Wat is goeie wetenskap? Melodie Nöthling Slabbert reageer

  • 0

Melodie Nöthling Slabbert reageer op die artikel “Onderweg na goeie wetenskap 2: Die funksie van strategie, visie en beleid” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Fanie de Beer en Braam Roux.

Braam Roux en Fanie de Beer se bespreking oor die strewe na goeie wetenskap in ’n reeks van vier artikels (“Onderweg na goeie wetenskap”), waarvan twee reeds op LitNet Akademies verskyn het, nl “Ewekniebeoordeling: betroubare weegskaal of vyfde wiel aan die wa?” (7(2), 2010) en “Word goeie wetenskap bevorder of belemmer deur strategie, visie en beleid?” (7(3), 2010), kon nie op ’n beter (en moeiliker!) tyd gekom het nie. In laasgenoemde artikel bespreek die skrywers die ASSAf se Report on a strategic approach to research in South Africa (2006) en die NRF se NRF Vision, 2015: Strategic plan of the NRF (2008) baie krities. Die skrywers noem ’n paar geldige punte, en vra uiters relevante vrae oor onder andere die verpolitiseerde taal waarin die dokumente geskryf is, onduidelikhede oor die vertolking van sekere polities-gelaaide terme (soos transformasie) binne die konteks van die strewe na goeie wetenskap, die klem op navorsing as instrument tot groter welvaart (as welvaartskepper), en die gevolglike uitwerking van hierdie instellinge (NRF en ASSAf) op die aard en rol van kennis in ’n baie wyer sin. Een gevolg van die fokus op navorsing as welvaartskepper is byvoorbeeld dat kennis wat nie ’n markwaarde het nie, geleidelik uit kurrikula uitgefaseer word (in die regskurrikulum is die weglating van Romeinse Reg as regsvak ’n teer punt).

Die veranderende rol van universiteite en die transformasie van universiteite van kennisinstellinge tot sake-instellinge (of eerder geÑ—nstitusionaliseerde kennisfabrieke) wie se waarde uitsluitlik bepaal word deur hul vermoÑ‘ om in die onmiddellike behoeftes van die mark te voorsien, gaan gepaard met ’n grootskaalse standaardisering van kursusinhoude en die gevolglike en noodgedwonge behoefte aan gehaltebeheer ten opsigte van hierdie inhoude. Toelatingsvereistes wat aanvanklik die “plafon” tot verdere studie was, is by baie instellinge verlaag ten einde aan die groot en groeiende behoefte aan tersiêre onderrig te voorsien. Die gevolg van die ramp wat hierdie verlaging en verslapping van toelatingsvereistes oor die algemeen tot gevolg het, is dat die bodem van tersiêre onderrig behoorlik uitgeval het.

Dit bring mee dat daar by sommige universiteite ’n ongekende getal eerstejaarstudente opdaag, waarvan slegs ’n breukdeel hul eerste jaar slaag. Die etiese sy van hierdie praktyk kan inderdaad bevraagteken word, want daar word sodoende ’n bepaalde verwagting by hierdie studente geskep dat hulle wel in staat is om ’n universiteitskwalifikasie te verwerf (om nie eers te praat van die lonende inkomste wat vir die tersiêre instellinge hieruit gegenereer word nie). Hoe lofwaardig ook al die motivering vir verlaagde toelatingsvereistes, naamlik om historiese ongelykhede wat deur apartheid en ’n segregrasiebeleid veroorsaak is, te oorkom en te voorkom dat hierdie erfenis belowende studente met potensiaal toegang tot tersiêre studie verhinder, blyk dit meer probleme as oplossings te skep. Dit is egter ’n onderwerp vir ’n ander dag. Die relevansie hiervan vir die huidige tema is dat die behoefte aan groter befondsing by hierdie instellinge kritiek geword het. Hierdie behoefte ontstaan uiteraard ook as gevolg van die behoefte aan ’n groter personeelkorps om in die eise van die groeiende studentegetalle te voorsien, maar ook as gevolg van enorme finansiÑ‘le verliese weens uitstaande studentegelde. Een uitvloeisel hiervan is toenemende druk op navorsers om hul navorsingsuitsette te verhoog (deur Midgley (1989:64) as ’n “bizarre flood of paper” beskryf).

