Wat het ek teen religie?

  • 0

Nou die dag sak twee ouderlinge op my toe. Wat het ek teen religie, wou hulle weet.

Ek moet erken dis ’n moeilike vraag om te beantwoord. Ek is suspisieus teenoor religie, maak nie saak of dit Mohammedanisme, Christenisme, Voorvaderverering, Hindoeïsme of Boeddhisme is nie. Dis nogal snaaks, want gewoonlik is ek die eerste om te vra waar ek moet teken as iets te goed klink om waar te wees. Met die kits-rykword-vrotmelk het ek amper my alie gesien as ek nie betyds my onttrek het van die spul nie.

Met godsdiens is dit egter anders. Iets verhoed my om daaraan deel te neem, en ek kan nie presies sê wat dit is nie. Miskien is dit die skandelose skynheiligheid, die arrogante eiegeregtigheid, die domastrante onnoselheid, die gevaarlike indoktrinasie, die vergiftiging van jong kinders se verstande; dis moeilik om te sê. Die geskiedenis het ons geleer dat waar ’n religie die mag verkry, dit altyd lei tot onderdrukking. Ek hoef nie eens te verwys na Islam en die lande waar dit ’n houvas het nie – dis sommer algemene kennis. Hier in Suid-Afrika sou mense soos Kobus, al die brandstapel en kruisiging teruggebring het as hulle net kon. Sopas het ’n goeie Christen my hier op SêNet my blindheid en pynlike siektes toegebid vir my “godslastering”. So, dis wat ek het teen religie in watter vorm ook al.

En dan die Bybel. Ek hou van die Bybel, want dit het my ’n renons gegee in al wat religie is. Dit het my oë oopgemaak en nou is ek ’n volbloed ateïs. As letterkundige werk is die Bybel enig van sy soort. Dit bevat omtrent alles: romans, novelles, mites, fabels, gelykenisse, kortverhale geskryf in prosa en poësie. Die Afrikaanse Bybel het nou wel baie ingeboet deur vertaling, maar gaan lees die King James Bybel, en jy sal gou onder die bekoring kom van die egte Shakespeare-ritme en metrum. As Shakespeare nie hierdie Bybel geskryf het nie, is my naam nie Angus nie. Waarna jy ook al soek, jy sal dit in die Bybel kry. Ek kan my so verlees aan Prediker, maar as jy na moord en doodslag soek, die verspilling van bloed en die oopvlek van derms met swaarde, dan kry jy dit in die Bybel. As jy soek na gemene spiritualiteit, psigopatiese streke en sadistiese wreedheid, pornografie, dan is die “Holy Book”, die “Good Book” net die ding vir jou.

Ek het dus niks teen die “Holy Book” nie, behalwe die Christen se interpretasie daarvan. Nou vertel Kobus my dat hy êrens opleiding gehad het in spirituele vermoë, en dis juis hierdie spirituele vermoë wat hy gebruik om letterkundige werke te beoordeel. Moet my asseblief nou nie dit kwalik neem as ek weer suspisieus is nie, want nêrens is daar ’n universiteit wat so ’n kursus aanbied nie, en Kobus hou vol dat dit noodsaaklik is vir die beoordeling van letterkunde.

Ten slotte wil ek ook net sê, die Christene wat vir my Bybelaanhalings stuur, kan dit gerus maar staak. Ek is suspisieus as hulle dit doen om verskeie redes, een daarvan is dat hulle nie letterkundig opgelei is om die aanhalings te verstaan nie. jammer om te sê, maar spiritualiteit is van nul en gener waarde as dit by die beoordeling van letterkunde kom. Kobus is ’n goeie voorbeeld daarvan.

Groete

Angus

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top