WF 2012: Die Ander plek

  • 0

Verbeel jou ’n wêreld sonder gevoel, ’n wêreld sonder emosie. Waar enige vorm van omgee, enige vorm van liefde verbied is. ’n Plek waar die siel van die mens onderdruk is tot ’n koue, harde, gevoellose wese. ’n Wêreld waar enige vorm van emosie onwettig is. Hierdie wêreld is my realiteit, dit is my werklikheid, dit is die toekoms van die planeet Aarde ...

In die jaar 2100 het ons ons op ’n barre, leë en uitgeroeide aarde bevind nadat die verskriklike Derde Wêreldoorlog byna die hele planeet vernietig het. Uit vrees dat so ’n aaklige oorlog weer sou plaasvind, het die leiers van die vernaamste lande op aarde noodgedwonge maatreëls ingestel om konflik en oorloë vir ewig stop te sit. Maar hierdie buitensporige vrees het gelei tot ekstremistiese instellings. Nuwe wette is wêreldwyd uitgevaardig en enige vorm van emosie of gevoel is verbied, omdat dit tot konflik lei. Die mens sou in ’n koue en kliniese wese omskep word om vrede te verseker.

Die instelling van hierdie wette is ook tot die uiterste gevoer: Enigiets wat dalk aanleiding kon gee tot gevoel, is verbied. Boeke, musiek en alle ander kunsvorme is verban. Die strate, geboue en huise is kaal gestroop van enigiets kleurvol en enigiets wat gevoel kon aanspoor. Slegs swart klere moes deur alle mense gedra word en enige persoon wat lag of huil of enige ander emosie toon, sou skuldig bevind word aan die ergste kriminele oortreding en die doodstraf opgelê word.

Dus bevind ons ons nou, in die jaar 2200, in ’n koue, kliniese wêreld, waar die grou en grys strate met gevoellose wesens gevul word. En alhoewel ons nou in vrede leef, is die siel van die mens vir ’n honderd jaar so onderdruk dat die mens ontwikkel het totdat sy kapasiteit vir emosie byna totaal verdwyn het. Dit is die wêreld waarin ek grootgeword het; dit is al wat ek geken het. Ek, soos almal om my, was onbewus van enige emosie, totdat my lewe onlangs drasties verander het ...

Dit was ’n doodgewone dag, soos enige ander dag, toe ek op pad was werk toe. Ek het aanvanklik deur die vaal strate gestap en toe besluit om ’n kortpad te vat deur ’n stukkie veld daar naby. Ek het die voetpad deur die veld gevolg toe iets aan die kant van die pad my oog gevang het. Ek het afgebuk om dit van naby te bekyk. Voor my oë het daar ’n klein, vernielde, geskeurde stukkie papier gelê. Ek het die papier versigtig oopgevou en voor ek my kon keer, het my oë oor die woorde beweeg:

"Mag die bome groen bly
en die sterre wit,
en mag daar altyd mense wees
wat mekaar sonder skaamte
in die oë kan kyk –
want die lewe is ’n asem lank
en die sterre op die Ander Plek donker."

Met ’n skok het ek besef wat dit was. Vrees het my oorval, want dit was poësie en dit was verban. Maar teen die tyd wat hierdie gedagtes by my opgekom het, was dit te laat. Ek het ervaar wat ek nog nooit tevore ervaar het nie. Nog nooit tevore het ek ’n gedig gelees nie. My binneste was oorweldig; elke woord het tot my gespreek; ek was meegevoer. Dit was soos asem vir ’n drenkeling. My oë het oopgegaan en ek het lewend geword; ek het vir die eerste keer in my lewe gevoel.

Gedigte, soos alle ander kunsvorme, is verbied en die besit daarvan was onwettig, maar ek kon my steeds nie keer nie. Dae het verbygegaan waarin ek die gedig gedurig en ywerig bestudeer het. Dit was asof elke woord aanleiding gegee het tot ’n ander gevoel, ’n ander ervaring en ek kon vir die eerste keer emosie ervaar. Maar soos wat die dae verbygegaan het, het ek ook in toenemende vrees begin lewe. Ek het gevrees dat die gedig in my besit ontdek sou word, dat iemand dit sou sien en die regering daarvan in kennis sou stel.

’n Paar dae later was daar ’n klop aan die deur en ’n groep mans geklee in hul droewe swart klere en met gewere in hul hande het ingestorm. My vrees het waar geword. Hulle was agente van die regering en hoe hulle van die gedig te wete gekom het, weet ek nie, maar ek het ’n vermoede gehad dat die regering almal van ons dopgehou het. Ek is gevange geneem en die gedig is voor my oë verbrand. Die regering het my skuldig bevind aan wat hulle as die ergste oortreding gesien het en ek is tot die dood veroordeel. In ’n eensame sel moes ek nou my laaste dae deurbring en my voorberei op my straf wat gaan kom.

Dus vertel ek nou hierdie verhaal in my laaste dae voor ek met die dood moet kennis maak. In hierdie eensame sel waarin ek my nou bevind, sê ek die woorde van die gedig, wat permanent in kop ingegraveer is, oor en oor op. ’n Mens sou kon sê dat die gedig tot my dood gelei het, maar ek glo dit is juis die teenoorgestelde, want alhoewel my liggaam binne ’n paar dae sou sterf, het my siel in my laaste dae ervaar wat dit was om waarlik te lewe. In hierdie koue, gevoellose wêreld waar die siel van die mens dood is, wat is dit dan eintlik om te sterf as jy nooit gelewe het nie? Ek het die voorreg gehad om waarlik te lewe en daaroor is ek nie spyt nie, want “die lewe is ’n asem lank en die sterre op die Ander Plek donker”.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top