WF 2012: 2050

  • 0

25 Februarie 2050

Biep-biep.Die mikroskyf in my kop se wekker gaan af. Die mikroskyf sing in my kop terwyl dit ’n sein stuur na die Sentrale Verwerkingseenheid. Vaal, grys pille word deur ’n pypie gevoer, wat netjies in my hand plons. Ek sluk die smaaklose ovale. Twee opsies verskyn voor my op ’n raakskerm: Klere: 1. Bruin pak 2. Grys pak. Ek kies die gewone grys pak. Volgende opsie: Lipstiffie: 1. Pikswart 2. Spierwit. Ek voel hoe die volgende paar instruksies begin laai, maar skielik, in plaas daarvan dat die gewone opsies verskyn, kry ek ’n skerp pyn in my kop.

Sirenes loei. ’n Boodskap verskyn: MS123 het verval. Vervang so gou moontlik. Ek hoor ’n kliek soos die skyfie homself afskakel. Dis bedompig. Ek sug en staan op. Moedeloos stap ek na die vervoer-dryfplatform en tik die kode in, maar niks gebeur nie. Sleepvoet loop ek na die motorhuis om te kyk of die vlieënde motor nog werk. Dit is nie deel van die huis se hoofkonsole nie, maar sonder die mikroskyfie se sein kom ek nie ver nie – dit werk ook nie. Ek vryf my hand oor my gesig en haal diep asem. Ek besluit om werk toe te stap. Strompelend beweeg ek na die motorhuisdeur en gee dit ’n kragtige stoot. Sukkelend gly die deur oop en vars lug van buite spoel oor my.

Die son val warm op my wange en ek besef hoe lanklaas ek buite was. My aandag word getrek na die hoofverkeersbaan waar vlieënde motors by mekaar verby flits. Hoe lank leef ons al so? Ek rig my blik op die voetslaanpaadjie voor my en begin my roete werk toe. Daar is nog vars druppeltjies dou op die groen plantjies op die pad. Die son weerkaats in die water en ek kan ’n kaleidoskoop van kleure sien. By ’n vurk in die pad besluit ek om eerder deur die park te loop as om na die openbare treinstasie te gaan.

My voete knars op die vars grond terwyl ek by die park se kolossale hekke inloop. Ek sien ’n prentjie uit die ou dae (iets wat jy sal verwag van die jaar 2012): babas word in stootwaentjies rondgestoot; honde hardloop rond en blaf. Mense sit en hou piekniek ...

Skielik struikel daar ’n ou man voor my en maak hard met die aarde kennis. Ek hardloop vorentoe en trek hom op.

"Dankie, kind!’" groet hy my met ’n groot glimlag. Ek voel hoe my eie mondhoeke lig. “Wat is jou naam, Bokkie?” vra hy.

Ek begin stotter en besef dat ek nie meer my eie naam ken nie, net my batenommer: 346Q649R776.

“Genade, skat, wat lyk jy so verward?” vra die ou oom met ’n bekommerde stem. Ek skud net my kop en skrik toe hy ’n beskermende hand op myne sit. “Sterkte, jong, ek hoop jy vind waarna jy soek.” Hy draai om en wandel voort. Ek staan ’n ruk stil en sy woorde spoel in my gedagtes. “Ek hoop jy vind waarna jy soek.” Ek wonder nog ’n ruk waarna ek soek en drentel toe maar verder.

Die voetpaadjie se kronkels vloei tot ek voor my werk se asvaal gebou staan. Dit lyk soos ’n groot, grys, troebel tronk. Ek dink aan wat sal gebeur sodra ek sou inloop. My baas sal beslis aandring op ’n skyfverandering. Ek sal weer soos gewoonlik werk toe vlieg met my vlieënde kar. En in my werksplek sal ek die volgende teëkom: Grys mure. Grys pakke. Grys papier. ’n Vraag brand in my gemoed. Dié keer is dit nie ’n mikroskyfie wat vir my opsies gee nie, maar my eie besluit. Ek lag skoon van verligting. En ek volg toe my eerste werklike keuse: terug park toe vir die volgende week.

’n Harde, koue klou haak om my skouer en pluk my terug. Ek gly op die gladde vloer en slaan met ’n harde slag op die vloer neer. Die klou sleep my by die deur in en ek gryp desperaat na die kosyn. Ek verloor my houvas en word in die donker nagmerrie van my werk ingetrek ...

***

Biep-biep. Die wekker langs my bed gaan af. Ek ontwaak uit my vreemde droom. Ek staan op en maak die deure van my klerekas oop. Ag nee, ’n bruin pak en ’n grys pak! Ek krap verder en vind ’n bloedrooi bloes met mooi frilletjies. Ek stap na my Citi Golf en dink weer aan my aaklige droom. Vandag stap ek werk toe – deur die natuurpark!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top