Wat doen ons wanneer ons bid?: ’n Resensie

  • 2

Titel: Wat doen ons wanneer ons bid?
Skrywer: Vincent Brümmer
Uitgewer: Bybel-Media
ISBN: 9780864875600

 

Koop Wat doen ons wanneer ons bid?

Sy het ‘n Kindle, sy wag dat haar kind se swemoefening moet klaarkry, sy lees ‘n John Maxwell-boek: Developing the leader within you. ‘n Brand kan in die gimnasium uitbreek en sy sal net daar met haar Maxwell-boek bly sit.

Verdien Wat doen ons wanneer ons bid? ‘n plek in die lewe (of op die Kindle) van die Afrikaanssprekende leser wat John F MacArthur, Gordon Macdonald, John C Maxwell, Max Lucado, JI Packer, CS Lewis en John S Piper se boeke toe-oë koop?

Is die bekroonde Wat doen on s wanneer ons bid? een van die skaars waterskeidingspublikasies in die Christelikeboeke-bedryf?

In sy blog “The birth of Humanity” skryf Mark Ford: “Today, I'd like to talk about the most important skills we need to be successful in life. I've been thinking about this subject for several decades. I hope that what I'm about to say will be helpful to you.

“The Three Mega-skills: Thinking, Writing, and Speaking.

“I've identified about a dozen skills I believe are important to a successful life. Of these, three are fundamental: thinking well, speaking well, and writing well.”

Vincent Brümmer dink briljant. He is an academic who has refined the skill of thinking and speaking well. In Wat doen ons wanneer ons bid? word aktuele vrae aangaande God en gebed onder die soeklig geplaas en met aanvoelbare egtheid, oorwoënheid en erns beantwoord.

Word Wat doen ons wanneer ons bid? van voor tot agter gelees?

Sou daar ‘n brand in die gimnasium kon uitbreek sonder dat die leser van Wat doen ons wanneer ons bid? ophou lees? Indien Bybel-Media ‘n beduidende persentasie volwasse Afrikaanssprekende Christene so aan die lees en praat gekry het met dié boek, het sowel die uitgewer as die skrywer in hulle doel geslaag. Dit gaan tog by die toekenning van ‘n prys vir ‘n publikasie oor ‘n waarborg aan die leser: hier is kwaliteit. Tussen die eerste en laaste bladsy van dié boek is daar iets unieks, iets waardevols, iets van belang vir die leser.

Ek het ‘n sterk vermoede dat mense graag wil weet wat in Wat doen ons wanneer ons bid? gesê word, maar dat die uitgewer 90 persent van die lesers langs die pad verloor. En dat die lesersverlies-tragedie nie plaasvind omdat die skrywer enige van die drie megavaardighede kortkom nie.

Vincent Brümmer het sy statuur as internasionaal gerespekeerde denker, skrywer, filosoof en teoloog op grond van hierdie drie vaardighede verwerf. In akademiese kringe bou skrywers voort op die sienswyses en idees van vorige skrywers. Dit is presies wat die skrywer van hierdie bekroonde boek doen. Vincent Brümmer lewer sy bydrae tot die verstaan van gebed binne die gevestigde raamwerk van bestaande diskoersmateriaal oor die tema.

Maar in dié bekroonde boek gebeur daar iets interessants. Daar is toegevoegde waarde in. Wat doen ons wanneer ons bid? is ‘n allooi van akademiese objektiwiteit, uitgebreide navorsing, stewige en netjies-gestruktureerde bewyslewering, intertekstualiteit, deurdagte formulerings bedoel vir ‘n kritiese en ingeligte leser, intelligente verskansings waar nodig, formele akademiese retoriek … met die toegevoegde waarde van besonder geslaagde metafore uit die doodgewone werklikheid van die doodgewone denkende Christenleser. Een voorbeeld hiervan is die metafoor van God en die potplant in die vensterbank.

Hoekom die gesukkel om die boek deurgelees te kry?

Teen dié tyd water die belese leser se mond. Hy/sy begin lees, alte bly oor die bekroningseël op die omslag. Twee weke later sê dieselfde leser egter: “Ek erken dat ek keer op keer moedeloos-verdwaal geraak het in ‘n bekroonde boek waarvan ek die inhoud wóú assimileer.” Natuurlik soek jy die fout by jouself: spiritueel onryp vir die inhoud, lees nie genoeg nie, te oud, te jonk hiervoor, wat ook al. Maar later dink jy: “My gesukkel met die boek dui dalk op iets wat agterweë gebly het. My ervaring is die ervaring van die deursnee-leser. Iets moes vooraf deurgepraat gewees het, dan sou ons nie so gesukkel het nie.”

