Ek is uit de oude doos. Ek sal erken ek was die laatlam in die familie, maar ek verloor nou tred met tye.
Ek ken nie van ponde en sjielings nie. Oorle ma het baie keer van een pond tien of 5 sjielings of een en ses gepraat. Ek weet nou nog nie wat de moer dit was nie.
Oorle pa het soos die vlieg kraai plaas twaalf myl van die naaste dorp gekoop. Skielik op 'n dag toe bly ons 20 kilometer van die dorp af en ons het nie eers getrek nie. Die plaas het vier en dertigduisend pond gekos. Daar was niemand wat komissie gekry het nie. Pa en oom Jan het blad geskud nadat daar op 'n prys ooreengekom is.
Ek is op die rype ouderdom van vyf kosskool toe. Van kleuterskool of graad R het niemand geweet nie. Spoorwegbus elke drie weke (koshuisnaweek) huis toe.
Skool is jy eerstens geleer wat die alfabet is. Dan het jy geluide gemaak om elke letter te onthou. Daarna het jy geleer lees en skryf. Potlood lig op en donker af. Skoonskrif het hulle dit genoem. Op die skoolgrond het in rye gestaan of geloop. Jy het nie teëgepraat nie. As jy aangejaag het, het jy dit geweet.
Ma en Pa het nooit vir en of op mekaar geskree nie. Pa het nie sy moer gepluk en op die draadloos geskree as die Springbokke droogmaak nie. Ma het alles ingelê. Pa het alles reggemaak wat gebreek het.
Ons het almal mekaar met respekte behandel.
Ek weet deesdae nie meer of ek iemand mag groet nie. Ek is ook onseker om vir iemand te glimlag. Ek is bang om kinders op te tel en in die lug te gooi en vang. Ek is skrikkerig dat 'n kind op my skoot kom sit. Ek is onseker om iemand as mejuffrou, mevrou of selfs meneer aan te spreek. Ek krap lankal nie meer in my neus nie. Praat nie eers van neus snuit of nies nie. Ek trek ook nie meer my binnebroek in die openbaar uit my boude nie. Ek is selfs bedag daarop om nie 'n ongewenste wind in die openbaar te laat uitsluip nie. Daar is mos deesdae so baie poeliste vir elke gewoontemisdaad. Ek is bang dat iemand my gaan vervolg oor lugbesoedeling of openbare onsedelikheid.
Ek is net baie bly ek is nie deesdae 'n kinners nie. Geen wonder van hulle is soekend nie.
Reusedwerg


Kommentaar
Reusedwerg, wat van oujongnooi of "bachelor"/ vrygesel?
Daar was net man of vrou, nie geslagtelikheid nie.
Die kerkraad het nog swart pakke gedra, met strikdasse en soos pikkewyne op 'n ry ingeloop en in voorste gestoeltes gesit.
Oom Kootjie Emmer was nog algemene gesig na donker...en was geruik..
Nou het dinge verander en selfs die kultuurrewolusie is tasbaar en sigbaar.
Mooi geskryf Reusedwerg. Ek onthou nog van ponde, sjielings en pennies - jy kon vier Wilsontoffies vir 'n pennie kry. Ek was nogal vies dat hulle met rand en sent gekom het, hoekom dinge so maklik vir die kinders maak - ek moes tot standerd 8 wroeg met ponde sjielings en pennies. Ook was millimeter en meter 'n onding, die ou voet- en duimskale het lekkerder gewerk. Maar andersins, soos jy sê, deesdae moet jy op eiers loop om nie iewers aanstoot te gee nie; mense word so maklik gekwets en dan is jy in groot moeilikheid. Jy mag nie eers deesdae 'n knipmes dra nie.
Jap Rap
Ek het 'n teorie dat pryse vinniger styg onder die desimale stelsel as onder die imperiale stelsel van ponde, sjielings en pennies.
As kind moes ek diwels bakker toe ry om brood vir die gesinne op die kleinhoewe waar ons gewoon het te koop.'n Lekker groot regte boerewitbrood het 'n tiekie (tripens) (drie pennies) gekos.
Om seker te maak dat ek nie die geld verloor nie het ek die 6 tiekies onder my tong gedra en lekker die afdraande afgery. Daar spoeg ek die ses tiekies in my hand uit, vee hul droog in my kortbroek se sak en plak hul op die toonbank met 'ses brode asb Oom'.
Met die brode veilig in mandjies, pak ek die pad terug aan en moes soms staan en trap om spoed op te tel. Nou ja, my teorie werk soos volg.
As 'n item 1£ 10 en 6 was, moes jy ten minste twee syfers verhoog om dit 1£ 12 te maak. Jy sou die prysverhoging dadelik opgemerk het. Met desimalisasie het items wat 3 sent gekos het gou na 5 sent verander en van daar af vinnig na tien sent in ooreenstemming met beskikbare muntstukke.
Dalk is daar 'n slim leser wat besig is met studies wat 'n ondersoek kan doen oor hoe vinnig pryse voor en na desimalisasie gestyg het. Vandag onder die desimale stelsel kry ek die indruk dat pryse makliker aangepas word as onder die ou imperiale stelsel.
Jan Rap, waar is dae wat vuisgeveg nie as aanranding deurgegaan het nie?
Hans,
Wat van as die prys in kwartpennies opgaan?
Wat aanranding betref; jy's reg.