Daar gaan staan en kniel Bob Dylan voor president Barack Obama vir die Withuis se Medal of Freedom. His Bobness, skrywer van “Masters of War”, curtsey netjies voor die vredespryswenner wat in sy kort oorlogsloopbaan as president al meer missiele afgevuur het as al die vorige vredespryswenners gesamentlik. In die film Masked and anonymous sê Jack Fate (gespeel deur Bob Dylan): “No one is virtually free – either you are free, or you’re not.” Soos alle ander Dylan-aanhangers wat dalk effens teruggedeins het by die aanskoue van hierdie vernedering/eerbetoning, wil ek bly glo dat Bob wéét wat hy daar doen. Maar wat? Kom ons projekteer bietjie ons eie illusie. Die apatiese staar op Bob se gebrilde gelaat wys duidelik dat hy daar onder sy toga besig is om ’n laaaang vinger te gooi terwyl hy die volgende neurie: “Come you masters of war, you that build the big guns, you that build the death planes, you that build all the bombs, you that hide behind walls, you that hide behind desks, I just want you to know, I can see through your masks.”
Hoe spel mens revolusie in Afrikaans? Of is dit rewolusie? Weet ons wat dit is? Ons voorouers het al protesterend teen staatskerk en koning gee pad uit Europa. Alles in die gees van hul Revolusie, waar hulle fakkel in die hand en sover as wat hulle gegaan het ’n spoor van afgebrande biblioteke, kloosters en katedrale agtergelaat het. G’n wonder die aristokrasie het ongeduldig geraak met die klompie “godsdienstige” opstokers nie. Dit was ons voorouers se eie 1976-onluste. Onder die slagspreuk “Semper reformanda est” (“Daar moet altyd vernuwe word”) het die Calvynbende se Malans en Bothas in hul nuwe land kom ankergooi en begin vasskop téén vernuwende denke en alles wat volksvreemd is. In effek word hul slagspreuk nou “Tot hiertoe en niks verder nie.”
Die paar seesiek weke aan boord van die Oosterland het die arme Hugenote se vernuwende revolusionêre denke skoon weggewas. So weier die Hugenote se predikant, ds Pierre Simond, om die eerste Snyman-baba in Suid-Afrika te doop. Die baba is in 1658 gebore uit ’n verhouding tussen Groote Catrijn, ’n banneling uit Batavia, en Hans Christoffel Schneider, ’n Duitse soldaat in die Kasteel. Katryn was ’n slavin in Jan van Riebeeck se huishouding. Hulle noem die seun toe Christoffel Snyman. Die seun word later een van die eerste eienaars van die wynlangoed wat tans bekend staan as Solms Delta. Maar, komende uit ’n gemengde verhouding was die Snyman-baba nie vir ds Simond, die godsdiens- en gemeenskapsleier van die reformatore aan die Kaap, aanvaarbaar as kind van die revolusie/reformasie nie. Wil jy nou meer? Dáár het dit al begin. Tóé al was kerk en establishment reeds één in die persoon van ds Pierre Simond. Presies dít waarvan die Hugenote probeer wegvlug het, gebeur nou in hul nuwe land. In die woorde van Bob Dylan: “I forgot what it was that I came here to get away from.” Die legende lui dat oubaas Schneider, Van Riebeeck se bodyguard en pa van die Snyman-seun, die dominee ná die soveelste soebat om sy kind te doop, ten einde raad gaan loop opdonner het. Viva Christoffel Viva!
Wat het dit te alles make met populêre Afrikaanse musiek? Alles. So begin ds Simond en sy trawante ’n Zeitgeist waarin ’n walgooiery teen invloede uit Afrika en die ywerige beskerming van die “eie” teen alles vreemd gesien word as ’n voortreflike karaktereienskap. Dit word bekroon en beloon met algemene aanvaarding in die “eie” samelewing. Die goue draad van hierdie kulturele bysiendheid spook vandag nog by ons in die vorm van die Groot Afrikaanse Treffer. ’n Kultuur waarin die klank en ritme van ’n treffer liefs nie te veel moet afwyk van die lang geskiedenis van goue treffers wat al vir die afgelope paar jaar in Afrikaanse suburbia se steakhouses en sportkafees speel nie, en wat nie verskil van die klanke wat Skouspel se kaartjies jaar na jaar uitverkoop nie. ’n Kultuur waarin ’n opruiende musikale huldeblyk aan ’n ou Boeregeneraal tjoeftjaf dubbelplatinum-status kan bereik. ’n Kultuur waar die woord revolusionêr sy kreatiewe, verleidelike en vernuwende betekenis verloor het. ’n Kultuur waar die woord revolusie misverstaan word as ’n uitdagende “ons versus hulle” en ’n omverwerping van die “vyand”, byvoorbeeld Kerkorrel se “Sit dit af”, Malema se “Kill the Boer”, Van Blerk se “De La Rey”.
Met die Afrikaanse radio, TV en tydskrifte se jaloerse oorbeskerming van die bedreigde “eie” en die “ons” in Afrikaans, het die “hulle” ook nou uit die vergelyking verdwyn. Die gemiddelde Afrikaanssprekende word vandag meer as ooit deur die Afrikaanse media toegegooi met ’n oorvoorsiening van die “eie ons”, ter uitsluiting van enige vernuwende invloede vanuit die res van die wêreld. Selfs die jong-brigade Afrikaanse rock bands en hulle duisende MK-klone is nog meer inkerig narsisties en angstig tematies gemoeid met die eksistensiële handhawing van die bedreigde arme “ek”.
