooit waag om dit te erken nie.

Hy ruk hom reg en fokus op dit wat belangrik is.

“Kom nou, Perelli, ruk jou reg. Die ander noem jou nie verniet Meester nie!”

“Wat sê jy?”

“Genade, Jenna, maak jou handig, man! Bêre die projek. Jy ken die prosedure. Mens sou nie dink ek het jou byna twee jaar lank opgelei vir die posisie nie!”

Perelli loop na die gebou se beheerpaneel. Nou moet hy net daardie knoppie kry, die een waaroor sy werkers nie ingelig is nie. As mens wil oorleef, moet jy voorbereid wees.

Al die werkers is in die aangrensende vertrek, saamgeroep vir ’n noodoperasie: hulle dood. Sonder om te dink, druk hy die versteekte rooi knoppie en hy weet binne ’n paar sekondes sal almal vergas word. Hy troos hom aan die feit dat hulle vir ’n goeie doel sterf.

Hy weet die lyke sal later verwyder word. Geen bewyse.

Hy kan dit nie help om diep te sug nie. Hoe het hy opgeëindig met sulke breinlose robotte van mense?! Hy belowe homself om ná die situasie ’n hele paar opknappings aan Die Projek te maak.

Hierdie is die aakligste deel: die afwagting van iets groots. Iets wat so lankal beplan is, maar tog nog onverwags voel.

Hy kyk na sy horlosie; dis amper tyd. Hy lig sy wenkbrou wanneer hy die geluid van voetstappe in die gang hoor. Hy wag. En wag.

Simpel idiote! Verwag hulle regtig hy sou als net so vir hulle los sodat hulle daarop kan afkom en homself boonop nie eers verdedig nie?!

Belaglik!

Hulle tydsberekening het hom nou wel ’n bietjie rondgegooi aangesien hy hulle eers môre verwag het. Maar die plan sal nog steeds werk. Noudat sy ou robotte uit die weg geruim is, kan hy maar gerus nuwes skep en ’n bietjie eksperimenteer ook. Dit is altyd die beste deel: om nooit te kry wat jy verwag nie. Om rond te speel met mense. Om spesies te meng. Om DNA saam te gooi en ’n nuwe vorm van wapens te ontwikkel. Sy wapens.

Met ’n groot glimlag wag hy die Federale Buro van Ondersoek in. Hy is reg vir hulle.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top