Die rede waarom ateïste in hierdie argument met religieuses betrokke is, is om die gevaar van godsdiens te beveg. Alle godsdienste hou vir die mensdom ’n uiters groot gevaar in, maar blykbaar besef min mense dit. Religie is die teelaarde, die broeines van leuens, vervalsings, en onkunde en hoe gouer dit uitgeroei word, hoe beter vir ons almal.
Verder is daar niks in hierdie geredekawel vir die ateïs nie. Die religie, hetsy die Christelike of Islamitiese godsdiens het absoluut niks by te dra tot die wetenskap nie. Die onkunde wat veral deur die Christendom versprei word is net ’n blok aan die been, want vra enige Afrikanerkind waar hy dink die mens vandaan kom. Sy antwoord sal sonder aarseling wees dat God die mens geskape het van ’n hopie grond en ’n ribbebeen. Verder sal hy jou vertel dat die hemel en aarde deur God geskape is in net ses dae, dat Lot se vrou sommer skielik in ’n soutpilaar verander het, dat al die diere en mense wat vandag lewe, die nakomelinge is van dit wat Noag op sy ark bewaar het, dat Jesus dooies wat al ruik, kon lewend maak, dat hy op die water kon loop en water in wyn verander.
Die leuens en onkunde sak soos ’n duisternis op ons toe, en dis wat ons arme ou klein klompie ateïste moet beveg. Ons taak is amper onmoontlik, nie net omdat ons aan die minderheid is nie, maar ook omdat die mensdom nog relatief in ’n primitiewe staat van ontwikkeling verkeer. Die mens is nog bygelowig en verkies om bygelowig te bly.
Dis die taak van die onderwyser op skool om die kind te red van hierdie denkbeeldige spul twak, maar hoe maak ’n mens nou as selfs die onderwyser glo aan spoke, tokkelossies en voorvadergeeste?
Voor in die onkundeduisternis brand darem ’n flou vlammetjie: die NGK het skielik sommer 20000 lidmate wat vermis geraak het, minder.
Groete,
Angus

