Wat goeie skrywers se werkstasies weet

  • 3

Die week in woorde

Verlede week het ek geskryf dat ’n ware skrywer aan sy outeursfoto (h)erken word en voorstelle gemaak oor hoe jy te werk kan gaan om te verseker dat jou eie outeursfoto die nodige impak het.

Vandeesweek fokus hierdie rubriek op die tweede saak wat kan bepaal of die res van die wêreld jou ernstig opneem as skrywer of nie: die voorkoms en uitleg van jou werkruimte.

Deel twee: ’n Kamer van jou eie – but don’t stop there!

In haar uitgebreide essay getiteld “A Room of One’s Own” wat in 1929 vir die eerste maal gepubliseer is, skryf Virgina Woolf: “A woman must have money and a room of her own if she is to write fiction.” Natuurlik is Woolf reg, en wat sy sê geld nie net vir vroue nie, maar vir mans ook, en is nie net van toepassing op fiksie nie, maar op enige vorm van skryfwerk.

Tog teken sy nie die volledige prentjie nie. Om geskryf te kry moet ’n skrywer ’n eie kamer hê ja, maar dit kan nie sommer enige hierjy vier mure wees nie. Om as skrywer gereken te word moet jy aandag gee aan meer as net mure en strukture. Dis die fynere besonderhede wat die deurslag gee, wat die verskil aandui tussen iemand wat sommer net sit en tjommel en iemand wat Skryf-met-’n-Hoofletter.

Dit is nie noodsaaklik om ’n graad in binnenshuise versiering te voltooi om die wêreld te oortuig dat jy ’n skrywer is nie (alhoewel dit in sekere gevalle nuttig mag wees), maar jy moet seker maak dat jy kennis dra van die volgende kwalifikasies met betrekking tot Woolf se onvolledige stelling:

1. A writer must have books covering every possible surface of a room of his own if he is to write anything.

As mens so na foto’s van die meeste skrywers se werksplekke kyk, is boeke belangriker as geld in terme van die skryfproses.

Boekrakke moet verkieslik chaoties dog georganiseerd voorkom, en as daar nie genoeg boekrakke is nie, volg Agatha Christie se voorbeeld en laat jou boekversameling nuwe hoogtes bereik.

 

Of maak soos Simon Armitage, wat boekrakke bou met kopieë van sy eie boeke. Let ook op hoe hy die reuse-naslaanboek uitstal wanneer fotograwe kom kuier.

Armitage sê: “It's all about books, really, and where to put them. Some of my shelves are made from books.” Wat jy uit hierdie uitlating moet verstaan, is dat hy al so gewoond daaraan is om sy woorde in druk te sien dat die boeke nie meer heilige koeie is wat met trots in die vertoonkas staangemaak word nie.

Selfs al het jou eie skryfsels nog nie in druk verskyn nie, kan jy self dié effek verkry deur jou eie boeke (gebruik maar vir eers dagboeke of ou skoolboeke met opstelle in) met geoefende nonchalance tussen dié van Nobelpryswenners, antieke Grieke en grootse poësie op die boekrak te plaas. En moenie skaam voel om mense se aandag daarop te vestig nie. Leer by Mark Haddon, wat kastig verleë voel oor al die oorsese kopieë van sy boek wat mens skaars kan sien in die onderstaande foto.

Onthou, dit gaan eintlik eerder oor kwantiteit as kwaliteit. Maak seker jy het ’n kamer vol woordeboeke (verkieslik verskeie tale – niemand sal weet dat jy hulle nie magtig is nie), topverkopers en boeke oor astrofisika wat jy by enige tweedehandse boekwinkel kan ruil vir appels en uie of handjiesvol kleingeld.

2. A man is to have a room of his own and at least one picture of a supermodel (or attractive writer) if he is to write.

Hanif Kureishi erken ruiterlik dat hy nie tyd het om al die duisende boeke in hierdie kamer te lees nie. Nee, sy geheim het niks te make met serebrale inspanning nie, dis alles in die visuele stimulasie: “I think every writer needs a picture of Kate Moss in their room as an inspiration.” As Kate Moss dit nie vir jou doen nie, druk gerus een van hierdie foto’s van ’n jong Brink of Breytenbach, Fourie Botha, Antjie Krog of Ingrid Winterbach uit om jou aan die gang te kry.

