
Foto: Canva.com
Wene
Trek lewe in Wene my aan as ’n stad
waar elke sakeman sy eie koers vat
en elke impulsiewe kunstenaar
na sy eie hel en hemel staar?
Of klop die hart van die stad eers in my
as dié blitsbesoeker, wat snuffel op straat,
sy kits-kos, kits-pos, kits-eer los
eietydse vertoonsug agterlaat
kyk na bouwerke eeue oud
luister na verhale uit die Weense woud
voel wat die stad in die donker bied
reëlmatige toorkrag hoor in ’n lied
seisoene sien opwel in die Donau
die magnetiese glimlag ontdek van ’n vrou
’n glasie van Strauss se bloedrooi wyn skink
en saam met haar daarin verdrink
die reëlmaat deurleef waaroor niemand durf praat nie:
die meesleurende ritme wat jou nooit verlaat nie?