Bekroning

What are we doing when we pray? deur Vincent Brümmer was in 2009 die wenner van die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys. (Die Andrew Murray-pryse is toekennings vir Christelike publikasies in Suid-Afrika. Daar is twee pryse met eenderse name: die Andrew Murray-prys vir Afrikaanse Christelike boeke en die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir Engelse Christelike boeke.)

Motivering vir bekroning

Die motivering vir die prys was dat dié wesenlik hersiene en aangevulde nuwe uitgawe van Vincent Brümmer se klassieke boek oor gebed (1984) ? omvattende filosofiese ontleding van die sentrale kwessie oor die aard en beoefening van gebed bied.

Die skrywr

Vincent Brümmer, ‘n vermaarde filosoof en akademikus met grade in die filosofie en teologie aan die Universiteite Stellenbosch, Harvard, Utrecht en Oxford.

Uitgewer se teikenlesers

Die uitgewer se veronderstelde lesers van die werk is “volwassenes, predikante, gemeenteleiers en teoloë”.

Voorbereidende opmerking deur skrywer

John Murray (1826-1882)
Nicolaas Hofmeyr (1827-1909)
Andrew Murray (1828-1917)

Pioniers van spiritualiteit in Suid-Afrika. Hulle geloof was “nie iets soos ? teorie nie, maar eerder iets soos ? liefdesverhouding”.

Uitgewersnota

“Terwyl hierdie boek as ? waardevolle teksboek vir studente dien, dra dit ook by tot ? aantal aktuele debatte in die teologie en die filosofie van die godsdiens: Die debatte oor realisme en religieuse geloof; oor die rasionaliteit van die geloof en die aard van teologie; oor die verhouding tussen religieuse geloof en moraliteit; oor die verhouding tussen wetenskap en godsdiens en die lewendige debat onder evangeliese Christene in Amerika oor die ‘openheid van God’.”

Andrew Murray-pryse: oop gesprek of standpuntinname?

Mary-Ann Plaatjies-Van Huffel, moderator van die Verenigende Gereformeerde Kerk se jongste Algemene Sinode, het in 2013, by ‘n volgende Andrew Murray-Desmond Tutu-prys-toekenningsgeleentheid gesê: “Die vraag is of oop gesprek te veel onsekerheid by lidmate sal veroorsaak. Sal dit ongeloof tot gevolg hê indien die kerk sy lidmate aan ’n verskeidenheid standpunte blootstel? Hierdie pryse verteenwoordig dan juis ’n verskeidenheid stemme – wat nodig is om dit wat ons as kerk glo tot buite die lugversorgde ruimtes van ons kerkgeboue en sinodale sale te neem. Dit is nie asof die vrae weggaan wanneer die kerk nie bereid is om daaroor te praat nie. As kinders wat lewe in die lig, is die kerk verplig om aan die oop gesprek deel te neem. En dan nie slegs met Christene nie. Ons moet doen wat Paulus gedoen het, en ook meng met diegene wat nie aan die Christelike geloofstelsels verkleef is nie.” (Kerkbode, 5 Junie 2013)

Profiel van ? lesende Christen?

Die verwagtinge van die Suid-Afrikaanse leser van godsdienstige publikasies het die afgelope dekade ? radikale verandering ondergaan – dit kon nie anders nie. Die geloofsgemeenskap is van onskuld en naïwiteit gestroop.

Kerkbywoning daal. Geloof in God is nie meer vanselfsprekend deel van die nasionale kultuur nie. In opnames oor geloof en spiritualiteit blyk dit duidelik dat geloof in God (dus ook in God as hoorder van gebed) afneem.

Een ding wat geen uitgewer van Christelike publikasies meer kan doen nie, is om ‘n profiel of avatar van “die lesende Suid-Afrikaanse Christen-kerklidmaat” te skep.

Elke gemeente het nou stoere middeljarige en ouer geloofsmense met ? onversteurbare geloofsekerheid en minstens een persoonlike getuienis aangaande gebedsverhoring per persoon. Sommige sal filosofies-teologiese literatuur oor gebed lees, die meeste nie. Hulle geloofsekerheid, vermoed ? mens, is nog onversteurbaar omdat die beproewinge wat hulle op hulle pelgrimspad beleef het, verbygegaan het of op iets beters uitgeloop het.

