
Foto: Canva.com
Weemoed se spore
Hoe verlang ek nie ...
na jou lyf se lyne teen die Namib se duine,
en jou kyke wat soos gletsers dobber
in die branders van jou siel se onstuimige see.
Jou glimlag wat deur my hunkering kon skeur, soos die weerlig deur ’n stormnag.
Hoe onthou ek nie ...
die vleg van jou vingers deur my roesbruin hare,
en die sluimer van jou lippe op my mond,
terwyl ons harte gallop soos wilde perde.
In fynskrif het ons beloftes teen die hemel geskryf;
daar waar die wêreld ons blydskap kon pluk.
Hoe ween ek nie ...
oor stukkende woorde wat hang in my verdriet,
wat drup soos bloed deur my are van vergifnis,
want my trane het nou te duur geword,
en jou omdraai was net ’n skim in die wind;
daar waar jy jou spore in die sand gelos het.


Kommentaar
Wow Drienie!!!!!
Bitter mooi!!! ♡
Dankie liewe Theresa, jy is altyd goed vir my.
Wow, Drienie. Hierdie is uitstekend, baie mooi.
Skitterend, Drienie!
Ongelooflik mooi!
Stunning, Drienie!
Baie dankie Heidi.🌹