Dagsê Jaco
Jaco, jy haal selektief aan en dit is oneerlik.
So lyk die stukkie in my brief van 19 Oktober:
Of is dit juis omdat a) hierbo geld wat jou so kwaad maak? Dat Dan Roodt bietjie na aan die been sny en dit lê bloot dat i) ....., ii) ....., iii) ..... en iv) dat daar wel Afrikaners is wat pleinweg rugstekers, joiners, meelopers, agterryers en verraaiers is?
Só haal jy dit aan (28 Oktober):
Omdat Dan Roodt bietjie na aan die been sny en dit lê bloot dat i) ....., ii) ..... , iii) .... en iv) dat daar wel Afrikaners is wat pleinweg rugstekers, joiners, meelopers, agterryers en verraaiers is (weereens propagandise aanval op mede Afrikaners wat jou sieninge nie huldig nie, uitgespreek in die swakste smaak moontlik, ook tipies Anton styl)?
Jy laat premis a) weg waarsonder gevolgtrekkings i tot iv ’n totaal ander gevoel weergee. Ook is daar ’n wêreldwye verskil tussen my "dat" en jou woorde-in-my-mond-leggende "omdat"; laasgenoemde dui daarop dat ek dit stel as feite terwyl dit eintlik vrae is wat voortspruit uit premis a).
In plaas van my vertrekpunt en / of gevolgtrekkings aan te spreek (indien jy nie daarmee saamstem nie) maak jy dit af as “propaganda”. Jy ignoreer die hele kwessie en gee weer eens net ’n persoonlike ongegronde mening, die juiste systaptegniek wat jou punte teen Judge Dredd gekos het; in plaas van debatvoer sit jy ’n keel op en verander die onderwerp. Dít is nou wegskram.
Jy haal my aan waar ek sê “betig en uitwys van dwalinge is nie aanval” nie en gaan dan voort om te vra wie my die reg daartoe gee. Ek moes seker eintlik gesê het “kritiseer” in plaas van “betig” (anders moes dit “... betig OF uitwys ...”) maar dit maak nie eintlik saak nie want die reg om te kritiseer, te betig, dwalinge uit te wys, rigting aan te wys kom maar saam met menswees, dis ’n sosiale ding (wat soms baie asosiaal kan wees). Almal het hierdie reg, jy wat Jaco is beoefen dit ook wanneer jy, wat jy die Praag-kliek noem, uitskel. Of die kritiek gegrond is of nie is debatteerbaar vandaar die praktyk van debatvoer wat, onder andere, die verskaf van feite behels.
Van wegskram gepraat: In bogenoemde aanhalings was jy ook weer oneerlik gewees: Jy sê ek beweer die meerderheid Afrikaners is op ’n “dwaalpad” en ek skel hulle uit as “slapgatte” en “gedienstige Afrikaners” terwyl ek dit só gestel het:
In ’n mate is jy reg oor die feit dat hy ’n tipiese Afrikaner is, die slapgat soort wat deesdae, SKYN DIT MY, in die meerderheid is ...
Ek gee ook die redes hoekom dit so vir my SKYN te wees en, in plaas daarvan dat jy my waarneming of veronderstelling probeer weerlê (ek het nou die hoofletters bygesit om seker te maak jy lees dit), begin jy ad-homonimies weeklaag.
Jy praat van my “preutse uitkyk oor die Afrikaanse taal”. Weer eens, ’n ongegronde opinie van jou. Ek het alreeds, meer as een keer as ek die nie mis het nie, dat my Afrikaans nie so perfek is nie; ek is nie ’n taalindoena nie. Ek het dit teen die vervanging van Afrikaans deur Engels. Ek het ook al gesê ek gee glad nie om vir die opneem van Tswana-, Herero-, Zoeloe- of Gujaratiwoorde, of Armeense of Arabiese of Franse of Duitse woorde in Afrikaans nie want nie een van hierdie tale hou ’n bedreiging in vir Afrikaans nie.
Engels hou ’n bedreiging in en dus is die opneem van Engelse woorde en sintaksis taboe. Bewyse dat Engels Afrikaans verskraal is legio; luister maar radio of televisie. In die Kaap is dit al so erg die geradbraakte daar taal het selfs al ’n naam, Afrikaaps of so-iets.
Jy bou op hierdie valse uitgangspunt voort deur te kla dat ek nie jou “... en ander Afrikaners se siening dat Engelse gebruike onder Afrikaners ook ’n plek in sekere omstandighede het, sonder dat hulle lojaliteit aan Afrikaans en die Afrikaner in die gedrang is nie." Weer eens ’n ongegronde persoonlike mening; ek het al voorheen vir jou gesê ek het niks teen Engels per se nie, ek het dit teen die gedienstigheid teenoor Engels ten koste van Afrikaans.
Dinge het nou al so agteruitgegaan dat jou “Engelse gebruike” is nie meer jou keuse is nie, dis ’n verpligting aan die hand gewerk deur ons Afrikaners se selfopgelegde minderwaardigheid.
Jy hou aan my vra om “... feitelike te lewer wat Rooi Daantjie daadwerklik (nie net praat nie) ooit vir die Afrikaner gedoen het ...” Waarvoor? Jy wéét wat hy doen anders sou jy nie so die harnas ingejaag wees deur hom nie. Hierdie versoek van jou is ’n strooipop van ’n rooi haring agter ’n rookskerm; dit is nou vermyding in die ergste graad: Ek vra jou, die afgelope twee weke al, warom jy so neerhalend is teenoor Dan Roodt en jou reaksie is dat ek sy CV moet aanstuur.
Ek sal dit doen as jy aandring maar dit het met hierdie “debat” niks te doen nie. Laat my asseblief weet watter ander vrae van jou ontduik ek volgens jou; ek antwoord dit met graagte.
Groetnis
Jan Rap

