Ek en Poppie kom 'n lang pad saam. Sy was amper so goed as deel van my troupakket. Toe was sy nog maar 'n dogtertjie, nie dat sy nou al groter van postuur is nie. Haar pa, ou Kleinbooi het eers by Louis se oupa gewerk, toe by sy ouers en toe by ons. In my tyd was hy die groentetuinman en die melkman.
Deur die jare het hy vir hom 'n klompie beeste bymekaar gemaak. Die dag toe Kleinbooi sy kop vir die laaste maal neerlê, het sy kinders almal 'n paar beeste geërf. Net Poppie en haar man, Gwen, het vorentoe gegaan met hulle boerderytjie met die hulp van Louis. Hulle twee moes ook maar eers hulle ompaaie loop voordat hul uitgekom het waar hul moes wees. Gwen was in die tronk. Daar het sy lewe ten goede verander. Die owerhede het amper van hom vergeet en 'n jaar langer in die tronk gehou. Met sy uitkoms het hy weer sy gesin bymekaar getrek.
Poppie het my help kinders grootmaak. Sy was eintlik maar soos my eie kind. Ons twee het later, toe die kinders groot en op kosskool was, van leer begin handsakke maak. Alles met die hand. Ons het selfs 'n paar sakke uitgevoer. Sy was altyd eerlik in haar opinie. Toe ek begin skilder het, het sy dikwels reguit gesê: “Kleinôi, daai prent van jou lyk nie soos daai ene wat op die foto is nie.”
Sy het later haar eie vier kinders gehad. En so het ons gehelp met die skool toe gaan, die klere, die gesondheid asook die geestelike. Ek en Poppie het ook al saam vroedvrou gespeel toe 'n jong vrou haar eerste kind in die donker ure van die oggend by kerslig in 'n eenvoudige huisie baar. Toe verkoop ons die plaas. Ons twee het mekaar lank vasgehou en jare se saamwees uitgehuil.
Nou is ons na twee jaar weer op pad om vir Poppie en Gwen te gaan groet. Ons parkeer die motor in die groot pad en stap die 500m in die dik sandpad na hulle opstal. Hulle twee is nou finaal hervestig op ons eertydse buurplaas, Goreb. Hulle verwag ons nie. Groot was Poppie se verbasing en blydskap toe ons skielik tussen die kameeldoringbome uit die niet verskyn. Ons tref net die vroumense en die kinders daar aan. Gwen het die kampdrade omgestap. Die ander het gaan skape bymekaarmaak.
Gwen het vir hulle 'n mooi jaart geskep. Netjiese sinkhuisies met draad en stewige hoekpale afgekamp. 'n Paar hoenders skrobbel op die werf. En vir die rede het Poppie haar blomtuin met ogiesdraad toegekamp. Sy was altyd lief vir 'n tuintjie, seker maar van haar pa geërf. Die geel blomme uit my Nuibatuin pronk hier op 'n vreemde werf. Die botterskorsie rank en begin vruggies stoot. En die bruidsbosse! Dan het hulle tog gevat. Kyk hoe mooi. Agter die draad staan mielies. Genoeg vir hulle vir die seisoen. Ook die wasgoeddraad is gemaak van ordentlike pale en draad soos ons dit op Nuiba gehad het. Die skoon geharkte werf maak my hart baie bly.
Gwen was vir ons goud werd. Vandat hy teruggekom het, kon ons met 'n geruste hart weggaan en alles in orde vind met die terugkoms. Hier in hulle nuwe heimat hou hy steeds alles in orde.
Ek was so bekommerd dat hulle agteruit sou boer en dat dit sleg sou gaan met hulle en die kinders. Hulle moes nou volle verantwoordelikheid neem van die kinders se skool en die gepaardgaande.
Ons het heelwat kos gekoop en ek het goedjies vir Poppie van die Kaap af gebring, onder andere materiaal (ek hoor nog hoe roep Poppie agterna as ons reeds aan die ry was Kaap toe: “Kleinnôi, bring vir ons mooi jaarts saam.”) en wol sodat sy vir die kinders warm musse kan brei vir die winter.

Ons besluit ons wag vir Gwen. Ek het my hekelwerkies uitgehaal en saam met Poppie soos van ouds in die boom se koelte gesit op 'n ou kombuisstoel en hekel terwyl sy twee jaar se nuus oorvertel. Louis het kraal toe gestap om na Gwen se beeste te kyk. Net toe kom hy daar aan. Die blydskap op sy gesig het boekdele gespreek.
Hy stap met 'n handvol saad wat hy oor sy grond wil saai om meerjarige grasse te vestig. Dit het hy by Louis geleer. Sy beeste en kalwers is in 'n baie goeie kondisie. Hulle het waarlik vooruit geboer. Hy wil ook die een kamp met 'n draad in die middel verdeel sodat hy dan meer kampe het vir weidingsbestuur, ook by Louis geleer. Hy het Louis se broer vir ou draad gevra en in ruil daarvoor sal hy vir hom 'n vet hamel gee.
Toe stap hulle saam na die voertuig om al die proviand te gaan haal wat ons saamgebring het. Met die stap sê ek: “So, Poppie, al die jare se harde praat het toe darem gehelp. Kyk net hoe skoon en mooi is jou werf.”
Poppie lag lekker en antwoord: “Kleinnôi het nooit geraas nie, behalwe een keer.” Daardie een keer kan ek glad nie onthou nie, maar dit moes definitief 'n indruk op haar gemaak het. Praat 'n mens dan nie maar soms hard met jou kinders nie?
Met alles uitgelaai, staan ons klompie in 'n kringetjie en dank die Here vir Sy genade oor Gwen en Poppie. Dit gaan goed met hulle. Die Bybel lê oop in hulle sinkhuisies.
Waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het.
So met die groetslag sê ek vir Gwen dat hy op Nuiba 'n klein vyeboom en 'n seringboom moet gaan uithaal, want 'n plaaswerf moet vye hê en 'n seringboom gee heerlike, digte skaduwee in die snikhete somer. Toe ons daar wegry, stoot daar 'n diepe vrede in my binneste op en ek weet ons sal mekaar weer sien.
Dit gaan goed met Poppie en Gwen.