In elke gemeente vind ons nou ook eens stoere middeljarige en ouer geloofsmense wie se geloofsekerheid, spirituele passie en oortuiging van gebedsverhoring vir lang tye in luier-modus bly.

Vir hulle het die lewe donker geword weens verlies, misdaad, ontnugtering en die onbegryplike toelatende wil van God wat die “ou normaal” in hulle lewe onomkeerbaar laat verdwyn het. Sommige sal filosofies-teologiese literatuur oor gebed in die huis hê, maar wanneer liggaam, siel, gees en verstand krank van smart en onbegrip is, het jy nie krag om ver en wyd oor dekades en eeue heen saam met filosowe na die waarheid te soek nie. Jy wil die waarheid weet, en dit moet kragtig wees.

In elke gemeente is daar passievolle jong Christene, gewoonlik uit wat in die kerk as Verbondsfamilies bekend staan. Hierdie jong Christene lees graag inspirerende en motiverende godsdienstige boeke uit veral die VSA. Hulle geniet die Skrif in Engels en koop temagerigte Bybels soos John Maxwell se Leadership Bible en The Stewardship Bible. Hulle filosofeer nie oor gebed nie; hulle bid net baie en doen dit gereeld in groepsverband.

In elke gemeente is daar ? generasie jong ouers – getroud én enkel – wat hulle kleuters en skoolgaande kinders kerk toe bring, kerklik inskakel en suiwer Woordverkondiging wat op hulle lewe van toepassing is, geniet en indrink. Dié groep het meestal nie tyd om filosofies-teologiese besprekings oor gebed te lees nie. Hulle lees die Kinderbybel, relevante materiaal vir die kwalifikasie wat hulle probeer verwerf, goeie letterkunde, kinderrympies, sake- en IT-tydskrifte en die Bybel. Sommige lees selde.

In elke gemeente is daar leë sitplekke waar mense wat die Christelike geloof afgelê het, eens gesit het. Baie van hulle lees baie. Maar nou lees hulle nie meer godsdienstige boeke nie.
Gemeentes het sporadies besoekende lidmate wie se name wel nog in die lidmaatregister van die gemeente staan. Sommige kom vir geleenthede soos doop, dood, ? sang-optrede van hulle kind se skoolkoor, ? kerktroue, of omdat hulle diep godsdienstige pa of ma by hulle kuier. ? Persentasie van hierdie groep kom gee die kerk en die prediker nog ? kans. Hulle soek na bevestiging van die bestaan en betrokkenheid van God by hulle lewe. Sommige sal filosofies-teologiese boeke lees. En dié wat dit doen, is waarskynlik die mees volhardende en ernstigste lesers van sulke publikasies.

In elke gemeente is daar ? geestelike leier: hetsy teoloog of gekose leier sonder formele teologiese opleiding. Sommige teoloë verdiep hulle in filosofies-teologiese besprekings aangaande die elemente van spiritualiteit. Sommige nie. Dié wat dit doen, lees dié soort werk vir persoonlike spirituele verryking en gebruik die kennis wat so opgedoen word, in genadige ivoortoring-halfuurtjies in besprekings met ander teoloë en intellektuele. Onder die ivoortoring sê hulle lidmate vir hulle: “Dominee/Pastoor, hoe ouer en meer verrinneweer ons as Suid-Afrikaanse (Afrikaanssprekende) Christene word, hoe meer gekraak raak ons oogtande vir twee dinge:

“Een: bolangse boeke oor gebed en spiritualiteit. Die lewe op grondvlak hier in Suid-Afrika is net te kompleks en die pelgrimspad van die meeste Christene heeltemal te steil en rotsagtig vir kitskos oor gebed as wesenselement van spiritualiteit. Die vraag wat ons as gewone mense sonder teologiese opleiding nou vra, is: ‘Wat bid ? mens wanneer niks sin maak nie?’

“Twee: akademiese diskoerse oor gebed. Ons hier in Suid-Afrika is voos en swaar verwond. Ons loop skuifelend, ons wil weet wat ons van God kan vra en glo en verwag ná nog ? grusame moord, hierdie keer een wat die weefsel van jou eie familie- en gesinslewe uitmekaarruk. Wat doen God wanneer bid baie moeilik word en die bidder eintlik maar net in die geloof aanvaar dat Hy alles wat emosioneel, kognitief en niekognitief, spiritueel en allesbehalwe spiritueel in jou aangaan, as gebed sal aanvaar? Dat Romeine 8:26 tog wel steeds aan die gebeur is: die Gees staan ons ook in ons swakheid by; ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.”

