wettelooswekkendhede

  • 0

assittie vir Afrikaans, bloot toevallig, my Moeder, Taal,
was, as’k my Afrika-sonne nie ontsien, my nie linguïsties,
via idiomaties uitdrukking, woordkeuse, spilse speulsheid,
speelse spelery, Kaaps, Hangbergiaans, Stellenbossisch,
skinner, stry, liefde maak, bely, baklei, als bymekaar kry,
in my moederborsmelk, ghloek-ghloek, doedoes, baba, ja,
sou’t mos onuitstaanbaar wees, hierie ent, van Kontinent

kom Afrika Kongres mos hier yt Afrika yt,
yt Mensdom se Bekken, Mapungubwe,
yt suide, voorheen “Boesnot” s’n,
eiendomsreg, vanaf 1913, versin,
deur oud-vryheidsvegter versaak,
asof inboorling steeds terroris is,
ongewenste, verban, uitgedryf,
loop orals net geweld oppie lyf

kanti, wassittie vir Azaniaans, loslippiglik,
vrug van tong, ilwimi van ilwimi, orgaan,
lat vrou, kjend man mos mooi verstaan,
sou Mens nie meer wonner, oor weersin,
afkeer, gevoelens versus, verdeling,
van Mens, van mede-Mens, Naaste,
‘t sowaar als probeer fundeer op “ras”,
op “klas”, illegitiem illusie, so onvanpas,
selfs vir dié wie in Ekonomie Een wou wees

lat Mens, Gewete-loos, uiters Self-destruktief,
struktuurgewelddadig, onkund’-ontkennend,
oor pseudo-proto-papsak-aanbidding, eish,
van ‘n eie god, sjatan, soos’t g’n gelowige,
mag of sal of kan betaam, Mens Self skaam

teoretikus, leser uit Woord, in praktyk,
in werklikheid, soos tot geregtigheid,
wil omsit, verwerk, GM, prosesseer,
min gespin, as’t ware super-koel,
yskoudkomkommerlik inkommer,
min gepla met Afrikaan se lot,
hiesa in Moeder, Kontinent,
deur Rome benoem: “Afrika”

ultra-etno-onderdrukkend,
deur vervloeking van haar,
wat net so mooi “isiBhulu”,
khuluma, tetha, soos hý,
wie se voorouers, Gewete-loos,
mede-Mens van als onteien’t,
van hulpbron skoon gestroop’t,
soos ‘n hoener inne slaghuis,
afkophardlooptyd klaa’, v’by

al hierie verfoemfaaidgeid laat my innerlik pyn,
Mens weet Self, struktuurgeweld moet verdwyn,
my ykiebrykie hart is flenters, skerffyngetrap,
Naaste willie apartheidsindroom laat verdwyn,
maak liewe, asof son uit Mens se anus skyn,
dan’t’k u nog zero vertel, van grenslyn,
Mens mossie meer daar(v)oor getrein

assittie vimmy moeder, haar taal was,
iemand my ‘n Boer noem, as sulks “klas”,
as iemand Self Self so vuil moet ver-“ras”,
en nog ligtelik daaroor lag, Self so verkrag

dan besef’k, sjatan’s donners gewelddadig,
nes God, bai’ min van sy dissipels genadig,
want sonner g’na bly Mens altyd ongenadig,
immer Gewete-loos, hiersa, innie Afrika

wil’k my nie op mevrou Krotoa Havgard,
voormoeder van Africaanders roem,
nog minner op reënboog-illusie,
op politici se neo-NDR-visie

Jacobus Faasen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top