Watergraf
die golwe bloos in skakerings van rooi
wanneer die son laatmiddag teer soene
oor die horison se boesem streel
’n meeu roep na sy maat
terwyl die mishoring
eentonig die laaste skepe huis toe roep
eensaam alleen gooi sy haar hande na bo
in die fynsproeitrane
van die oseaan
wag sy vergeefs op die tuiskoms
van haar hartsmaat
vir ewig verlore
in die dieptes van die see
Kommentaar
Puik digwerk Amanda
Pragtig verwoord
Eisj ... mensie
Die gedig bly die digter se skepping.Ek deel net dit wat by my opgekom het met 'n paar keer se se lees daarvan.
Bloos"kan met 'n ander woord vervang word. Hoekom sou golwe bloos (skaam wees/uitgevang voel deur 'n emosie wat deur "tranemis"aan die klok gehang is dat die golwe saam met die persoon treur?
"Rooi"is 'n goeie kleur vir pyn en seer wat die persoon beleef. Skakerings van rooi bly rooi en dui vir my daarop dat die pyn nog nie oorgegaan het na ligpienk rôse of pienk nie. Maw die belewenis van verwagtig en pyn is intens. Met dít ingedagte wil ek vra of "tere soene"en die son wat oor die boesem van die horison se boesem streel nie te "mooi" geskryf is vir/in die konteks van die gedig nie?
Die meeu wat maat-roep pas goed.
Kan afgelei word dat waar die persoon haar bevind,dit mooiweer is. Die mishoring wat eentonig skepe terugroep vind aanklank by die eensame alleenheid van die persoon. Dit versterk die eie terugroep van haar hartsmaat se terugkoms maar wat nie gebeur nie.
Die hande wat na bo ge "gooi"word, dui op die intensiteit of moedeloosheid wat beleef word omdat haar maat nie terugkom en dat sy besef dat sy afsluiting kan kry met die besef van ewig verlore.Die vraag kom ook by my op of "verlore"nie met "weg" vervang kan word nie. Dit sal dalk die verwagting wegneem en dit meer finaal maak om haar maat nie altyd te wil soek sover en wyd die see vir haar strek nie.
Volgens my is die slot nie sterk genoeg geskryf nie.Dit kan baie sterker geskryf word deur die gemoed van die persoon se verlangpyn. Die titel van die gedig dui daarop dat die hartsmaat in die see verdwyn het en dood is. Die persoon is nog in die proses van aanvaarding by die"moontlikheid" daarvan. Om dit te versterk kan geskryf word met die gedagte dat bv "die see die graf is en die golwe daaroor spoel en toespoel vir altyd wat voorlê. Dit bly die digter se keuse van hoe sy die slot sterker kan skryf.Dis nou waaraan ek gedink het. Hoe dit ookal is,dit kom uit my hart.Ek is 70 jaar jonk en net lief vir poësie.
Baie dankie vir jou insig hier Martina. Ek sal kyk na verandering. Wil net byvoeg dat die golwe "bloos" omdat dit altyd teen laatmiddag is wanneer sy haar geliefde gaan inwag. dit is dan wannneer die skepies inkom en ook dan wanneer die son rooi op die water weerkaats - rooi glans op die golwe.
Baie dankie Anze, word opreg waardeer
Dankie Driekie ek waardeer jou stilstaan hier
Ja Swaar, dankie vir jou saamlees. Hartseer maar waar.
Welgedaan