Skisofrenie is 'n ernstige siekte en die pasiënte moet ferm, maar met deernis hanteer word. Dit kom voor in wisselende grade. In uiterste gevalle moet hulle permanent medikasie kry, party "genees" egter skynbaar spontaan en kry nooit weer 'n aanval nie. Maar ongelukkig hou hulle dikwels vir ander en vir hulself gevaar in. Onder die invloed van visuele en ouditiewe hallusinasies het hulle al mense aangerand en selfs gedood, omdat die pasiënt bv glo die persoon wil hom kwaad aandoen. So kan hulle ook hulself beseer en selfmoord pleeg.
Ek moet erken dat ek nie spesifieke kwalifikasies het om gesaghebbend oor die onderwerp te skryf nie, tog het ek in my lewe met 'n hele paar gevalle te make gehad en ook gevallestudies gelees. Ek wil kortliks 'n paar gevalle noem:
'n Jong man het skielik begin om alles in sy ouerhuis te breek, deur te skop en slaan al wat voorkom. Hulle was natuurlik dankbaar om hom in 'n inrigting te kry waar hy veilig was en behandel kon word.
'n Ander jong man wat ek ontmoet het by 'n vriend, het hom verbeel hy is Jesus. Hy het 'n Nuwe Testament gehad waarin hy stukke onderstreep het en notas gemaak het, veral oor die "verraad" teen Jesus en sy dood. Hy het geglo hy is ook verraai en moet ook sterf. Uiterlik het hy heel normaal voorgekom en ek was verbaas toe ek hom ontmoet een aand waar hy by die vriend sit en kitaar speel en toe ek hom vir sy naam vra, sê hy hy is Jesus. Skaars 'n week later het hy selfmoord gepleeg in sy klein kamertjie agter 'n losieshuis. Hy het eers probeer om homself in die sy te steek met 'n stomp tafelmes, soos Jesus met 'n swaard gesteek is. Daarna skiet hy hom toe met 'n groot rewolwer in die kop.
In nog 'n geval het die man hom verbeel sy buurman het 'n apparaat waarmee hy seine uitstuur om hom (die pasiënt) te dood. Hy het die strate ingevlug. Oral het hy "spioene" gesien wat hom agtervolg. Sy familie het 'n paar dae lank na hom gesoek en die polisie gevra om te help soek, maar hy het die polisiemotors ook gevrees en gevlug. Uiteindelik is hy gevind, vasgekeer in 'n hoekie deur die polisie, ingekrimp met sy kop tussen sy hande, doodbeangs.
Ek glo ons moet verantwoordelik optree hier op SêNet as ons oor die onderwerp skryf. Daar is dalk pasiënte wat dit lees, ook familielede, wat seergemaak kan voel as hier kwetsende dinge kwytgeraak word. Los liewer die debat oor "medikasie of nie" vir deskundiges. Soms is dit juis 'n probleem dat die pasiënt medikasie weier, terwyl hy dit dringend nodig het.
Sondaar II


Kommentaar
Die paar gevalle wat jy noem, is maar net ‘n paar voorbeelde van wat alles by hulle kan manifesteer. Meeste van wat jy sê, stem ek mee saam en die simptome wat jy noem, is ook tipies van ‘n paar van die verskillende verskyningsvorms wat mens aantref.
Jy sal miskien onthou dat ek uit die staanspoor die houding ingeneem het dat die mens met deernis en fermheid hanteer moet word. Daaroor is ek uitgeskel deur die gebruiklike lot. Maar dit daar gelaat.
Wat die medikasie aanbetref, het ek juis bekende deskundiges se opinie beskikbaar gestel - hulle waarsku juis mense, want mense plaas baie hoop op die medikasie wat uiteindelik groot teleurstelling meebring en dikwels met baie negatiewe en dikwels aggressiewe gedrag gepaard gaan omdat hulle nie weet hoe om dit te hanteer, nie. Die medikasie vir die skisofrenie is soos ’n pynstiller. Vir ‘n ruk word die psigotiese 'pyn' gestil (onderdruk), en later verg dit al groter dosisse juis omdat die oorsaak steeds onbehandel voortduur. Uiteindelik... nou ja.
Daar moet aan die oorsaak gewerk word, en daar is, sover ek weet, net een manier en dit is die een wat ek voorgestel, het. Die medikasie word al vir baie dekades voorgeskrywe, en dit is nou op die stadium dat dit deur deskundiges ontbloot word as ‘n oneffektiewe opsie. Die alternatief is die antwoord, maar waarom word dit summier gekritiseer?
