Onlangs het ek na aanleiding van ’n klompie skrywersuksesse die vraag gevra: “Is ek nou ’n skrywer?"
Ek weet nog nie, maar toe begin ek wonder wat ’n skrywer nou eintlik is.
’n Halwe leeftyd gelede sit ek, toe nog ongetroud, en my ma in Jan Rabie se huis in Onrus en eet van sy befaamde seewierjellie van destyds.
Jan noem nostalgies al die skrywers op wat Onrus al opgelewer het, en toe nog oor beskik het. Ja, ’n indrukwekkende lysie, maar hy noem nie my destydse stiefpa, en neef van my oorlede pa, Barend J Toerien nie.
Toe noem ma maar sy naam.
“Ja, Barend ... hy probeer ook skryf.”
Maar in Jan se boek, ’n Boek vir Onrus, is hy taamlik danig met Barend, wat as skrywer ook ’n Onrusinwoner kom word het.
In hul genres was daar maar min gemeen tussen Barend en Jan, beide intussen heengegaan. Barend het homself in die eerste plek as digter beskou, hoewel sy reisjoernale vir my persoonlik meer aangetrek het.
Via Barend se status as skrywer het ek nie so seer aan skrywers blootgestel geraak nie, maar tog in ’n mate aan die leefwêreld waarbinne skrywers (of dan “hul soort” skrywers beweeg het.
En is ek so ’n paar geheime meegedeel. Die eerste is, die skrywer is die gewete van die nasie. Hy moet die sosio-politieke onregte aanspreek. Hy moet soms profeties ook wees en die moeilikheid sien kom ook.
En dan moet die skrywer ook die saak van die “underdog” steun.
Dis nou as ’n skrywer vir ’n meer letterkundige erkenning in aanmerking wil kom as ’n veertjie of ’n ding hier en daar. Soos die Hertzogprys of iets formidabel.
Maar wie het iets gesê van konsekwent?
As “gewete van die volk” is apartheid gelooi en gelooi. Dit het naderhand amper geword soos die “beauty pageants” waar die een mooi, maar dikwels leë koppie na die ander iets moes sê van die hoër dinge in die lewe waaroor hulle sterk voel. Hulle kan maar sê hulle voel sterk oor misdaadbekamping, en iets oor diereregte (maar nie so veel nie want van die borge is in die modewêreld en pelse is ’n sensitiewe kwessie), maar alles is onvolledig tot hulle darem hul steun vir wêreldvrede toesê.
En kyk, as die vorige regering ’n boek verbied het, dan was die skrywer omtrent ’n fris pasella in sy kerskous gewaarborg.
Maar apartheid is nou al 22 jaar daarmee heen, en die ANC het dadelik oorgegaan daartoe om weer naakte rassisme in te stel. Stroes njannies, daar is selfs hofsake al hieroor gevoer. Soos die Walker-saak in die grondwetlike hof. Dis lankal bewys, al stry die ANC.
Presies waar staan die eertydse ridders teen apartheid nou?
Presies hoeveel boeke gaan nou vir die Hertzogprys in aanmerking kom as die beoordelaars nou ’n slag besluit iets wat hom teen die hedendaagse rassisme ongeregtighede uitspreek moet nou as “sosio-politieke gewete” en die intree vir die “underdog” ter sprake kom? Wat is die kanse dat ’n bekende literator die land sal deurkruis vir navorsing oor plaasmoorde?
Bygesê, skrywers wat ’n gedrukte boek op die rak wil sien, het nog die “lastigheid” om by daai formidabele ding, die uitgewer, verby te kom. As iets nie “politiek korrek” is nie, dan is dit “ongeloofwaardig” al kom al die navorsing net so as feite uit koerantargiewe. Het self so ’n “nee” op die rekenaar en wat toe maar in Amerika uitgegee is. Intussen is daar nou hier en daar ’n uitgewer wat skynbaar juis spesialiseer op die politieke inkorrekte onderwerpe.
En daai profetiese ding? Gaan die hele Nkandla-nagmerrie al ’n argeologiese nalatenskap wees voor die letterkunde-skrywers as gewete van die volk reg belyn gaan wees om dit in ’n werklike letterkundige werk te verewig?
Nou moet ek dadelik sê, wat dit betref is Breyten Breytenbach meer konsekwent – hy spoel minstens sy mond oor die ANC se vergrype uit, en hy is ook heel suur vir die ikon, Nelson Mandela.
Ma, baie godsdienstig, was nogal geskok oor Barend so ontstoke was toe iemand wat waaragtig ’n boek geskryf het waarin godsdiens nie gelooi is nie, ’n letterkundeprys kon kry. “Want ’n mens skryf nie oor godsdiens nie.”
My eie, laaste “gesprek” met Barend was ook toe hy my gebel het en vreeslik Boontoe gevloek het. Daarna het ek nie weer die telefoon geantwoord as die “identikôl” verklap dis hy nie, en toe is hy dood.
