Wat het geword van die OppiAarde-konsert?

  • 0

Die weglating van die gewilde OppiAarde-konsert by vanjaar se Clover Aardklop Nasionale Kunstefees was, om die minste te sê, ’n flagrante fokkop van die feesorganiseerders se kant af. Dis Vrydag in ’n onmenslike warm Potchefstroom, die fees is glo “in volle swang” en “klop met mening” as die lamppaalplakkate geglo kan word, maar oral staan restaurante en kroeë oop. Leë parkeerplekke word ruiterlik aangewys deur die magdom karwagte, en iewers smelt ’n tjokker se roomys.

Waar studente en jongmense van ’n sekere musikale portuur ander jare hierdie tyd deur die dag tot hulle beskikking sou gebruik het om vooraf ’n sopie of twee te maak, is daar vanjaar geen rede vir hulle om hier te wees nie. Waar hulle voorheen hul tyd sou verwyl en ’n “Gooi Mielies”-hemp sou koop, is hulle afwesigheid vandag heel opmerkbaar. Nie dat ek enigsins in die konsentrasiekamp wat homself voordoen as ’n biertuin sou wou sit as ek hulle was nie. Alles is toe agter hoë afskortings, jy moet ‘n toegangsfooi betaal (om glo ongewenste elemente uit te hou), en die nuwe instelling vir hierdie jaar is ’n verhoog waar bevraagtekenbare cover-liedjies deur ewe bevraagtekenbare “sangers” opgevoer word.

Ek wonder heimlik by myself wat de donner die bestuur gedink het toe hy van OppiAarde ontslae geraak het. Weet hulle van die bestaan van iets soos MK? Besef hy dat daar ’n hele sub-strata van die samelewing is wie ten duurste sal betaal om Francois van Coke te sien kots op die verhoog? Edel soos sy vermoedelike voorneme dalk mag wees om Aardklop ’n ware “kunstefees” te hou wat die meer tradisionele beeldende, visuele en opvoerende kunste ondersteun, moet die voormalige teologiestudent aan’t stuur van sake tog sekerlik besef dat hy kak aangejaag het wanneer hy verby ’n leë Fishmonger stap.

Aardklop kan ongelukkig nie slegs voortbestaan op die krag van sy reputasie nie, en jy moet dit elke jaar aanloklik maak vir feesgangers om terug te kom. Hoekom besluit is om ’n groot groep van die Afrikaanse populasie met ma-en-pa se besteebare inkomste in hulle gatsakke te vervreem weet die Vader alleen. En wie kak die hardste af? Die besighede op die Bult, dis wie. Aardklop is nie ’n tyd van die jaar wanneer die kuierplekke op die Bult hulle sakke laai met geld nie – die inkomste wat daar gegenereer word, word  gebruik om kop bo water te hou wanneer die studente vir drie maande uit die jaar met vakansie is.

Boonop is dit bleddie onregverdig teenoor die jongklomp. Skokkend soos wat dit dalk mag klink is Potch die res van die jaar nie die mees kosmopolitaanse uithangplek in die land nie. Hou jy van ruk-en-rol, is jy darem verseker dat jy met OppiAarde elke jaar jou fix sal kry. Wat staan ons nou te doen? Ek gaan maar ’n bier drink.

Die uwe,

Ludwig die Pierrewaaier van Potchefstroom

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top