Wat het geword van Dinsdag? deur Tinus Horn: ’n resensie

  • 0

Wat het geword van Dinsdag?
Tinus Horn 
Human & Rousseau
ISBN: 9780798178037Tinus Horn

Wat het geword van Dinsdag? (2018) is die oudjoernalis en kunstenaar Tinus Horn se vierde roman. Dit is ’n interessante boek in die sin dat dit sigself nie té ernstig opneem nie, maar ook nie werklik as ligte leesstof of ’n sogenaamde lekkerleesboek geklassifiseer sou kon word nie. In hierdie opsig weerspieël die roman die hoofkarakter en talentvolle skilder, Joe – ’n seun uit die werkersklasse met ’n kunsgraad van Wits, ’n voorliefde vir Goya, Dante en alkohol, asook ’n uitsonderlike talent as dit kom by kunsvervalsing.

Aan die begin van die roman vind ons Joe in New York rondom die millenniumwending. Ons lees van ’n vinnige, oënskynlik onbenullige ontmoeting met ’n eksvriendin, Nina ("Ek en Nina was nooit rêrig ’n iets nie," herinner hy homself), asook Michael, ’n verloopte Suid-Afrikaanse Jood wat soggens eiers en bacon braai vir die inwoners van die backpackers waar Joe tuisgaan.

Via terugflitse ontvou Joe se lewensverhaal. Dit begin by sy studentedae op Wits en sy eerste ontmoeting met die geheimsinnige Lloyd wat ’n bepalende rol in Joe se lewe speel, hoewel dit hulle enigste ontmoeting is. Sy reeds genoemde studentevriendin, Nina, wat (soos die leser reeds in die eerste hoofstuk aflei) nie só ’n toevallige karakter is nie, word ook terloops genoem. In die volgende hoofstukke bied die storie terugflitse wat selfs verder teruggaan, na Joe se kinderdae in ’n eenvoudige, maar liefdevolle spoorweghuis in Johannesburg. Hy beskryf sy gesin as ’n "growwe kommin spulletjie", maar skets sy kindertyd en ouers met groot deernis. Die beskrywings van Joe se familie en jeug is van die sterkste in die roman. Sy terughoudende, sukkelaar-pa met die goeie hart en sy selfgeldende, soms verbitterde maar altyd liefdevolle ma word tegelyk roerend en humoristies uitgebeeld. Uiteindelik staan veral Joe se ma sentraal in die roman, aangesien die rol van vroue in sy lewe, met sy ma as die eerste vrou, die een vir wie hy eerder as ’n kind ’n "vrypas" gegee het as vir sy pa, omdat hy "baie lief was vir haar", ’n belangrike motief is in Joe se storie. Joe se kunssinnigheid kom skynbaar ook van sy ma af, wat haar lewe lank ’n gefrustreerde skrywer was en twee romans geskryf het wat sy vernietig het voor iemand dit kon lees. Na haar dood is een van die min besittings van haar wat Joe neem, ’n boekie wat hy in haar kamer gevind het en ’n enkele frase van haar skryfwerk bevat. Die frase lui:

In die stil winternagte, as alles om my rus in die bleek lig en my gedagtes die pynpad vat, sit ek gepantser teen die koue in my hart en werk die verlange steek vir steek in ’n muurbehangsel vas.

Pynlike verlange is ’n deurlopende tema in Wat het geword van Dinsdag? en dit is duidelik dat sy ma se tapisserieë spore laat in Joe se omgang met sy kuns.

Gedeeltes van die roman sou selfs as ’n moederroman beskryf kon word – ’n genre wat in die Lae Lande ’n opbloei beleef met (onder andere) romans soos Moedervlekken (2016) van Arnon Grunberg en Tom Lanoye se Sprakeloos (2009), asook die talle romans van Herman Brusselmans waarin die moederfiguur sentraal staan. Soos in hierdie romans, is daar iets tragikomies aan die sketsing van die kinderjare en die verhouding met die moeder, wat dan ook uiteindelik sterf. Hierdie swartkomiese element is dikwels tiperend van die Nederlandse letterkunde, maar miskien minder bekend in Afrikaans. Ek het hardop gelag by die lees van sekere gedeeltes, hoewel die roman in die geheel gesien waarskynlik as betreklik morbied gelees sou kon word gegewe die talle (emosionele) verliese wat die hoofkarakter ly.

Die hedonistiese, ongepoetste maar talentvolle Joe is self ’n oortuigende karakter. (En wat dit betref: Wat het geword van Dinsdag? is nie die tipe boek vir mense wat sensitief is vir vloekwoorde en suggesties van losbandighede nie – tensy hulle natuurlik deel is van die brigade wat sulke boeke lees juis sodat hulle op Facebook hulle skok daaroor kan uitspreek.) Enigiemand wat self in hul studentedae in die kringe van die Kunsdepartement beweeg het, sal iets van Joe herken – een van daai ouens wat op die oog af lyk soos die deursnit voorstedelike hipster, maar in werklikheid te vuil, dronk en arm is om te kwalifiseer. Vermoedelik was daar nog meer Joe’s in die tagtigs by Wits – studente uit die werkersklasse wat op die een of ander manier hulle ouers oortuig het dat hulle ’n werk sal kry met ’n kunsgraad. As eerstepersoonverteller gee Joe met sy veelvlakkige binnelewe die karakter egter die nodige reliëf sodat hy nie as ’n stereotipe voorkom nie.