Moet ’n skrywer dan hoogs bedônnerd kan raak? Soort van sy kenteken van sy kunstenaarstemperament? Moet die &^%$n vloekwoorde uitgespel word al leen die spesifieke genre hom juis daartoe dat dit “gebliep” word. Dink maar hoeveel Afrikaanse treffers op TV waar die vloeke gebliep is (en dit snaakser maak) hoogs suksesvol was, maar doodgewoon as fliek walglik geword het omdat die vreeslikste vloekwoorde oordadig ongebliep opgedwing word?
Moet ’n skrywer “anders” dink oor goed soos godsdiens, of ’n paar trekke dagga vat, en watter soort “skrywerswyn” nou mode is?
Nou nie skrywers nie, maar skilders; ek moes ek by geleentheid ’n onderhoud by Oliewenhuis met ’n kunstenaar gaan voer. Regte plaasmeisie, maar daar is ’n annerlike gekwetter en gejil van ander whannabies wat uitstal en koffie drink en stook. Soos blits is ek na by maande in die HOP-skema se kaal dakbalke teruggevoer – met ’n snerpende winterwindjie wat oor die Vrystaatse vlaktes aangewaai word. En so by die “carpenters”, die “plammers” en slootgrawers ’n daggadeuntjie bykry.
En ek op slag ’n verblindende hoofpyn.
By Oliewenhuis vloog ek op, kyk waar die werkers is wat nou so dagga stook, en pluk die selfoon uit om die polisie te bel. Kollega paai: “Dis die kunstenaars. Dis ‘in’, hulle rook almal joints.”
Ek skaal my woedebui af, en sê dus net kliphard sodat almal binne ’n dertig meter radius duidelik moet hoor: “As ek oor drie minute nog dagga ruik bel ek die polisie.” Drie minute later nie ’n walmpie nie, net ’n moerse klomp suur kyke. Soos gebruiklik het ek nie eens beltyd op my selfoon gehad nie.
Om ’n lang storie kort te knip – as mens moet dagga stook om “kunsskryf” te kan doen, as mens “vrydenkend” oor godsdiens moet wees, dan wil ek nie ’n skrywer word nie.
Verstaan my mooi, ek is nie teen kuns nie. ’n Paar van my eie skilderye is al ten bate van ons jongste, wat outisties is, se trustfonds verkoop. Ek kom uit ’n familie van musici. Selwers het hierdie talent wyd gehou – het tot by “Mary had a little lamb” op die klavier gevorder voor my ouma, ’n befaamde musikus en orrelis, die handdoek met my ingegooi het. En as ek die altblokfluit kan kry wat die gesin wegsteek, kan ek darem “Amazing Grace” en ’n paar ander goed daarop speel.
En ja, ’n regte skrywer is ’n woordkunstenaar. Maar kunssmaak is wyd, en ’n mens hoef stellig nie die “artie-tipe” te wees om ordentlik te kan skryf nie.
Iets wat ek bewonder, maar self nie trek voor het nie, is die vermoë om mooi te kan skryf. Met wonderlike woordvernuf die emosies diep doer te gaan haal, dit op die oor te plaas en saggies te stryk sodat dit ’n woordemelodie word wat aanhou en aanhou strelend vloei. (Sien, ek maak nogal uit van).
Sommer vroeg op universiteit kry ons Sy kom met die sekelmaan as voorgeskrewe boek Dis hoog aangeslaan, en ek begin dit entoesiasties lees. Maar kort voor lank is dit te te. Ek gaan verneem by die dosent of ek nie maar ’n ander boek kan kry nie. Maar ta’ Hettie is verpligtend, en ek worstel nog ’n entjie. Toe gaan vertel ek vir die dosent daar is nie ’n kat se kans dat ek daai boek gaan deurlees nie. Ek skraap deur. (Ek het ’n soortgelyke moeilikheid gekry omdat ek ook te veel met St Dooyeweerd verskil het, destyds onaantasbaar by Kovsies en die PUK).
Toe ta’ Hester van my kortverhale oor Radio Rosestad voorgelees het, sê sy op ’n dag my stories is “mannetjiesagtig.” Sy verseker my sy bedoel dit nie sleg nie, dis net dat die sagter aanslag van ’n vroulike skrywer in my stories ontbreek. Nou ja, of die feit dat ek so met die sekelmaan gepla was, en my mannetjiesagtige skrywery iets met mekaar in verband het, weet ek nie.
Die genres waarmee ek my meer vereenselwig is dit wat Jan Spies, Herman Charles Bosman, Langenhoven en PH Nortjé bekend gemaak het. En laat ek duidelik sê, hulle was almal veelsydig, maar ek bedoel daardie deel wat hulle met mekaar in gemeen het. Die korter storie met die droë humor.
