
Dit is hoe die mens eersdaags op Mars lyk.
Ek kan nie help om te wonder wat Noag sou dink as hy deur sy wingerd stap, en die stuks tegnologiese wese van die Aarde af beloer hom oor die heining nie. EN, dan skiet die ding nog laserstrale om jou druiwekorrels ook te proe sonder om eens behoorlik te groet ...
Wel, ek dink daar sou vinnig plan gemaak geword het met ding. Miskien dit met een van Kobus de Klerk se gesoute karkaste lok tot in die gestrande ark, en dan vinnig die deur agter toe te grendel – of so iets.
Nietemin, dis met ’n groot spoed op pad na ons buurplaneet 567 miljoen kilometer hiervandaan.
Dit heet Curiosity.
Die nuuskierigheid gaan oor ’n oerkrater, ’n put op Mars waar daar moontlik water is – en lewe is.
Water uit ’n put; menige verhaal in die Ou Testament het om ’n put gedraai. Daar was Abraham wat Abiméleg aangespreek het oor ’n put wat die dienaars van Abiméleg met geweld geneem het; Rebekka wat deur Isak se dienskneg by die put gevind is; Isak se put Esek wat deur boewe afgeneem is en toe sy vryheid langs die put Réhobot gevind het (miskien ’n heenwys na ons "robot" op Mars eersdaags); Jakob wat Ragel by die versteekte put in die woestyn ontmoet het; Josef wat danksy Ruben se pleit in die put oorleef het; Moses wat Réhuel se dogters teen boewe by die hoëpriester van Mídian se put beskerm het en toe Sippóra as vrou ontvang het; Jesus en die Samaritaanse vrou by die put ...
Zamzam – ook nog ’n wonderlike verhaal van ’n put iewers in die woestyn. Dis ’n put wat tot vandag sy lewende waters laat oorstroom in Mecca. Die wonder put toe Abraham se Egiptiese vrou Hagar alleen in die woestyn, honger en dors aan GOD se genade oorgelaat is, en baba Ismael sy hakskene op die grond gekap het en die water verskyn het ...
En nou gaan soek ons lewende water op Mars – duisende jare later ...
Dis absoluut wonderlik!
Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke en Boeddhistiese groete,
Cornelius Henn