3. A woman must have an expensive leather armchair and a room of her own if she is to write poetry.

Wendy Cope sit in hierdie lekker leunstoel en skryf al haar gedigte (met die hand, in A4-notaboeke). Sy kon dit bekostig, omdat haar bundel Serious Concerns goed verkoop het.

Wees egter daarop voorbereid dat jy nie, in Suid-Afrika, so ’n lekker stoel sal kan koop met opbrengste uit jou bundel nie. Een van hierdie miskien (miskíén):

Dis ’n catch-22: ek stel voor jy hou maar jou werk as loodgieter of lugwaardin totdat jy die leunstoel kan bekostig, en gee jou dan heelhartig oor aan die poësie.

4. A man is to have a solar panel and a CD player if he is to write historical fiction.

Louis de Bernieres het self die sonpaneel geïnstalleer wat die ligte en CD-speler in hierdie skryfkamertjie in die tuin aandryf.

Hy is duidelik nie groot op dekor nie, maar blykbaar werk hierdie tegniek vir ander skrywers ook. Soos Alain de Botton: “My study is so ugly, it leaves me no option but to try to forget about it by escaping into my work. There's no more incentive to sit around admiring the externals of the writing life. My eyes are firmly on the computer screen. Beauty may be conducive to happiness, but it seems that a calculated dose of ugliness can do wonders for productivity.” Gaan kyk maar hier. Hy oordryf net ’n bietjie.

(’n Klein nagedagtetjie wat hierby aansluit: die skryfruimte hoef beslis nie netjies te wees nie. Inteendeel – ’n bietjie van ’n nes blyk ’n teken van groot produktiwiteit te wees.

Kyk vir Maggie Gee en Angela Carter. Gee het blykbaar netjies gemaak vir die foto. Wie sou kon sê?)

5. A man is to have an attic of his own and a superstitious fear of complacency if he is to write magnificent poetry.

Die laaste les kom van die Ierse Nobelspryswenner Seamus Heaney. Die man het ’n netjiese kantoortjie in die dakkamer van sy huis, maar sy skryftafel is na al die jare en pryse en boeke en akkolades steeds net ’n los plank wat staangemaak is op twee liasseerkabinette. Vroeër was dit sommer twee ou planke wat hy gered het van ’n vrot kerkbankie. Heaney sê: “I also liked the makeshift nature of the arrangement. I always had a superstitious fear of setting up a too well-designed writing place and then finding that the writing had absconded.”

Hierdie is die woorde van ’n man wat gedigte skryf wat jou wêreld verander. Wat gedigte skryf oor aartappels wat jou hele manier van dink oor die lewe omver kan gooi. Hy is ’n man wat hard en diep dink oor wat hy doen, wat skryf vir ’n lewe en dit as sy lewensroeping sien; maar 13 digbundels, 3 versamelbundels, 2 dramas en 4 bundels essays later neem hy steeds nie homself of die tooisels en tierlantyntjies van die bedryf te ernstig op nie. Hier is ’n man wat weet jy is net so goed soos jou laaste stuk skryfwerk. En dat wanneer die skryfwerk jou verlaat, jou eikehout-skryfbank en die foto van Kate Moss jou niks gaan help nie.

Hy is ’n man by wie almal wat graag wil skryf, iets kan leer, ek inkluis.

Dus sal ek, ten spyte van my versigtig-gestileerde outeursfoto

en die boekryke skryftafel in my idilliese kantoor op die vlaktes

 

... maar versigtig wees om myself ’n skrywer te noem voor ek nie ’n gedig geskryf het wat jou lewe verander nie. Wat jy jouself noem, bly jou saak.