Miskien oor ek disleksie het, of aandagafleibaar is, dis waarmee ek my graag identifiseer, maar nie probeer nadoen nie omdat ek net nie die geduld het vir “scene setters” en “ontplooiings” en al die vereistes van die genre nie. Trouens, ek kan nie eens al die stappe onthou nie. Ek wil nou nie sê alles gebeur by my gelyk nie, maar eerder wanneer die storielyn hom daartoe leen. Elke storie word dus volgens sy eie potensiaal ontplooi.
En ja, ek is so bang vir ’n skryfslypskool soos die duiwel vir die slyp(skool)steen.
Die “unieke ontwerp” van elke storie geld ook vir my deernisverhale, dikwels geïnspireer deur ons jongste, wat soos gemeld outisties is (En al self ’n hele paar van sy eie kunswerke verkoop het, én ’n bergfietswedren gewen het en judo neem). Wanneer ’n mens oor outisme oplees, is dit ’n lang lys van “tipiese” kenmerke. Maar leef saam met so ’n kind, sien hoe hy ontwikkel, en ’n mens word al hoe meer bewus van dit wat die kenners maan ’n mens nie moet vergeet nie. Elkeen is ook uniek, elkeen het sy eie persoonlikheid. En ons jongste is besonder lieftallig sodat hy lank nie korrek gediagnoseer is nie. En so is elke deernisgeval wat ’n mens mee verryk word uniek, en elke storie wat dit weergee moet ook uniek wees en buite-om versmorende reëls kan ontvou.
Of dit werk, is ’n ander vaag.
Selfs waar daar besliste formate is, verkies ek die vryer formaat, soos in die joernalistiek. ’n Berig begin met ’n intro, wat die wat, waar, wanneer en hoe (en as dit kan, hoekom) bevat. ’n Koerant het selde genoeg plasingsruimte vir die volle storie, dus word die belangrikste feite eerste gestel, sodat dit nie saak maak as die stert afgekap word nie. Maar daar is baie geheime in daai intro opgesluit. Dis ’n kuns om die opsommende intro te laat lééf. Die leidende intro, wat steeds die hoe, wat waar ens beantwoord, is doodgewoon makliker en laat die leser makliker by die intro verbylees. Bv: “’n Vrou het bloedstollende gegil terwyl haar man haar met die broodmes al om die bed gejaag het, is in die Bloemfonteinse landdroshof getuig waar Koos Pompies (35) op ’n aanklag van poging tot moord tereg staan.”
Natuurlik gaan ’n redakteur nie toelaat dat al die berigte in sy koerant so begin nie.
’n Goeie storie deur ’n skrywer, verskil van bloot ’n storie, soos ’n goeie foto van ’n kiekie verskil. Dis kuns. Die kiekie probeer alles insluit. Die foto kyk na balans, komposisie, beligting, fokus en benut dit wat die persoon wat na die foto kyk, reeds weet. Op ’n kiekie sit die knapie daar op die trekker wat voorwiele, agterwiele en skoorsteen kompleet op die “foto” het. Op die foto word ’n interessante hoek gesoek, en balans verkry. Heel waarskynlik is net die knapie, die skoorsteen (of deel daarvan, en ’n deel van die groot agterwiel op die foto. Die res “sien” die kyker in sy gedagtes.
In ’n storie wat handel oor ’n gesprek aan tafel waar lekker warm sop gedrink word terwyl die weer buite, hier langs die see maar grou is, hoef nie alles buite detail beskryf te word nie. Die leser kleur die beeld in, want die fokus is in die kothuis – die storie om die kern geweef. En die meeste weet hoe grou dit op ’n grou dag langs die see kan wees.
En nee, ’n mens hoef nie lang hare, ’n baard en ’n kopdoek te hê om dit te kan skryf nie. ’n Mens hoef nie “eksentriek” te wees nie. ’n Mens mag maar Sondae kerk toe gaan.
Herman Toerien


Kommentaar
Mooi Herman. Terloops, dikwels is dié wat die image nastreef, die lang hare, toutjiesbaard, Cato-brilletjie en klere vol kolle juis die wat iets nastreef wat hulle nie is nie maar graag wil wees. Daar is wel die ware virtuose wat so lyk bloot uit hoofde van 'n traak-my-nie-agtigheid; so'n ou sal 'n pak ook aantrek as die toevallig bo op die ander klere onder in die kas lê. Maar, soos jy sê, jy hoef nie eksentriek te wees om uiting aan jou talent te gee nie.
'n Ander interessante opmerking van jou is die ridders teen apartheid, wat maak hulle nou. Met Max se inbelprogram destyds toe hy moes help om die Afrikaner se kop geskuif te kry het 'n inbeller hom gevra wat hy gaan doen as die sogenaamde apartheid nou weg is en sover ek kon onthou het Max nie eintlik geweet nie. Wat 'n wonderlike ding was apartheid nie vir hierdie mense nie. Sou André Brink byvoorbeeld bloot uit sy ander stories, reisverhale en die soort van ding, soveel munt kon slaan as wat hy uit ontuig kon doen?