Die boek

Wat doen ons wanneer ons bid? land in die posbus van ? Afrikaanssprekende Christen. Die tema, kripties opgesom in die subtitel, is: Oor die aard van gebed en geloof. “Andrew Murray Desmond Tutu Prys, 2009. Gewis nie kits- of melkkos nie. In tye soos dié (gaan daar ooit weer ander tye wees as tye soos dié?) weet die geloofsgemeenskap hoe waar Heb 5:13,14 is: ‘Iemand wat nog van melk lewe, kan nie saampraat oor wat reg of verkeerd is nie, want hy is nog 'n kind. Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei.’”

Die voorwoord deur die skrywer skep ? verwagting van vaste spyse: “In terugskoue het dit vir my duidelik geword dat my ontleding van die dinge wat ons doen wanneer ons bid beduidende implikasie het vir die verstaan van die aard van spiritualiteit, van geloof en godsdienstige oortuiginge en van teologie. Volgens die Duitse teoloog Gerhard Ebeling is gebed die sleutel tot die verstaan van die aard van God. Hierby wil ek voeg dat gebed gesien kan word as die ‘taalspel van die geloof …’ In die woorde van John Drury is gebed ? ‘skool om te sien’. In teenstelling met wat algemeen in die moderne tyd veronderstel word, is geloof nie bloot ? kognitiewe onderneming soos die wetenskap nie. Dit kan nie geskei word van die spiritualiteit en die lewe van geloof nie. Geloof is daarom fundamenteel eksistensieel en nie bloot intellektueel nie. Dit hou in dat teologie nie ? spekulatiewe onderneming is wat ons op ? gelyksoortige manier met kennis van God voorsien as wat die wetenskap ons met kennis van die fisieke wêreld voorsien nie.”

Ek as leser was juis kniediep in “? tyd soos dié” en het behoefte gehad aan die versekering dat gebed wesenlike verandering in ? mens se moeë siel bewerkstellig. Dat God naby die bidder is. Ek wou – asof in ? samekoms waar Andrew Murray of John Piper die Woord verkondig – sommer net weet dat die verhouding tussen God en sy kind onaantasbaar is, dat sy Vaderskap nooit betwyfel hoef te word nie.

Na dié boek toe, dus. In die uitgewersnota word genoem dat drie hoofstukke tot die 1984-uitgawe bygevoeg is. In dié toegevoegde hoofstukke word die gedagte van GK Chesterton in besonderhede ontwikkel: “[Prayer] is not a thing like a theory but a thing like a love affair.” Gebed is die uitdrukking van hierdie “liefdesverhouding”. Dit is dan die vertrekpunt om die aard van geloof (en geloofsekerheid oor gebed) te verstaan.

In sy voorwoord omskryf die skrywer die aard van die hersiening en aanvulling as volg: “Die twee belangrikste hersienings is eerstens, my poging om my argument (veral in hoofstukke 3–5) meer eksplisiet in verband te bring met die huidige Amerikaanse debat oor ‘oop teïsme’. Dit is vir my duidelik dat die dinge wat ons doen wanneer ons bid, almal ? ‘oop’ beskouing van God veronderstel wat nie genoegsaam deur die teenstanders daarvan verreken kan word nie. In die mate waartoe die teenstanders van oop teïsme ? evangeliese vorm van vroomheid het, bots hulle leringe met hulle spiritualiteit. Tweedens, my gevolglike werk oor die mistiek en die liefde van God het dit vir my duidelik gemaak dat die sienings wat ek in 1984 oor mistiek gehad het, veral hoofstukke 6–7) eensydig en verkeerd was. In hierdie boek probeer ek dit regstel en om in meer besonderhede die verband tussen gebed en mistiek te ondersoek.”

Op bladsy 4 (“Gebed en eksperiment: Elia en Einstein”) weet ek toe, soos ‘n onfiks vyftigjarige wat abseil moet bemeester: dit is ‘n boek van kranse dié. ‘n Mens moet vooraf besluit of dit vir jou die aangewese tyd is om abseil aan te pak.”

