WF 2012: Blikbrein

  • 0

Ek voel die hittewalms van die rooi vlamme wat by die vensters van geboue uitkom. Soos ek in Lincolnstraat afstap, hoor ek skreeuende mense wat verward in alle rigtings rondhardloop. Ek steek in my spore vas en ewe skielik voel dit asof tyd stilstaan. Daar is nou niks meer wat ek of enigiemand anders kan doen nie. Ons is magteloos. Die mens het gevra hiervoor. Ons het hierdie gruwelike monsters geskep en nou neem hulle heeltemal oor. Almal was so bly oor hierdie nuwe skepsels, maar dit het my van die begin af ongemaklik en onrustig laat voel …

Die hoofopskrifte van koerante op 2 Desember 2000:

Die Burger: “Kom kry nou jou robot wat werk vir jou makliker maak.”
New York Times: “Nuwe millennium – nuwe tegnologie!”
The Guardian: “Geskikte Kersgeskenk – ROBOT!”

Koerante het mense reg oor die wêreld behoorlik laat gons. Daar was nie een persoon wat nie geweet het dat die nuwe mode binnekort gaan verander nie. Robotte sal reg oor die wêreld in elke moontlike winkel verkoop word. Vanaf supermarkte tot hardewarewinkels. Winkels is verplig om hierdie robotte aan te koop en te verkoop. Boetes sal gegee word aan winkels wat nie die reëls gehoorsaam nie. As ek ’n winkel besit het, sou ek definitief nie daardie vreemde wesens aankoop nie.

Vandag, 5 Desember 2000, is die groot dag waarvoor almal in spanning gewag het, die dag wanneer die nuwe 101XR7-robotte verkoop word. Geïrriteerd, moeg en ongeduldig wag die mense in toue vir winkels se deure om oop te gaan. In elke land is daar groot televisieskerms opgesit sodat die mense bewus kan wees van hoe lank hul nog moet wag voordat hulle uiteindelik hul robotte kan koop.

Uiteindelik is daar nog net 10 minute oor. Mense raak nou stamperig, aangesien hulle nou amper kan ingaan ná hul lang gewag. Sommige mense het al die vorige dag voor winkels tente opgeslaan of matrasse gaan neerlê – só graag wou die mense ’n robot in die hande kry.

Ek is nogal opgewonde oor hierdie snaakse wese wat my ma vir ons gaan koop. Van die begin van die jaar af het hulle al gepraat van hierdie robotte in koerante en tydskrifte, maar niemand het werklik geweet of die skepsel gemaak gaan word nie. My ma het vas geglo dat daar robotte ontwerp gaan word en het van toe af al begin spaar. Dié robotte is peperduur as gevolg van al die funksies wat hulle kan verrig.

Daar is nog net twee minute oor en die mense raak onbeheerbaar. Sommige mense druk voor ander mense in, wat al tot ’n hele paar gevegte gelei het. Ons is redelik ver agter in die ry, omdat ons eers vanoggend hier aangekom het. Soos die tyd aanloop, begin ek wonder of daar genoeg robotte is en of ons een in die hande gaan kry …

VYF, VIER, DRIE, TWEE, EEN …

Sirenes gaan af en winkeldeure vlieg oop. Ek staan nog in die ry (wat lankal nie meer ’n ry is nie) toe my ma my aan die arm gryp en my in die naaste winkel insleep. Net toe ons die winkel binnegaan, verdwyn sy. Daar is honderde mense wat oral rondskarrel op soek na ’n robot wat miskien nog op ’n rak agtergebly het. Net soos ek voorspel het, is daar te min robotte. Ek stap in die winkel rond in die hoop om my ma te vind toe ek iemand my naam hoor roep. Ek draai om en sien my ma met ’n tevrede glimlaggie. Daardie glimlag beteken net een ding: Sy het ’n robot gekry.

Drie dae is al verby vandat ons die robot gekoop het. Toe ons hom by die huis aanbring, het Pa hom dadelik geprogrammeer en geaktiveer. Hy is ’n flukse wese en luister na al ons bevele. Ek het nog nie regtig vir hom enige takies gegee nie. Ma en Pa het hom al so baie opdragte gegee dat ek nie verbaas sal wees as hy binnekort uitbrand nie.

Na ’n paar weke met die robot in die huis raak almal baie lui, want jy hoef nou nie meer self take te verrig nie. Alhoewel ons almal opgewonde is oor hierdie nuwe mode-item, vertrou ek die stuk metaal glad nie. Dit is nou al ’n hele ruk wat hy snaaks begin optree as ek alleen by die huis is. As my ouers uit is, kry ek hom gereeld waar hy op hul bed lê of televisie kyk. ’n Robot is nie veronderstel om enige menslike dinge te doen nie. Hierdie robot begin die gewoontes van mense aanleer. As my ouers dan weer by die huis kom, sal hy net op die bank sit en wag vir sy volgende opdrag. Die robot het een of ander groot plan en dit maak my senuweeagtig.

My ouers glo nie ’n woord wat ek hulle vertel nie. As ek nog een woord bog praat oor moontlike gevare wat die geheimsinnige robotte vir ons gesin en ook ander gesinne inhou, word ek gehok. Nog ’n paar weke gaan verby en elke keer wat my ma en pa uitgaan, begin die robot net al hoe gemakliker raak en al meer snaakse dinge doen. Ek vind ook nou gereeld tekeninge van vlamme en prente wat net totale chaos uitbeeld. My ouers skeur net die prente op en stuur my na my kamer toe. Ek wonder of ander kinders ook dié vrees ervaar.

Ek staan voor ons brandende huis. Alles wat ons gehad het – weg binne sekondes. Gevaarlike silwer metaalfigure stap in formasies by Lincolnstraat af en gooi vlamme in verskillende rigtings. Die hele wêreld word oorgeneem. Daardie robotte is ontwerp om ’n massa-uitwissing te veroorsaak. My ma se arms vou styf om my en Pa se arms is styf om haar. Die laaste gedagte wat in my kop ronddwaal, is: Gaan ons oorleef?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top