Ek smag na vryheid in die tegnologiese wêreld waarin ons ons bevind. Vyftig jaar gelede het almal op die rand van hul stoele gesit met die vrystelling van die nuwe ontwikkeling van tegnologie. Na al die jare besef ek ek wil die hartelose stuk metaal met elke molekule binne my liggaam uitwis.
Probleme wat voorheen groot was, lyk nou soos Kilimanjaro teenoor Tafelberg. Die werkloosheidsyfers het met sestig persent oor die laaste vyftig jaar gestyg! Aardverwarming is nie meer ’n kwessie nie, maar ’n katastrofe! Die ergste van alles is die feit dat kinders wat in dié dekade gebore word, nie die geur en smaak van vars, aardse voedsel ken nie. Ons monde weet net van soja en die natuur word beskou as ’n skakering van kleure en metale.
Welgestelde mense het nie meer die behoefte om na Italië of Bali toe te vlieg nie, want die kamers in hul huis kan enige atmosfeer skep. Die mure van die kamers bestaan nie uit bakstene nie, maar uit ’n stuk glas en drade. As ’n paartjie voel hulle wil ’n romantiese aand in Rome deurbring, sal die mure ’n illusie skep van hoe Rome lyk. Die satelliet se visie van die aarde is gekoppel aan die toestel en so sal dit op die mure projekteer. Natuurlik is dit die lugrederye se grootse nagmerrie. Hulle verloor by die dag biljoene rande. Al hoe meer mense vind dit onnodig om ander lande te besoek as hulle dit in hul eie huis kan besoek.
Niemand weet wie is eg en wie is ’n robot nie. Almal lyk eenders, behalwe die feit dat die helfte van die sogenoemde “mense” wat rondloop, nie ’n hart het nie. Hulle is so ontwerp dat hulle presies dieselfde lyk as enige ander mens, maar as jy hul van naby af bekyk, sal jy sien daar is geen emosie in hul oë nie. Dit is asof die vensters na hul siel nie werk nie, omdat daar geen siel is nie. Hul vel is, voel en lyk nes ’n mens se regte vel en hulle beweeg en praat nes ’n normale persoon. Behalwe vir die feit dat die bevolking met meer as ’n helfte vermeerder het, weier almal om emosie te toon vir elke Jan Rap en sy maat. Daar is nie meer liefde en geluk in die lug nie, want jy’s bang jy toon liefde teenoor ’n robot!
Daar was al ’n geval waar ’n man op ’n beeldskone meisie verlief geraak het. Hy het eers na ’n paar weke, nadat hy die moed bymekaar geskraap het om met haar te gaan praat, besef sy is ’n robot! Die storie het soos ’n veldbrand versprei en van toe af was almal te skrikkerig om ’n gesprek met vreemde mense te voer. ’n Mens sou dink dat vervaardigers iets anders sou vind om hulle mee besig te hou, maar nee, hulle kan nie wag om die volgende nuutste, natuurlikste robot-model uit te bring nie. Nes ek voorspel het, is die verbruikers soos klei in hul hande.
Die nuwe persoonlike bediendes bestaan uit robotte. Hulle verskaf alles wat die werkgewer nodig het en meer, maar steeds neem hulle onskuldige werklose mense se lewe oor. ’n Paar jaar gelede was dit die nuwe “speelding” vir diegene met te veel geld in die sak, maar nou word dit aanvaar as ’n algemene prestasie. Die hele proses begin maar net by die huishulpe, maar waar gaan dit eindig?
Oor ’n paar jaar sit die helfte van die wêreld se bevolking sonder werk. Wie gaan dit dan kan bekostig om die nuutste robot of masjien te koop? Gaan die mensdom ooit nog bestaan? As al die natuurlike grondstowwe van die aarde weggeneem word, kan die mense nie vir hulself sorg nie en hulle lewens gaan afhang van masjinerie om hul aan die lewe te hou.
In my gedagtes visualiseer ek die dae wat ek die grond kon ruik en ’n vars appel of wortel kon eet. My gedagtes vlieg rond oor hoe mooi en vol kleur en emosie die aarde eens op ’n tyd was. Ek droom snags dat ek saam met Adam en Eva na kos kon jag of dit kon pluk van ’n immergroen boom. My maag draai as ek dink wat nog gaan gebeur met ons en ons kinders. Ek wens ek het opgestaan vir my land, my geluk en my lewe.