Aanvanklik dink ek toe: Wat doen ons wanneer ons bid? is nie ‘n boek vir tye van smart, duisternis en onbeantwoordbare vrae en in jou lewe nie. As jy ‘n tyd beleef waarin jy soos die profeet Miga voel, lees die profeet Miga: “Daarom sal ek rou en huil, sal ek kaalvoet en sonder klere rondloop. Ek sal skreeu soos 'n jakkals, klaag soos 'n volstruis. Samaria se sweer is ongeneeslik, dit het gesprei tot by Juda: dit raak al aan my volk se stadspoort, aan Jerusalem” (Miga 1:8,9). Gaan klop Jesus Christus in die nag op, soos Nikodemus. Gaan skreeu jou hart voor God uit, soos Dawid. Gaan vereenselwig jou met Paulus. Soms is die gelowige te moeg vir vrae vra. Hy/sy is, in die woorde van CS Lewis, “in nothingtime”.

Aanvanklik dink ek toe: Nothingtime is nie die tyd om hierdie boek te lees nie.

Vincent Brümmer begelei jou immers na ‘n ruimte waar jy jou tussen filosowe gaan bevind. Hier word teorieë en bestaande argumente oor gebed en geloof kalm, klinies objektief en in akademiese styl bespreek. Hierdie boek plaas gebed, ons verwagtinge daarvan en die vrae van die denkende mens onder ‘n mikroskoop.

Wat is die vrae van die denkende mens?

As ek vir die onveranderlike God iets vra, sal Hy van plan verander?

Hoekom moet ek met die alwetende God oor énigiets in my lewe kommunikeer? Hy weet dit mos.

Gebeur die “wonderwerke” wat ek as gelowige na voorbidding vir ander of persoonlike versoeke aan God beleef, werklik in direkte antwoord van God op my gebede? Is die feit dat ek telkens nie sulke “wonderwerke” beleef nie, nie dalk die bewys dat die “wonderwerke” deur ander faktore, byvoorbeeld skitterende mediese sorg en behandeling, teweeggebring is nie?
Hoekom beleef ek nie die 100%-vervulling van Jesus Christus se belofte dat die Vader in die hemel “alles wat julle in die gebed vra” vir my gee nie?

Ons gewone Christene soek inderdaad tans na boeke oor gebed wat die Skrif vir ons oopbreek, nie naïef aandoen nie en op ? sobere, onweerlegbare wyse van die krag van God in ons moeilike bestaan getuig.

Ons ontdek iets verrassends in nikstyd. Dit is juis gelowiges in nikstyd wat begeer om te lees wat vir ons op die spyskaart van die boek is:

Om gebed op die proef te stel: “Alles wat julle in die gebed vra ...” Gebed en eksperiment: Elia en Einstein. Gebed en statistiese ondersoek; Francis Galton. Gebed en geestelike krag: Alister Hardy. Gebed as terapeutiese meditasie. Terapeutiese meditasie en die Christelike tradisie. Om die almagtige God iets te vra. Om die onveranderlike God iets te vra. Om die alwetende God iets te vra. Om iets te vra van die God wat volmaak goed is. Om vir die koninkryk van God te vra. Voorbidding. God se handeling en die natuurwette. God se handeling en mense se vryheid.

Wat tel as ? antwoord op gebed? Vra-gebede en die vestiging van ? verhouding met God. Skuldbelydenis en die herstel van ? verhouding met God. Danksegging en die erkenning van ? verhouding met God.

Ora et labora. Gebed en die morele lewe. Gebed en die aard van geloof. Geloof en die moderne manier van dink. Om die werke van God te onderskei. Religieuse ervaring en die geloofsoog. Kwaad, lyding en die geloofsoog. Metafore, verhale en die geloofsoog. Geloof en die aard van religieuse oortuiging. Die konstituerende voorveronderstellings van geloof. Geloof en die regverdiging van die religieuse oortuigings.

Van dié subtemas mag van lewensbelang vir baie van ons wees. Kan ? uitgewer dit waag om ? risiko te neem met enige leser wat ? boek met ? kwaliteit en integriteit soos dié een wil lees? Dit maak tog sékerlik saak of die uitgewer lesers langs die pad verloor of nie?