Hierdie kettingreaksie spel niks goeds vir die bevordering van goeie wetenskap nie: lae-risiko-navorsing word op groot skaal gereproduseer en kreatiewe navorsingsinisiatiewe sneuwel in die slag. Gekoppel aan die stelsel van portuur- of ewekniebeoordeling van navorsing, ontstaan ’n addisionele dilemma. Soos tereg deur Chrissie Boughey van Rhodes Universiteit opgemerk, is daar ’n geweldige toename in die getal artikels wat vir publikasie voorgelê word, maar nog meer kommerwekkend is die swak gehalte van hierdie bydraes (“What are we doing to ourselves?”, Mail & Guardian Online, 26 November 2010). Wat Boughey nie duidelik uitspel nie, is dat die taak van ewekniebeoordeling tans, tewens wat die stand van regsartikels betref, dikwels in die hande van baie onervare of junior akademici beland. Die rede hiervoor is eenvoudig: die aansienlike toename in studentegetalle, insluitende nagraadse studente, het veroorsaak dat daar baie druk op senior akademici is om hierdie nagraadse studente “te lewer”. Sommige universiteite betaal selfs ’n ruim honorarium aan akademici vir die suksesvolle “lewering” van nagraadse studente. Hierdie senior professore se hande is reeds oorvol met hierdie nagraadse studente en met die druk om hul eie navorsingsuitsette te verhoog, met die gevolg dat hulle selde beskikbaar is vir die portuurbeoordeling van navorsingsartikels in geakkrediteerde tydskrifte. Die probleme rondom ewekniebeoordeling en die gevare wat onervare en onkundige beoordelaars vir die bevordering van goeie wetenskap inhou, is indringend deur Roux en De Beer bespreek en gaan nie hier herhaal word nie (2010).

’n Ander probleem verbonde aan die verslapping van toelatingsvereistes tot nagraadse studie is dat ’n swakker-kaliber nagraadse student nou op die toneel verskyn. Die probleem is veral ter sprake by gestruktureerde nagraadse kwalifikasies (sogenaamde B-kurrikulum-studente). Studieleiers van hierdie studente is onder groot druk om hierdie studente so vinnig as moontlik deur die pyplyn te kry, terwyl baie van dié studente dikwels skaars Engels magtig is (uit die res van Afrika afkomstig) en meestal nie die mas opkom nie. Dosente kla dat hulle vlak van betrokkenheid in die student se werk noodgedwonge onnatuurlik hoog is en dat daar dosente is wat self uit desperaatheid navorsingsvoorstelle of argumente in die kort skripsies formuleer ten einde ’n mate van vordering te maak. Die geldelike beloning verbonde aan die suksesvolle afhandeling van so ’n student speel uiteraard ook ’n rol.

Dit is beslis ’n uiters ongesonde situasie.

’n Verdere doodsteek vir die bevordering van goeie wetenskap is dat hierdie obsessie met die getal navorsingsuitsette dikwels die onderrig-deel van die akademie ondermyn en dosente dikwels as óf navorsers óf dosente (“teachers”) gesien word. Die aantrekkingskrag van die addisionele vergoeding wat aan navorsingsuitsette gekoppel is, teenoor weinig of geen vergoeding nie vir goeie “teachers”, lei daartoe dat die gehalte van onderrig ernstig in die gedrang kom. Bowenal verdien gegradeerde navorsers meer as hulle ongegradeerde eweknieÑ‘, wat die indruk versterk dat die gegradeerdes die enigste “produseerders” van goeie wetenskap is.

Die gevare wat die sogenaamde “eenkanaalbestuur” van die wetenskap via die Nasionale Navorsingstigting (National Research Foundation) inhou, word breedvoerig deur Roux en De Beer uitgewys. Die nasionale navorsingsubsidiestelsel help ook nie veel in die strewe na die bevordering van goeie wetenskap nie, maar dien hoofsaaklik in die befondsing van universiteite. Helaas, hoe prysenswaardig die ideale in die beleidsdokumente van die NRF en die ASSAf ook al is, daar is groot gapings en slaggate wat net al hoe groter word. As tersiêre instellinge hul waarde en integriteit wil behou, sal ’n fyn lyn gehandhaaf moet word tussen uitbreiding en die benutting van geleenthede aan die een kant, en genoegsame voorsiening en kapasiteit aan die ander. ’n Alles-of-niks-benadering met betrekking tot markgedrewe navorsing is beslis nie konstruktief nie. Die debat hieroor sal uiteindelik beÑ—nvloed word deur vrae rakende die bronne van befondsing, of die navorsing ter plaatse of elders onderneem word, ensovoorts.

Roux en De Beer se vraag na die rol van visie, strategie en beleid in die bevordering van goeie wetenskap het ’n klip in die bos gegooi. Om te volstaan met ’n antwoord dat “die tyd sal leer” is nie genoeg nie. Die tyd het aangebreek dat akademici ’n slag vreesloos hieroor moet debatteer in plaas daarvan om net in akademiese gange hieroor te brom.

Bibliografie

Midgley, M. 1989. Wisdom, information and wonder: What is knowledge for? New York: Routledge.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top