Sopas 'n baie interessantste program van oor Max du Preez gesien op KykNET, daardie bekende skrywer van Engelse boeke oor Boeresondes, meestal gewaande Boeresondes.
Die hele trant van die program is Max se stryd om Die Waarheid, wat so deur die bose Afrikanerregering verdoesel was, te ontbloot. Die indruk word geskep dat hy en sy blad (ek het gehou van die tipografie; het 'n hele paar gekoop) se spannetjie alleen die magtige Afrikanerestablishment die stryd aangesê het. Daar was ook altyd dieselfde van Helen Suzman gesê; vrou-alleen het sy die leeu in sy hool aangedurf.
Intussen was Helen toe nie alleen nie; sy het die Engelse pers, die Britse pers, die Kanadese, Amerikaanse, Nederlandse, Duitse, Sweedse en wie weet watter pers nog aan haar kant gehad. So ook met Max, hy was nie alleen nie; hy het dieselfde kohort waarin Helen haarself bevind het aan sy kant gehad.
Buitendien, as Max so alleen was, en so verstote was deur die Afrikanerregering van die 80's en vroeë 90's, hoekom het die Afrikaanse radiostasie hom dan aangestel om sy Progressiewe idees (let op die hoofletter want progressiewe idees was dit beslis nie) in die luisteraars se kele af te druk? So selfs die regering was toe al aan sy kant (en dus teen die Boere).
Wie wel alleen was, was ons Boere en ons het toe uiteindelik geswig voor die aanslag van daardie kohorts. Die gevolg is dat ons nou in 'n mislukte staat sit en dat ons persona non grata in ons eie land is; ons taal word vertrap, ons word afgejak deurdat ons universiteite en skole verengels is en ons dorp-, plek- en straatname uitgevee word. Selfs ons public servants weier om met ons Afrikaans te praat. Wat's fout met die man; kon hy dit nie sien kom nie, veral omdat die 'simpel verkramptes' by herhaling presies dit voorspel het?
En wat is hierdie Waarheid waarvan die ontbloting Max se stryd was? Moordbendes wat onskuldige en sagte teikens gaan aanval het, soos MK? Ek gee toe dat die geheime diens dalk, soos ander maar dwarsoor die wêreld, verskriklike dinge kon aangevang het en ook dat die feit dat ander geheime dienste dit doen geen regverdiging is vir wat ons s'n ookal verkeerd kon gedoen het nie maar, om dit aan die beleid van destyds te koppel, is 'n vergryp, disinformasie, laakbare propaganda.
Max roem homself daarop dat hy konsekwent is want hy kritiseer dan ook hierdie regering. Wat 'n laggertjie want hoe anders? Die land is in 'n gemors en om jou misnoeë daarteenoor uit te spreek is geen manifestasie van enige bona fides nie. Buitendien, hy's nie so konsekwent nie want in een van sy laaste radioprogramme het hy gespog dat die doemprofete nou verdwyn het want "die nuwe SA is 'n dawerende sukses".
Max sê hy het geweier om saam met Dan Roodt op 'n openbare verhoog te verskyn want Dan sou een of ander dokument publiseer het waarin hy sou bewys dat swartes geneties geprogrammeer is om misdaad te pleeg. Ek dink Max verdraai hier Dan se woorde maar sou dit wel waar wees, en met die dat Max dit uitmaak as skreiende rassisme (en dus vals), waar sou 'n beter geleentheid wees om Dan se tjank af te trap as juis op 'n openbare verhoog? Veral gegee die feit dat daardie gehoor in elk geval hoofsaaklik aan sy, Max, se kohort behoort? Max se weiering was nie uit hoofde van sy beginselvastheid nie, dit lyk vir my na kop in die sand druk. Terloops, het hy bogenoemde destyds as rede aangevoer of het hy hierdie eierdans later uitgedink?
Max praat van die lyding in die Townships destyds gedurende sogenaamde apartheid. Is Max in voeling met die hedendaagse werklikheid; weet hy hoe hulle nóú ly in die townships? Hy moet bietjie met sy tuinboukundige assistent en dié se vriende praat (nié met swart kollegas nie).
Max spog dat hy nie onregverdigheid duld nie. Het hy al ooit iets teen plaasaanvalle gesê, of teen naamsveranderinge, of teen die diskriminasie teenoor wit universiteitsaansoekers? Indien wel, was dit met dieselfde energie as wat hy is sy destydse stryd ingesit het? Ek twyfel maar as hy het vra ek om verskoning dat ek getwyfel het.
My beskeie mening is dat Max die politiek verkeerd gelees het. Hy het lyding in die townships gesien en die Engelse pers, wat om heeltemal ander motiewe die regering uit die saal probeer lig het, geglo naamlik dat dit die beleid is wat die lyding veroorsaak. Hy het nie die groter prentjie gesien nie. Nou is hy, soos ander sogenaamde liberales (ek sê 'sogenaamde' want liberaal in die ware sin van die woord is hulle beslis nie) ontgogel en moet maar aangaan met die charade. En soos ek al by herhaling gesê het, hierdie soort van storie is die direkte gevolg van die agteruitgang wat deesdae so aan die orde van die dag is; daar móét regverdiging vir hierdie gemors wees.
Maar, soos ek sê, dis maar my mening en ek mag heeltemal verkeerd wees; ek sal glad nie omgee as iemand my kan wys waar ek dwaal nie.
Jan Rap


Kommentaar
Jan Rap, ek glo nie jy dwaal nie. Net mense met insig kon die huidige mislukte bestel voorsien. Max en sy insiglose navolgers het vir die mediaverslaafde mensdom ’n paradys belowe en "regse" etikette aan diegene gehang wat van hul verskil het. Doeltreffende propaganda het verseker dat "regs" ’n negatiewe konotasie sou hê. Diegene wat deur al hierdie twak kon sien en wie se voorspellings nou, as waar bewys is, hoort eerder gaste op vermelde TV programme te wees. Terloops, ek het ’n opname van een van die destydse debatte op TV waar Barend du Plessis en Dr. Ferdie Hartzenberg hul voorspellings gemaak het.
Dr. Hartzenberg was volkome in die kol. As Max te skaam is om sy eie dwaling te erken, mag hy dalk vir Dr. Hartzenberg gelyk gee?
Groetnis,
Et1