Wat is 'n wetenskaplike teorie?

  • 5

Jan Rap maak die stelling dat ons dalk by mekaar verbypraat oor dinge soos die evolusieteorie omdat almal nie heeltemal op hoogte van die konsepte is nie. Dis 'n uiters geldige stelling en ek stel voor dat ons eerstens net gesels oor die konsep van 'n wetenskaplike teorie en daarna oor die evolusieteorie as voorbeeld van die konsep.

Die woord teorie kan twee betekenisse hê. Teorie word soms gebruik om iets te beskryf wat bloot bewerings en bespiegelinge is. Hoe dikwels het ons nie die afgelope tyd om die braaivleisvuur gehoor: "my teorie oor die bokke se swak spel is …". Dis egter nie wat met met die woord in die wetenskaplike wêreld bedoel word nie.

In teenstelling, met bogenoemde gebruik van die woord ‘teorie’ word dit in die wetenskap gebruik om iets heeltemal anders en feitlik die teenoorgestelde konsep saam te vat. In wetenskaplike terme is 'n teorie 'n samehangende groep getoetste proposisies, wat algemeen as korrek beskou word en wat as beginsels aanvaar word as verklaring en voorspelling van 'n spesifieke verskynsel. Sinonieme vir die woord ‘teorie’ in dié verband is wet, model, beginsel of doktrine. Geen wetenskaplike teorie is egter 'n finale en absolute beginsel nie en is voortdurend blootgestel aan herhaalde toetsing. Enige nuwe data wat die teorie ondersteun, versterk die teorie terwyl nuwe data wat die teorie weerspreek, die teorie ondermyn en wysigings aan die teorie te weeg bring. Teoreties is geen teorie dus onaantasbaar nie. Solank dit nie in die praktyk weerspreek word deur nuwe data nie word dit aanvaar as geldige verklaring vir die betrokke verskynsel. Dit staan enigiemand vry om met die nodige bewyse die teorie uit te daag en met 'n beter een te vervang − dit moet net met bewyse ondersteun kan word.

Kom ek verduidelik dit aan die hand van die volgende voorbeeld. Isaac Newton het teorieë ontwikkel wat die gedrag van bewegende voorwerpe verklaar. Hierdie teorieë is getoets en telkens geldig bevind en hoe meer bevestiging van die teorieë gevind is, hoe meer aanvaarbaar het dit geword en uiteindelik is dit algemeen aanvaar as die geldige verduideliking vir bewegende voorwerpe. Wetenskaplikes het egter die teorieë bly toets en verifieer en uiteindelik bevind dat die teorieë nie universeel geldig is nie. Tyd, wat as 'n konstante in Newton se teorieë beskou is, is bevind as variërend en so is Albert Einstein se spesiale relatiwiteitsteorie gebore. Die beweging van klein voorwerpe op atomiese vlak kon nie meer deur Newton se teorieë beskryf word nie en is nuwe teorieë ontwikkel om byvoorbeeld die beweging van ligdeeltjies te beskryf. Albert Einstein het voorgestel dat daar 'n teorie ontwikkel kan word wat universeel geldig kan wees om die gedrag van groot en klein deeltjies te verklaar. Hy is egter dood voor hy so 'n teorie kon formuleer. Hierdie proses gaan vandag nog voort en worstel wetenskaplikes steeds met die soeke na so 'n universele teorie.

Die evolusieteorie is ook so 'n teorie wat vir ons die verskeidenheid van lewe op aarde verklaar en voorspel. Dis beslis nie in beton gegiet nie en heelwat aanpassings is al sedert Charles Darwin se tyd gedoen. Soos ek in my vorige skrywe gesê het bevestig die navorsing van die wetenskaplikes oor die Khoi- en San-mense die teorie en dra dit by tot die algemene aanvaarding van die teorie, as verklaring van lewe, deur wetenskaplikes wêreldwyd. Oor die essensie van die teorie sal ek in 'n volgende skrywe uitwei.

Groetnis

Thomas

  • 5

Kommentaar

  • Thomas,

    Dankie Thomas. Ek dink jy het die evolusieteorie se "agterdeur" nou mooi groot oop en wyd gemaak. So reg en gereed vir die evolusioniste se volgende ontsnapping roete ten ondersteuning van die steeds onbewysde evolusieTEORIE.

