Wat bedoel hy Small het Kaaps in ’n joke-taal verander?

  • 0

Joan Hambidge het Nathan Trantraal se Chokers en survivors op LitNet resenseer.  Nathan en Ronelda Trantraal praat toe oor “poetry oo die liewe annie anne kant”. Danie Marais het ontbyt gaan eet saam met Nathan Trantraal. Robert Pearce het op LitNet reageer. Steward van Wyk het in Die Burger reageer. Michael le Cordeur het ook oor Kaaps op LitNet geskryf.

Nou skryf Nathan se broer, André, wat hy dink Nathan omtrent Adam Small bedoel het.

“Ek dink ’ie hy was ’n bad writer nie, wan dai tyd moet jy jou plek geken het. Jy kan nie bieter as ’ie baas geskryfetie. Vi dai tyd was ’ie writing goed, sal ek sê.”

Charmaine Trantraal, 53, lug haar mening oor die werk van Adam Small

=

Adam Small se oeuvre konstitueer die literêre ekwivalent van ’n pyramid scheme: wanneer ’n pyramid scheme ontbloot word en ineenstort het dit pynlike verliese tot gevolg vir die slagoffers. Small se werk geniet wye aansien omdat dit veral die goedkeuring van oningeligte liberale wit literatore gedurende die apartheidsjare weggedra het; bruin mense by wie sy werk byval vind beskou sy werk gewoonlik op onkritiese, onnadenkende wyse.  

’n Pyramid scheme is natuurlik ’n swendel waar beleggers met hul eie geld betaal word. As ’n mens die hewige reaksie in die pers, ’n rukkie gelede, op Nathan Trantraal se menings in oënskou neem, blyk dit duidelik dat talle mense van uiteenlopende agtergronde op substansiële wyse in Adam Small se werk belê het. Ek glo nie dit is onakkuraat om te sê dat hierdie beleggings hoofsaaklik van ’n emosionele, sentimentele en nostalgiese aard is nie.  

Adam Small het nog altyd beleggers in sy werk met hul eie verwagtinge betaal. Wat ek daarmee bedoel, is dat wit mense aan die liberale kant van die politieke spektrum gedurende apartheid reeds bepaalde vooropgestelde idees betreffende bruin kulturele identiteit gehad het. Adam Small het die gedigte en die toneelstukke geskryf wat linksgesinde wit Afrikaanssprekendes se sentimentele, stereotiperende, neerbuigende opvattings rondom bruin kulturele identiteit bevestig en ondersteun het; wat die verwagtinge van bruin mense in hierdie opsig aanbetref, dié was van sekondêre belang. Bruin mense destyds het gevoel dat die beeld wat Small van hul skets (kleurvol, bekkig, kostelik; kies jou byvoeglike naamwoord, maar maak seker dit is die soort wat mense vir narre en kinders reserveer) goed genoeg was: ek vermoed dat hulle eenvoudig gelukkig gevoel het dat iemand wie in Kaaps skryf, deur die mense met die hef in die hande toegelaat was om boeke in daardie taal gepubliseer te kry.

Die oorgrote meerderheid swart Amerikaners bewonder en het gestem vir Barack Obama: of hy ’n goeie mens is of nie, is amper irrelevant (Palestyne, byvoorbeeld, dink waarskynlik nie hy is ’n patron saint nie); wat vir baie mense wie deel maak van hierdie Amerikaanse minority, voldoende is, is dat die magtigste man in die wêreld ’n hoogs intelligente, hoogs bekwame, charismatiese swart man is. Talle bruin mense (hoofsaaklik ouer, konserwatiewe mense) koester gevoelens van ’n soortgelyke aard jeens Adam Small: of hy ’n kunstenaar van formaat is, is bysaak: hy is die mees gerespekteerde, mees geëerde bruin digter en dramaturg wat die Afrikaanse letterkunde al opgelewer het; ’n bruin man wie gedurende die apartheidsjare sy unieke stempel op die Afrikaanse literatuur kom afdruk het; sy werk versinnebeeld steeds vir talle Afrikaanssprekendes die hoogste aspirasies in terme van dit wat kreatiefs vermag kan word in Kaaps. Vir bruin mense wie Small se gedigte en toneelstukke anders beskou, maw wie minder genoop voel om Small se werk te goedkeur, is daar dus gekompliseerde emosies betrokke: ek weet, want ek voel daardie teenstrydige gevoelens myself. Ek kan nie enige bruin of swart man wie deur apartheid moes leef en ten spyte daarvan groot sukses behaal het, verkwalik nie. Ek kan egter ook nie toelaat dat my emosies die leisels neem waar dit eerlike objektiewe kritiek van enige skrywer se werk aanbetref nie: ewigdurende kuns verwelkom eerlike kritiek; inderdaad, kritiek is die smeltkroes waarin die edelmetale van kuns gelouter word.

Die vraag wat ek myself afvra wanneer ek Adam Small se werk lees, is die vraag wat ek myself afvra wanneer ek enige boek lees: Is hierdie hoegenaamd vir my bedoel? As ek kyk na die taal waarin Small se werke geskryf is en ek kyk na dit waaroor geskryf word, behoort my antwoord te wees: Of course. Ek kan egter nie “Of course” sê nie, want dit wás nie vir my geskryf nie. Die gedigte en toneelstukke was geskryf vir die enigste mense wie boeke gedurende apartheid kon bekostig, wie sitplekke in die teater kon bekostig. Small se gedigte en toneelstukke het die perke van daardie mense se begrip en belangstelling in ag geneem.

Toe Nathan Trantraal Small en andere daarvan beskuldig het dat hulle Kaaps in ’n joke-taal verander het, het hy bedoel dat die kwaliteit van hierdie kunstenaars se werk hul mening dat Kaaps as volwaardige skryftaal moes erken word, weerspreek: selfs klein kinders weet dat doen en sê twee heel verskillende dinge is.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top