Dit is die raaisel - waarom sou mense iets wou kritiseer wat vir hulle net goed kan doen?
Kobus de Klerk
Kobus,
Jy veins: "Die alternatief is die antwoord, maar waarom word dit summier gekritiseer? Dit is die raaisel - waarom sou mense iets wou kritiseer wat vir hulle net goed kan doen?"
Nou ja Kobus, "die antwoord" moes seker gelees het die Antwoord (met 'n hoofletter).
Dan sou 'n mens dalk ook kon dink dat jy na Jesus Christus onse HERE, as wederwoord op al ons probleme, skete en sonde verwys.
Maar menige ander sou dink dat jy selfs na die Antwoord (http://www.youtube.com/watch?v=8Uee_mcxvrw) verwys - ek meen meer alternatief (maller) as dit, kan 'n mens sekerlik nie kry nie ... veral komende van die ou grote (jy)self ...
Kobus, ek dink nie enigeen kritiseer Jesus Christus onse HERE nie.
Jou bose bedoeling met jou gewetenlose gedweep - dis die kwessie!
Jesus Christus onse HERE trek dermiljoene harte oor die ganse geskiedenis van die mensdom heen reeds aan ...
Soos daar geskrywe staan: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van 'n ander kant af inklim, hy is 'n dief en 'n rower. Maar hy wat by die deur ingaan, is 'n herder van die skape. Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal 'n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie. Hierdie gelykenis het Jesus aan hulle vertel; maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy tot hulle gespreek het nie. Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê. Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. Maar die huurling en hy wat nie 'n herder is nie, van wie die skape nie die eiendom is nie, sien die wolf kom en laat die skape staan en vlug, en die wolf vang hulle en jaag die skape uitmekaar. En die huurling vlug, omdat hy 'n huurling is en niks vir die skape omgee nie. Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken (uit Johannes 10).
Daarenteen Kobus, kan jy en jou afstootlike gevolg aan Matteus 23 gelees word. Soos daar geskrywe staan: Toe het Jesus die skare en sy dissipels toegespreek en gesê: ... wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes (spirituele intelligentes), want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle eet die huise van die weduwees op, en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal julle 'n swaarder oordeel ontvang. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes (spirituele intelligentes), want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom 'n kind van die hel, twee maal erger as julle self ...Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat. Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk! Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid (oneervol geskraap) is. So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid ... Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?
Mag almal onse Jesus Christus onse HERE, onse Goeie Herder se roepstem hoor.
Jou amigo in Adam,
Ekke
Julle praat hier van mense met ernstige psigiese probleme wat werklik bestaan en baie sukkel. Nou is nie die tyd om gode en gemors op te bring nie. As gode werklik bestaan het, het ons net kerke in plaas van hospitale, en net priesters in plaas van dokters gehad. Geloof is placebo vir lui mense en dan werk dit ook nie in meeste gevalle nie.
Hoe afstootlik is jou snert vermeng met die Bybelaanhalings nie, Cornelius. Jy is skaamteloos... jy probeer die Woord misbruik om diegene wie die Woord opreg bring, mee te probeer ontmoedig. Is jy werklik so onnosel om te dink mens kom dit nie agter, nie? Ongetwyfeld wel.
Terloops, watter een van julle is nou weer aan die woord?
Hoe gemaak met 'n 28 jarige jongman wat medikasie (dan stil en kalm) gebruik maar doodeenvoudig weier om te werk - hy gaan nooit selfversorgend wees nie, aanneem Pa koop alles en ondersteun dat hy nie hoef te werk nie, nie eers plante nat te gooi nie ens. Verder as hy dagga en drank inneem, werk die medikasie nie en hy hallusineer en praat van onverstaanbare dimensies, siele wat hy steel ens.
Moet mens die huwelikslewe aanvaar of 'n breuk maak want hierdie luiheid en onbetrokkenheid be-invloed ons huwelik en gesinslewe (God het 2 mense bymekaar gevoeg om een te word maar nou is ons 3) Ons wil binnekort aftree ... Hoe moet ons maak - hierdie ondraaglike atmosfeer probeer ons geestelik en emosioneel aftakel. As iemand raad het, ek luister graag.
Annie
Wil graag weet van medikasie vir skisofrene veral staatspasiënte, want medikasie is baie beperk.