    Sterkte

    Dolf

  • Thomas: Ek verkies eintlik die woord "model," en ek sien hy word deesdae ook al meer gebruik in die plek van teorie, wet ens. Ek dink "model" is miskien die mees beskrywende woord vir die konseptuele raamwerke waarmee wetenskaplikes na vore kom. Dit verhoed dan ook die verwarring wat ontstaan a.g.v. van die woord "teorie" se betekenis in algemene gesprekstaal. 

     
    Terloops, om met kreasioniste te redekawel is grootliks 'n mors van tyd. Hulle stel nie daarin belang om te verstaan wat jy sê nie. Dolf se kommentaar hierbo is 'n tipiese voorbeeld: jy doen al die moeite om 'n ding te verduidelik, maar uit sy kommentaar is dit vir my glashelder dat hy nie woord verstaan het wat jy geskryf het nie. Hy hou aan dink die woord teorie beteken "wilde raaiskoot." Hy hou aan dink dat die buigsaamheid van wetenskaplike teorieë hul groot swakheid is, terwyl dit in werklikheid juis hul sterk punt is. Ek vermoed hy het nie eers gelees wat jy geskryf het nie. Hy wil nie debatteer of iets leer nie; hy wil preek.
     
    Dit is ook nie juis nodig om met kreasioniste te redeneer nie. Die evolusie-model word wêreldwyd in wetenskaplike kringe aanvaar en elke dag gebruik om dieper in die natuur se geheime in te delf. Dit is nou deel van skole in Suid-Afrika se leerplanne (behalwe dalk CVO-skole?). Dit word deur alle hoofstroomkerke ook aanvaar. Wat die fundamentaliste te sê het maak doodeenvoudig nie meer saak nie. Mens hoef jou glad nie aan hulle te steur nie - as hulle nie van die lig hou nie,moet hulle dan maar in die duisternis leef. 
     
  • Beste Dolf, 

     
     Jy verstaan die gebruik van die woord “teorie” in die wetenskap nog nie reg nie. Die doel van ? teorie is nie om reg of verkeerd bewys te word nie. Die doel daarvan is om as model te dien vir dit waarmee jy besig is. ? Voorbeeld: om ? huis te bou het ? mens ? plan nodig. Die plan is nie die huis nie, maar slegs ? werkswyse waarvolgens die huis gebou moet word.  Foute aan die plan sal deur mense wat daarmee werk, uitgewys en verbeter word.  Netso is die evolusieteorie ? plan ? model om lewe op aarde beter te verstaan as wetenskaplikes dit navors en daarmee werk. Sedert Darwin hierdie model geskep het, het baie dinge bygekom. Ander dissiplines het nuwe bydraes gelewer, die genetika het nuwe rigting aangewys, en daar is baie  knelpunte soos wat seleksie nou eintlik is. Is natuurlike seleksie, nie eintlik maar net neutrale seleksie nie, ens.
     
     Die evolusieteorie kry teenkanting vanuit Christelike geledere, want dit kom nie ooreen met die Bybel nie. Die Bybel sê dat elke spesie onafhanklik na sy soort geskape is. Nog geen wetenskaplike navorsing het bewyse gevind dat die evolusieteorie verkeerd is nie, en geen wetenskaplike navorsing het die Bybelse teorie al waar bewys nie. 
     
     Jy sal nou vir ons hier op SêNet moet verduidelik waarom jy dit wat in die Bybel staan as korrek beskou, en dit wat nagevors is, as verkeerd.  Ek het êrens vir jou gevra of jy my meting van  ? sirkel se omtrek as 3.14159265359 maal dié van die middellyn as verkeerd sal beskou omdat die Bybel sê die omtrek is driemaal die middellyn? Sover ek weet, het jy my nog nie geantwoord nie. 
     
     Groete,  Angus
  • Dankie Thomas,

     
    Jy het dit so duidelik gestel,dat daar werklik nie meer verwarring kan wees nie.Brianvds se woord "model",maak dit verder selfs duideliker om die wetenskaplike werkwyse te verstaan en verwarring te voorkom.
     
    Dis dan tog jammer dat betekenislose opmerkings wat geen bydrae lewer,hierop gemaak is,in die verstokte skrywe deur ene Dolf.
     
     
  • CorneliusHenn

    Dankie Thomas, geeneen sou dit beter onder woorde kon bring nie... ek sien beslis uit na die ontiese van die wetenskaplike beskouing in jou volgende bydrae... Namaste!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top