Gisteraand was die laaste wedstryd van die rugbyseisoen. My seuntjie loop met trane in sy oë kar toe, nadat hy vir die soveelste keer op die reserwebank moes sit en nie eens 5 minute speeltyd gekry het nie.
Nes hy, en ’n hele paar ander outjies, ook nie speeltyd gekry het in meeste van die ander wedstryde nie.
Ek sou die heel eerste wees om te erken dat my outjie nie die mees talentvolle speler is nie. Daarom speel hy vir die vierde span. Of nee, daarom sit hy langs die veld wanneer die vierde span speel, asook tydens oefeninge.
Ek en die ander ouers ry ook al vir maande soos gekke elke middag getrou na oefening ná oefening, en wedstryd ná wedstryd toe, met die hoop dat ons outjies darem ’n paar minute sal kan speel. Dikwels beskaam dié hoop, beaam my mede-ouers toe gisteraand langs die veld.
Ons vierde span is nie eens naastenby in aanmerking om die liga te wen nie. Nietemin dink die afrigter dit toe goed om toe gisteraand ’n derdespanspeler as reserwe op die veld te sit, terwyl my seuntjie en sy ander reserwe-maatjies sit en koudkry op die reserwebank.
Meneer die afrigter: Jy verstaan duidelik nie waaroor dit gaan nie. Wen is nie alles nie. Nie eens naastenby nie. Veral nie vir die vierde span nie, en BESLIS nie gisteraand nie. Die kans vir selfs ’n eerstespanspeler om vir die Bulle of die WP te speel, is een uit ’n honderd.
Op die ouderdom van 9, 10, 11, ag, selfs tot op 18, is deelname en entoesiasme veel meer belangrik as een of ander misplaaste obsessie met die wen van irrelevante wedstryde, en veral vir die derde en vierde spanne. As jy nie hierdie eenvoudige konsep verstaan nie, hoort jy waarskynlik nie in jou pos as die bewaarder van kinders se entoesiasme en drome nie.
Joe Pieterse


Kommentaar
Ditto!!!
Joe Pieterse, ek het simpatie met jou seun en met jou en hoop die afrigter-onnie gaan werk by die bank. 'n Mens moet dankie sê vir besielde onderwysers wat kinders reg behandel en met die regte woord op die regte tyd die vaal onderpresteerder kan laat verander in iemand wat uiteindelik groot hoogtes bereik. Helaas is daar diegene wat ook na skool in die vierde span is en altyd Klaas sal bly. Jou seun sal egter nog wys wat sy aanleg is en met die regte motivering sal hy bo uitkom. Goed gaan. George
Pragtige foto - weereens goed gekies.
Hi Joe,
Hoe waar en raak is jou beskrywing nie. Dit is juis die rede hoekom my seun ophou rugby speel het op laerskool - in Gr 3/4 al. Verder het dit (en ek glo dat ander ouers dit ook beleef) my opgeval dat die ouers wat gereeld met die afrigters en menere van die skole meng en sosialiseer, se seuntjies ook gereeld die voordeel kry as dit by spankeuses en speeltyd kom - veral op laerskool? Net soos jy, is ek die eerste om te erken dat my seun nou nie die rugby-vaardighede het (gehad het) om van hom Springbok-materiaal te maak nie, maar dit was juis nie die punt nie, veral nie op daardie ouderdom nie - soos hierbo deur jou uitgewys.
My seun is vandag 16 en in Gr 10, hy speel nie rugby nie maar hy vaar baie goed in hokkie wat hy al die afgelope 3 jaar met entoesiasme speel. Hy is ook 'n kranige krieket- en sokkerspeler en 'n gewilde spanlid daarby.
Dankie nogmaals vir jou skrywe.
Sterkte
Dolf
Beste Joe