(Bronne: Die meeste foto’s en inligting wat in hierdie artikel gebruik is, is verkry van die Guardian se reeks “Writer’s rooms” met foto’s deur Eamonn McCabe. Ander foto’s is verkry van hierdie blog of self geneem.)

Voorgeskrewe leesstof

Hier is ’n uittreksel uit Heaney se gedig “Digging”

My grandfather could cut more turf in a day
Than any other man on Toner's bog.
Once I carried him milk in a bottle
Corked sloppily with paper. He straightened up
To drink it, then fell to right away
Nicking and slicing neatly, heaving sods
Over his shoulder, digging down and down
For the good turf. Digging.

The cold smell of potato mold, the squelch and slap
Of soggy peat, the curt cuts of an edge
Through living roots awaken in my head.
But I've no spade to follow men like them.

Between my finger and my thumb
The squat pen rests.
I'll dig with it.

(Uit Death of a Naturalist, 1966)

Gaan lees die volledige gedig hier.
 

Gedigte op LitNet

Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.


   

  • 3

Kommentaar

  • Waldemar Gouws

     Bibi, Heaney se pa met sy graaf sou van jou werf gehou het! Enkele vrae (kamma-etologies) n.a.v. die gestileerde outeursfoto: 1 stel jy die begin of einde van 'n jogatantrum voor?

                          2 antisipeer jy 'n probleem vir die slag wanneer jy onderstebo teen die mure wil uitklim?
                          3 besef jy verlig dat jy nie die vorige nag soos een van Kafka se karakters in 'n kewer verander   
                             het nie?
                          4 Druk jy 'n Bauhaus-beginsel uit t.o.v. die strukturele en die dekoratiewe?
    Groete
    Waldemar 
  • Bibi Slippers

    Waldemar, nee. Ek is jammer om jou mee te deel dat jy die kat geheel en al aan die stertvere beet het.

    1. Die belangrikste visuele element in die foto is die streeptrui.  Dit dui op my assosiasie met die sywurm, en my hoop om deur die skryfproses te transformeer, en ook 'n transformerende uitwerking op my lesers te he^.  Die leg-warmers en die Jane Fonda-eske houding dui wel op die belangrikheid van fiksheid (wat aanlsuit by jou joga-vraag) maar ek is nie die tipe wat tantrums gooi nie. Veral nie as daar fotograwe naby is nie. Ek glo wel skrywers moet fiks bly, nie net die hande en die verstand nie, maar die hele liggaam ... jy weet, hulle se^ 'n gesonde liggaam huisves 'n gewonde bees, of so iets.

    2. Ja, maar ek het reeds 'n oplossing.  Deur die foto te roteer kan ek die dak, die mure en die vloer sonder probleme bestyg.

    3. Jy misinterpreteer my uitdrukking. Wat jy aansien as verligting is in der waarheid 'n kyk van teleurstelling en verlange omdat ek nie in die nag in 'n cotton top tamarin verander het nie.

    4. Dit is so.  Vorm volg funksie, maar in hierdie geval is die vorm opsetlik misleidend.  Sien, ek is eintlik BAIE meer aantreklik as wat hierdei foto sou laat blyk. As ek nie vir LitNet gewerk het nie was ek moontlik vanjaar Mej SA. Ek is maar net versigtig om nie dieselfde stelletjie as Marisha Pessl af te trap nie ... Maar beter as mense dink hierdie is inderdaad die aardige vormpie waarin ek gegiet is, en my geskrifte ernstig opneem, soos hulle bedoel is, as wat hulle tot so 'n mate deur my skoonheid verblind word dat hulle vergeet om te lees.

    Mooi bly en dankie vir jou belangstelling in my semiotiese analise van sywurmskap.

    Groete
    Bibi

  • Waldemar Gouws

    Dankie, Bibi, ek dink ek het nou 'n beter idee (alhoewel 'idee' veels te veel seg) nadat ek daaroor geslaap het - nie net skuinsgeleg het nie, maar met my volle gewig seilend moes slaap. Daar was 'n sywurm en 'n roeispaan-pendulum en die pendant van 'n spieel aan die uitspansel. Groete, W.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top