Wees trots op jou taal en kultuur

  • 0

Is jy nog trots op jou taal en jou kultuur? Ek glo dis ’n geldige vraag as mens kyk na die omstandighede vandag in Suid-Afrika. Daar is mos niks fout daarmee om trots te wees op wie en wat jy is nie. Is jy ’n Zoeloe? Wees trots daarop! Is jy ’n Sotho? Wees trots daarop! En is jy ’n Afrikaner? Nou ja, wees trots daarop om ’n Afrikaner te wees! Netso moet jy trots wees op jou taal. As voorbeeld moet Afrikaanssprekendes trots wees op die taal en dit oral gebruik waar hul kan. Praat die taal, skryf die taal en droom in die taal! En is jy ’n Afrikaner wat voel jou kultuur en erfenis is vir jou belangrik? Wel, dan moet jy opstaan vir jou kultuur, jou erfenis, jou tradisies en jou geskiedenis. Moenie toelaat dat dit wat jou na aan die hart lê op getrap word en vernietig word nie.

Suid-Afrika is ’n land met baie tale en kulture en elkeen se reg om sy taal te gebruik en sy kultuur te beoefen moet respekteer word en bevorder word. Daarom is dit onaanvaarbaar dat ’n taal soos Afrikaans oral uitgewerk en misken word. Afrikaanssprekendes word dus so benadeel en op hul regte getrap. En ja, dan trek die Afrikaner ook aan die kortste end deurdat sy bydrae aan hierdie land misken en soms ook ontken word. Die Afrikaner se geskiedenis word verdraai, sy monumente en beelde word verag en beskadig, en dan kry die Afrikaner en witmense ook oor die algemeen die skuld vir alles wat fout is in die land. Dit is mos onregverdig en kan nie so aangaan nie of hoe? Daarom moet elkeen van ons opstaan vir sy regte, trots wees op sy taal, trots wees op sy kultuur en dit uitleef!

Natuurlik met die verkiesing op hande sal kiesers ook moet kyk watter partye gee aandag aan hierdie sake en watter partye sal onbeskaamd veg vir jou taal en jou kultuur. Hierdie verkiesing is uiters belangrik, veral vir minderheidsgroepe, en kiesers sal sulke aspekte in ag moet neem voor hulle hul kruisies gaan trek. Weereens, wees trots op wie en wat jy is en leef dit voluit!

Frik Lotz

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top