Hier in die laaste jare van Hoërskool het ek so een of twee keer pak gekry. Nie omdat ek dit nie verdien het nie, maar net omdat ek effens balhorig was. Ander kere en veral in die begindae, het ek ook pak gekry. Dit was egter suiwer uit verdienste. Ek is glad nie spyt daaroor nie, en die inleiding van die hierdie skryfding het dit verseker nie ten doel om ’n menseregteskending aan die kaak te stel nie. Om die waarheid te sê, in terugblik, het dit my help mensmaak.
Ons liggaamsopvoeding-meneer, mnr Brand, het ’n dikkerige plankie in die vorm van ’n halfmas krieketkolfie in die houtwerkklas laat sny. Die plankie is dan ingespan as dissipline-hulpmiddel en motiveerder en om by gebrek aan voorgenoemde, die sitvlak van die ongehoorsames warm te maak. Drie of vier van die bestes, soos hulle dit genoem het. Mnr Brand hoef my net een keer pak te gegee het. Na daardie drie houe was my insig en wysheid terug en my geheue opgeskerp om dit nie weer te gaan soek nie. Sy ván het sy daad besonders goed gepas.
As my sukkelende korttermyngeheue nie verkeerd is nie, het ons in daardie jaar LO op ’n Dinsdag gehad. Ieder geval, die onbesonne herfsoggend het ek en twee maters per ongeluk ons swemklere by die huis vergeet. Dieselfde wat ons die vorige week per ongeluk oorgekom het. Toe reken ons: wat Meneer nie sien nie, sal Meneer nie pla nie en gaan sit ’n bietjie op die pawiljoen in die sonnetjie en gesels. Terwyl die ander manne swem.
Ek onthou nog hoe ek my bene net lekker voor my uitgestrek het, toe die kalm maar ferm stem hier agter teen die pawiljoendak klap ... “Wat maak julle hier?”
Daarna het my mater Marius twee keer rondom die skoolgebou gehardloop om sy rooiwarm vlamboude in die herfslug af te koel. Dit was tog goeie tye.
Die anderdagoggend in my eie-tyd, vertel Elia ’n verhaal uit die geskiedenis van Israel se koningsanale. Hoewel Elia as profeet ’n gerekende man van God was, het hy die profesie laat wag en daar in die Horebberg in ’n grot gaan oornag. Tot die Here hom daar kom roep het ... “Wat maak jy hier?” En hy, Elia, die profeet-der-profete, kon geen sinvolle antwoord gee nie. Voedsel vir ’n dinkding.
Hoe nutteloos sal ’n mens se bestaan wees en hoe stukkend sal jou menswees grond toe krummel wanneer jy jouself die vraag vra ... “Wat maak jy hier?” en die antwoorde wat uit jou eie Herobberg-se-grot gemompel word, is iets van: Ek eet, slaap en werk net ... of ... ek leef met my kommer bo-op die maatemmer, vir almal om te sien hoe verontreg ek is ... of ... ek “soek” myself; êrens daar buite moet ek tog iewers wees.
Of dalk: “Ek oorleef op die enigste wyse wat ek ken.”
“Wat maak jy hier?”
Ek hoor, luister, dink en doen
om te soek na niks, te besin,
om gister se dinge vandag te versoen,
en betekenis te vind,
in wat ek nooit verloor het nie.
Om binne myself,
saam met my God te leef,
sonder somber slimmighede
te wees en te sterf, eenvoudig.
En wanneer ek dit elke dag kan antwoord, dan het ek rede gevind om hier te wees.
Groete vir Meneer Brand.
Hennie Fritz


Kommentaar
(Glimlag)
Dis mooi gestel ...
Diep man diep. Ek dink elkeen van ons wroeg van tyd tot tyd met dieselfde vraag. Wat maak jy hier? Ek het al voorheen geskryf van Koos Kombuis wat 'n gas by 'n sielkundige inrigting was en een oggend iemand 'n soortgelyke vraag gevra het. Die persoon het net gevra, "why are we all here" toe iemand anders antwoord, "because we are not all there". Ek stem saam, mens moet met innerlike vrede met die Hemelse Vader leef, met jouself en ander. Mens moet ook nie wroeg oor goed nie. Vergewinsgesind, lankmoedig en tevrede met jouself wees. Ons leef op die stadium in 'n samelewing waar die mense kwaad is. Weet nie hoekom nie. Dit is asof almal iemand iets skuld en niemand mekaar iets gun nie. Sal maar wag en sien.