Ek onthou ’n tyd toe ook die Afrikaanse media gelykmatig blootstelling gegee het aan alles wat musikaal gesproke op internasionale gebied en plaaslik gebeur het. Toe ’n Springbok Radio Top 20 beide Gerry Rafferty se “Baker Street” én die Suid-Afrikaanse groep Rabbit se “Charlie” kon insluit. Sonder dat die plaaslike musiek enigsins in standaard afgesteek het teen die internasionale musiek. Die tyd toe ’n Jantjie Blom-musiekresensie in Huisgenoot op een bladsy kon skryf oor beide Deep Purple se Live in Japan en ’n Suid-Afrikaanse groep soos Clout se jongste uitreiking. ’n Tyd toe plaaslike kunstenaars hulself vereenselwig het met internasionale tendense in die vorming van wat hier plaaslik geskep word. En dit was hoorbaar in die standaard. Rabbit was die groot slagoffer van die res van die wêreld se kunsteverbod teen Suid-Afrika in die apartheidsjare. Dink net hoe groot hulle sou kon gegaan het as dit nie daarvoor was nie. Beoordelaars op die paneel van die laaste SAMA-toekennings het vertroulik laat weet dat die Afrikaanse Musiek-inskrywings steeds klink soos dié van tien jaar gelede, en dat dit sleg afgesteek het in standaard teen die res van die kategorieë se inskrywings.
So het die Groot Goue Treffer-mark vasgevang geraak in ’n geslote sirkel van musiekwinkels wat nét produkte aankoop wat deur die media bevorder word, ’n Afrikaanse mediagroep wat veilig speel en ter wille van verkoopsyfers nét produkte bevorder wat ’n reeds bewese rekord van gewildheid het, en ’n publiek wat glo daar bestaan niks anders as dit wat deur die media bevorder word en wat hulle in die musiekwinkels kan kry nie.
So, waar is al die blomme heen? Wat het hier by ons geword van musiek wat revolusionêr nuwe en vreemde invloede, tale, volke, mense, style, landskappe, ritmes, verafgeleë eilande, kulture en klanke verken en omhels? Revolusie sommer net ter wille van beeldskone musikale revolusie? Sal die Groot Ou Goue Treffer hier by ons ooit weer kan plek maak vir nuwe klanke van opwindende en verleidelike revolusie?
Ter illustrering hiervan, ’n losserige vertaling van ’n song van Georges Moustaki, ’n Franse komponis van Italiaans-Griekse oorsprong. In die YouTube-insetsel hier onder gesels Moustaki en die TV-aanbieder eers oor die 1969 Isle of Wight Festival waar Moustaki saam met Bob Dylan, Francoise Hardy en die Rolling Stones opgetree het. Daar het hy hierdie lied voor 20 000 mense van die Woodstock-generasie gesing:
Sans la nommer (Sonder om te sê wie sy is)
Ek wil, sonder om te sê wie sy is, met julle oor haar praat.
Soos wat mens praat oor ’n geliefde, oor ’n getroue vriendin.
’n Lewenslustige meisie wat op ’n sonskyndag al singende wakker word.
Refrein
Dis sy wat voorvat, dis vir haar wat ons volg.
Dis sy wat in opstand kom, dis sy wat swaarkry en ly.
Ons gooi haar in die tronk, ons verraai en verlaat haar.
Dis sy wat die lewenslus gee,
Dis sy wat ons verlei om haar te volg.
Tot die einde kom, tot die einde kom.
Ek wil, sonder om te sê wie sy is, hulde bring aan haar.
Mooiste blom of wilde vrug van die maand Mei.
’n Plant goed en mooi geplant op haar twee bene.
Dis sy wat in vryheid dartel net waar sy lus kry.
Ek wil, sonder om te sê wie sy is, met julle praat oor haar.
Of jy van nou van haar hou of nie, sy is getrou.
En as julle wil hê dat ek haar aan julle moet voorstel –
Haar naam is: Permanente Revolusie!
Sans la nommer
Par: Moustaki Georges (Georges Moustaki)
Je voudrais, sans la nommer,
Vous parler d'elle
Comme d'une bien-aimée,
D'une fidèle,
Une fille bien vivante
Qui se réveille
A des lendemains qui chantent
Sous le soleil.
Refrain
C'est elle que l'on matraque,
Que l'on poursuit que l'on traque.
C'est elle qui se soulève,
Qui souffre et se met en grève.
C'est elle qu'on emprisonne,
Qu'on trahit qu'on abandonne,
Qui nous donne envie de vivre,
Qui donne envie de la suivre
Jusqu'au bout, jusqu'au bout.
Je voudrais, sans la nommer,
Lui rendre hommage,
Jolie fleur du mois de mai
Ou fruit sauvage,
Une plante bien plantée
Sur ses deux jambes
Et qui trame en liberté
Ou bon lui semble.
Refrain
Je voudrais, sans la nommer,
Vous parler d'elle.
Bien-aimée ou mal aimée,
Elle est fidèle
Et si vous voulez
Que je vous la présente,
On l'appelle
Révolution Permanente !
Refrain



Kommentaar
Bravo Albert!