Vincent Brümmer se stem word al hoe sterker in die diskoers aangaande die aard van gebed en geloof. Hy baan sy weg deur die een argument na die ander. Hy weerlê, ontleed, evalueer en gee erkenning aan diepsinnige denke van ander. Maar die kernvraag van die bidder: “Wat doen ek wanneer ek bid?” systap hy nooit nie. Op bladsy 187 haal hy die kreet van ? karakter in een van Sartre se toneelstukke aan: “Ek het gesmeek, ek het aangedring op ? teken, ek het boodskappe na die hemel gestuur. Geen antwoord nie. Die hemel het my naam bloot geïgnoreer. Ek het elke minuut gewonder wat ek in die oë van God kan wéés. Nou weet ek die antwoord: Niks. God sien my nie, God hoor my nie, God ken my nie. Ek gaan ? gróót grap vertel: God bestaan nie.” Dit is dan die diepste vraag: Bestaan God?

Verder en verder lees dié vir wie die uitgewer nie langs die pad verloor nie.

Hierdie boek werp werklik lig op die wonder, die waarde en die wese van gebed. Die leser ontdek dat dit wat ons “vra-gebede” noem, ons eerder herinner aan ons afhanklikheid van God as dat ons God aan ons afhanklikheid van Hom hoef te herinner. Die leser lees dat religieuse metafore eksistensieel of “selfbetrokke” is: “Jesus, my Herder, my Vriend, my Priester en Koning, my Heer, my Lewe, die Weg en Waarheid en Lewe vir my.” Dat gesamentlike gebed nie meer druk op God plaas om aan ons wil en begeertes gehoor te gee nie, maar dat gesamentlike gebede meer mense by die verwerkliking van God se wil betrek.

Herhaaldelik word die voorveronderstelling van ? verhouding tussen die bidder en God as ononderhandelbaar uitgewys. In dankgebede is daar byvoorbeeld die reaktiewe gesindheid van die mens in antwoord op wat God dóén. Daarmee erken die mens dat God ? persoonlike rolspeler is. Maar, skryf Vincent Brümmer, “Miskien moet ons eerder die bewering dat God altyd die oorsaak is van hoe dinge verloop, bevraagteken ...”

Verder en verder lees dié vir wie die uitgewer nie langs die pad verloor nie.

En dié wat dit tot by die laaste bladsy maak, is ná die lees van die slothoofstuk met ontsag vervul. Góéd en suiwer, helderdenkend en vreesloos is hierdie boek oor gebed, oor die bidder en die God van die Bybel geskryf. By die gevolgtrekking waarby Vincent Brümmer in die slotparagrawe van Wat doen ons wanneer ons bid? uitkom, het min teoloë nog met soveel gesag uitgekom. Veel meer as wat ek gehoop het om te vind, het ek in Wat doen ons wanneer ons bid? gevind.

Wat sou ek nie misgeloop het as ek een van dié was vir wie die uitgewer langs die pad verloor het nie!

Wat doen ons wanneer ons bid? is ? waterskeidingspublikasie in die Christelike uitgewersbedryf in ons land.

Aan Suid-Afrikaanse uitgewers wat vaste geestelike spyse aan lesers wil bied

Nadat ek die vrou met die Kindle en die John Maxwell-boek so sien lees het, het ek my sagtebanduitgawe van Developing the leader within you gaan deurblaai.
Baie paragraafkoeëltjies. Kragtige subhofies. Heelwat grafieke. Tekskassies met aanhalings uit die teks en van buite. Kriptiese opsommings en vasleggings van kerngedagtes: “The ten commandments of confrontation”.

Toe plaas ek Wat doen ons wanneer ons bid? langs Developing the leader within you. Kursief-gedrukte aanhalings. Dankie, tog. Geen paragraafkoeëltjies nie. Te min subhoofde. Geen tekskassies met aanhalings uit die teks en van buite nie. Gevolgtrekkings aan die einde van elke hoofstuk. Kerngedagtes word nie spesifiek ter wille van die gewone volwasse leser belig nie.
Om die leser van die eerste tot die laaste bladsy van ‘n waterskeidingspublikasie soos dié te behou, moet die uitgewer, skrywer en redigeerder dalk net vooraf oor bakens, wegwysers en elke beskikbare hulpmiddel vir die leser gesels.

Die werk van skrywers soos Vincent Brümmer kan so baie vir so baie mense beteken.

Wat sulke skrywers bied, moet net reg verpak word.

Bronne

Mark Morgan Ford: Teach Your Children Well: How to Develop Successful Kids. http://thebirthofhumanity.com/blog-2/page/3/
Jean-Paul Sartre: The devil and the good Lord (New York 1960), bedryf 3, toneel 10.

 

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top