Wat is en wat is nie

  • 0

Ewigheid

In die Bybel lees mens en in die kerke, sinagoges, moskee’s en tempels word gepreek van Ewigheid. “Tot in alle Ewigheid. Ewigheidswaarde,” ens is van die uitdrukkings wat genoem word.

Nou het die uitdrukkings my begin interesseer. Wat is ewigheid. Wanneer het dit begin want as ewigheid in die toekoms is, dan moet dit mos ook in die verlede wees. Om dit duideliker te stel. As mens sou sê die toekoms is van vandag af ‘n miljoen jaar vorentoe, dan sou iemand mos ‘n miljoen jaar gelede dieselfde kon sê.

Dit bring my by die vraag wat is die definisie van ewigheid? Kan ‘n mens dit so definieer dat dit ‘n begin en einde het? Indien nie, dan beteken dit mos dat Ewigheid geen begin en geen einde het nie. En sou ‘n mens dit aanvaar, dan beteken dit ook dat geen iets ‘n einde het nie, want materie kan nooit vernietig word nie. Net omskep word in ‘n ander vorm.

Om dan na die mens se lewe te verwys, beteken dit dat daar kom ‘n einde aan die lewe in, soos ons dit ken van ‘n spesifieke menslike-liggaam. Die lewe in daardie liggaam kom tot ‘n einde en dan verander daardie liggaam, dis nou been, vleis, vel, naels en hare en alles, mettertyd in ‘n ander soortige materie. Dis soos ek die wetenskap verstaan nl dat materie nie vernietig kan word nie, slegs omskep kan word in iets anders.

As dit dan so is, dan kom die vraag onwillekeurig op: Wat van die aarde? Gaan die aarde vir ewig bestaan? Die aarde is nie lewe nie. Daar is lewe op die aarde en daardie lewens – dis nou van plant en dier, kom tot ‘n einde en verander in iets anders, maar die aarde is ‘n dooie stuk iets. En hoe kan iets wat nie lewe het nie, doodgaan? Dit bring mens dan by die afleiding dat die vertelling dat die Aarde eendag sal vergaan, nie waar kan wees nie. En as dit nie waar is nie, dan is die Skeppingsverhaal ook nie waar nie. En wanneer is dan die oordeelsdag?

Hierdie gedagtes laat my wonder wat is waarheid en wat nie. Want as my afleidings reg is, dan kom ‘n hele paar ander “waarhede” ook in gedrang. En dan neig dit baie sterk na die verskillende gelowe – christen en nie-christen gelowe. Almal.

Ook maar nuuskierig oor wat is en wat is nie.

Jakkie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top