Die onstuimige politiek van die dag en studenteaktivisme by Wits vorm een van die ruimtes van die verhaal. Vir Joe is hierdie gegewe, soos talle ander realiteite in sy lewe, egter nie veel meer as agtergrondmusiek nie. Hoewel hy nie saamstem met die apartheidsregering se aksies nie, vind sy werk aanklank by die klassieke meesters en is dit nie polities betrokke nie. Nina is wel op die rand van die studenteaktivistiese bewegings betrokke, maar Joe maak dit duidelik dat hy veel meer belangstel in plesierige ondernemings. Wanneer die nuus byvoorbeeld bekend raak dat die MK-lid Andrew Zondo gehang word vir sy betrokkenheid by ’n bomaanval, weet Joe nie wie dit is nie, en na Nina se kort verduideliking stel hy ook nie verder belang nie: "Ek voel ’n vet fok vir Andrew Zondo." Soos wat die leser deurgaans besef, en Joe skynbaar ook na die einde van die roman se kant toe, is hy die ewige voyeur en buitestander. Sy onvermoë om emosioneel betrokke te raak sluit aan by sy rol as kunsvervalser – hy is ’n kyker en ’n namaker, nie ’n maker of doener nie.

Soos reeds genoem, speel vroue ’n sentrale rol in Joe se lewe. In aansluiting by Dante se La Divina Commedia (een van die vele intertekste in die roman en ook die bron waaruit die motto kom), waar die hoofkarakter op ’n begeleide reis deur die hel, vagevuur en die hemel gaan, het Joe verskeie begeleiers in die roman wat hom op sy lewensreis vergesel. Met die uitsondering van Michael is die meeste van hierdie begeleiers vroue. Sy ma en Nina staan hier sentraal, maar ook Elrike en uiteindelik Ayala. Die uitbeelding van Nina, Elrike en Ayala is van die minder sterk aspekte van die roman. Elrike, wat tydens hul eerste ontmoeting uit die bloute sy oor byt dat die bloed spat ("toe jy so oor my buk, was jy net mooi lelik genoeg om my lendene te roer"), is deurgaans ’n ietwat ongeloofwaardige karakter – net té slu, sexy en seepglad. Haar teenpool, Nina, met die nr 3-voetjies, "sagte klein oopmondsoentjies" en manjifieke maanhaar, is weer net té perfek. Die geïdealiseerde beskrywings van Nina skakel waarskynlik met die Beatrice-interteks van die onverkrygbare en verromantiseerde jeugliefde. Wanneer Joe van sy eerste liefde, Telana, vertel en die verbande lê met Dante se Beatrice, sê hy self: "Dis nie my verbeelding wat hier op loop gaan nie. Dit het presies so gebeur. Vervang net ’Telana’ met ’Nina’. Dit was lank gelede. Baie, baie lank." Dit is egter nie net Nina se uitbeelding nie, maar ook dié van die femme fatale Elrike en die veganistiese ghoeroe Ayala wat neig om in clichés te verval.

Die roman se talle intertekstuele verwysings is een van die boek se mees fassinerende aspekte. Wat het geword van Dinsdag? het naamlik ’n wye kunsverwysingsnetwerk wat die roman se onderbou vorm. Ek het met my foon byderhand die boek gelees en kort-kort die skilderye opgesoek wat daarin ter sprake kom. Dit het dikwels meer lig gewerp op bepaalde vermeldings of beelde wat Horn oproep, en ek vermoed diegene met ’n beter kennis van kuns sal hierdie verwysings nog baie meer verhelderend vind as ek. Die speurfaset verbonde aan die ontsyfering van hierdie intertekstuele vermeldings, tesame met die ontplooiing van Elrike en Joe se vervalsingsbesigheid, is boeiend en laat die roman by tye soos ’n misdaadroman lees.

Uiteindelik het Wat het geword van Dinsdag? vele fasette. Soos die mooi omslag, bied dit ’n roesemoes van beelde wat inmekaar vloei, met die gevolg dat dit nie altyd so maklik is om die prent te rekonstrueer nie. Hierdie tegniek weerspieël die protagonis se bewussynstroomgedagtegang wat veral aan die einde van die roman soms moeilik is om te volg.

Alles in ag genome, is die roman ’n aangename leeservaring – soms kompleks, maar nie ontoeganklik nie; deurgaans met die tong stewig in die kies, maar met enkele donker skaduwees. Miskien nie die tipe boek wat jy Desember langs die see gaan lees nie, maar wel ideaal langs die braaivleisvuur met ’n glas wyn in die hand.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top