O, wonderwerker van die land, plant en dier
Jy wat douvoordag ’n handvol grond optel
Wat die aarde breek, besaai, beplant en versorg
Wat moet benat en besproei en voer
Jy wat pars en oes en melk en skeer
Ons salueer jou
O, wonderwerker van die fabriek
Jy wat uit grondstowwe ’n produk optower
Wat die meganika moet verstaan
En nie die produksielyn durf vertraag
En die industriële dinamika handhaaf
Ons respekteer jou
O, gesondheidswerker onder gewyde eed selfs tydens COVID-19
Met geen vaste ure ons liggame moet versorg
Wat teder vat deur geboortepyn en lyding
Wat deur slagoffersbloed na ’n greintjie lewe soek
Die dood beveg asof dit jou eie lewe is
Ons eer jou
O, opvoeder van die nasie en die volk
Jy met jou kundigheid en toewyding
Jy met jou opoffering en Job se geduld
Manmoedig pak jy jou dikwels ondankbare taak
Onderwyser, sielkundige, trooster, aan’t werk
Ons omvou jou
O, kantoorwerker wat die land laat klop
Met jou knap kliëntediens en rekenaar
Soms daar agter eensaam weggesteek
Jy’s in raadsaal, op die pad en tuiskantoor
Met woord en syfer in verslag vervat
Ons bewonder jou
O, winkelwerker met produkte op rakke
In deli’s en bakkery en kasregister slaan
Jy wat ons glimlaggend moet bedien
Met toewyding in ons behoeftes voorsien
Soms beledigings en argwaan moet trotseer
Ons dank jou
O, drywer van ons busse, taxi's en treine
O, loods van vliegtuie en medewerker
O, ingenieur van brûe en padwerker
O, argitek en raakvat -ambagsman
Werktuigkundige wat werk totdat dit werk
Ons vertrou jou
Langafstanddrywer en karweier met jou reuse-trok
Wetstoepasser in uniform wat ons beskerm
Haarstileerder, wynmaker, kleremaker, assistent, skoenmaker, tegnikus, mynwerker
Bakker, bouer, terapeut, stoffeerder, vullisverwyderaar, politikus en huiswerker
Jy arbei toegewyd, soms in gevaar, dog met totale opoffering
Ons erken jou
O, geestelike werker op ons lewenspad
Dominee, biskop, imam, pastoor, rabbi en priester
Medewerker in God se kosbare wyngaard
En o, jy toegewyde tuisteskepper, ma en vrou
Jou onverpoosde ywer gryp aan ons harte
O, ons bid vir jou
En jy, bedreigde werker weens die realiteit van COVID-19
Jy met jou kundigheid en uitsonderlike denkvermoë
Jy wat ’n idee in werkende realiteit omskep
En inkomste vir jou mense genereer, dog nou oor môre wonder
Kyk op na die hemele en roep tot jou God wat plae beëindig en ystergrendels stukkend slaan
Die Here sal voorsien
Geseënde Werkersdag
Nkosi sikelel’ iAfrika
Kommentaar
Ek salueer jou, knap gedaan.