Jan Rap maak die stelling dat ons dalk by mekaar verbypraat oor dinge soos die evolusieteorie omdat almal nie heeltemal op hoogte van die konsepte is nie. Dis 'n uiters geldige stelling en ek stel voor dat ons eerstens net gesels oor die konsep van 'n wetenskaplike teorie en daarna oor die evolusieteorie as voorbeeld van die konsep.
Die woord teorie kan twee betekenisse hê. Teorie word soms gebruik om iets te beskryf wat bloot bewerings en bespiegelinge is. Hoe dikwels het ons nie die afgelope tyd om die braaivleisvuur gehoor: "my teorie oor die bokke se swak spel is …". Dis egter nie wat met met die woord in die wetenskaplike wêreld bedoel word nie.
In teenstelling, met bogenoemde gebruik van die woord ‘teorie’ word dit in die wetenskap gebruik om iets heeltemal anders en feitlik die teenoorgestelde konsep saam te vat. In wetenskaplike terme is 'n teorie 'n samehangende groep getoetste proposisies, wat algemeen as korrek beskou word en wat as beginsels aanvaar word as verklaring en voorspelling van 'n spesifieke verskynsel. Sinonieme vir die woord ‘teorie’ in dié verband is wet, model, beginsel of doktrine. Geen wetenskaplike teorie is egter 'n finale en absolute beginsel nie en is voortdurend blootgestel aan herhaalde toetsing. Enige nuwe data wat die teorie ondersteun, versterk die teorie terwyl nuwe data wat die teorie weerspreek, die teorie ondermyn en wysigings aan die teorie te weeg bring. Teoreties is geen teorie dus onaantasbaar nie. Solank dit nie in die praktyk weerspreek word deur nuwe data nie word dit aanvaar as geldige verklaring vir die betrokke verskynsel. Dit staan enigiemand vry om met die nodige bewyse die teorie uit te daag en met 'n beter een te vervang − dit moet net met bewyse ondersteun kan word.
Kom ek verduidelik dit aan die hand van die volgende voorbeeld. Isaac Newton het teorieë ontwikkel wat die gedrag van bewegende voorwerpe verklaar. Hierdie teorieë is getoets en telkens geldig bevind en hoe meer bevestiging van die teorieë gevind is, hoe meer aanvaarbaar het dit geword en uiteindelik is dit algemeen aanvaar as die geldige verduideliking vir bewegende voorwerpe. Wetenskaplikes het egter die teorieë bly toets en verifieer en uiteindelik bevind dat die teorieë nie universeel geldig is nie. Tyd, wat as 'n konstante in Newton se teorieë beskou is, is bevind as variërend en so is Albert Einstein se spesiale relatiwiteitsteorie gebore. Die beweging van klein voorwerpe op atomiese vlak kon nie meer deur Newton se teorieë beskryf word nie en is nuwe teorieë ontwikkel om byvoorbeeld die beweging van ligdeeltjies te beskryf. Albert Einstein het voorgestel dat daar 'n teorie ontwikkel kan word wat universeel geldig kan wees om die gedrag van groot en klein deeltjies te verklaar. Hy is egter dood voor hy so 'n teorie kon formuleer. Hierdie proses gaan vandag nog voort en worstel wetenskaplikes steeds met die soeke na so 'n universele teorie.
Die evolusieteorie is ook so 'n teorie wat vir ons die verskeidenheid van lewe op aarde verklaar en voorspel. Dis beslis nie in beton gegiet nie en heelwat aanpassings is al sedert Charles Darwin se tyd gedoen. Soos ek in my vorige skrywe gesê het bevestig die navorsing van die wetenskaplikes oor die Khoi- en San-mense die teorie en dra dit by tot die algemene aanvaarding van die teorie, as verklaring van lewe, deur wetenskaplikes wêreldwyd. Oor die essensie van die teorie sal ek in 'n volgende skrywe uitwei.
Groetnis
Thomas


Kommentaar
Thomas,
Dankie Thomas. Ek dink jy het die evolusieteorie se "agterdeur" nou mooi groot oop en wyd gemaak. So reg en gereed vir die evolusioniste se volgende ontsnapping roete ten ondersteuning van die steeds onbewysde evolusieTEORIE.
Sterkte
Dolf
Thomas: Ek verkies eintlik die woord "model," en ek sien hy word deesdae ook al meer gebruik in die plek van teorie, wet ens. Ek dink "model" is miskien die mees beskrywende woord vir die konseptuele raamwerke waarmee wetenskaplikes na vore kom. Dit verhoed dan ook die verwarring wat ontstaan a.g.v. van die woord "teorie" se betekenis in algemene gesprekstaal.
Beste Dolf,
Dankie Thomas,
Dankie Thomas, geeneen sou dit beter onder woorde kon bring nie... ek sien beslis uit na die ontiese van die wetenskaplike beskouing in jou volgende bydrae... Namaste!