Die tweede historiese gebeurtenis wat hierdie jaar die Europeërs besig hou, is die herdenkings rondom die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918). Buurland België en Frankryk was die lande aan die Wesfront. Jan Deloof se kommentaar op deel een dat Suid-Afrika en België meer te make gehad het met hierdie oorlog as Nederland, is geregverdig. Nederland was neutraal. Belgiese skrywers het in die afgelope jaar daaroor geskryf. In Suid-Afrika is Afrikanermans opgeroep om namens Engeland in Europa te kom veg. Dit het die Rebellie van 1914 tot gevolg gehad. Ook die Afrikaanse letterkunde het ’n paar klassieke werke hieruit oorgehou, hoewel die Eerste Wêreldoorlog nie meer so akuut herdenk word in Suid-Afrika nie. Weinig Suid-Afrikaners weet dat klaprose (of papawers) die simbool van die Eerste Wêreldoorlog is.
Die tydperk direk voor die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog was die belle époque (Frans vir “mooi eeu”). In die belle épogue het die tydsgees geheers dat die mens die toppunt van beskawing bereik het. Bittere ironie! Vandag gaan daar dikwels stemme op dat ons in ’n tydperk gelykstaande aan die belle époque leef.
Die belle époque het in 1870 ontstaan as gevolg van die industriële revolusie. Welvaart. Dit is gekenmerk deur die opkoms van ’n sterk middelklas. Die spoorweë-, lugvaart- en motorbedrywe het alles versnel. Verre reise was skielik moontlik. Radio en film het ontwikkel. Mense het vakansie gaan hou in luukse hotelle of strandhuise. Daar was genoeg geld. Massaproduksie en -verbruik het persoonlike smaak vernietig. Kultuurprodukte soos kuns is gemeganiseer, want kwantiteit was die belangrikste. In die wetenskap het spesialisering tot eindelose fragmentering gelei. Nuwe ontdekkings in die natuurwetenskappe het daarvoor gesorg dat baie mense geloof as oorbodig verwerp het. Die bevolkingsgetalle in Europa het gegroei van 188 miljoen in 1800 tot 401 miljoen in 1900. Is dit nie dinge wat vandag hand aan hand met die tegnologiese revolusie wêreldwyd gebeur nie?
Flikker die Derde Wêreldoorlog om die hoek?
Die kersvlammetjie wat die oorlog laat ontbrand het, was die moord op aartshertog Frans Ferdinand van Oostenryk. Die Bosnies-Serwiese nasionalis Gavrilo Princip was daarvoor verantwoordelik. Onderliggend was die tafel vir oorlog egter al lankal in Europa gedek. Nasionalisme en imperialisme het (soos vandag?) die botoon gevoer.
Duitsland het op 1 Augustus 1914 Luxemburg binnegeval. Twee dae later het hulle oorlog verklaar teen Frankryk. Duitsland moes egter toestemming by België kry om met hulle voetsoldate by die Franse grondgebied uit te kom. België het geweier. ’n Dag later (op 4 Augustus) het Duitsland België binnegeval en het Frankryk en Engeland die Belge te hulp geskiet. So het die Wesfront en die berugte loopgraafoorlog ontstaan. In die loopgrawe het miljoene Belgiese, Franse, Engelse (en soms Suid-Afrikaanse) soldate gelê en wag vir ’n aanvalsbevel. In watter rigting was dikwels onduidelik. En om dit uit ’n loopgraaf te bepaal, was onmoontlik. Sodra iemand sy kop uitgesteek het, is hy deur ’n sarsie koeëls neergevel.
Stefan Hertmans beskryf dit in Oorlog en terpentijn (2013). Sy oupa, Urbain Martien, is sy hoofkarakter. In Martien se nagelate herinneringe staan:
We doken met tientallen achter de wal. Een paar jongens proberen te kijken van waar het geschut kwam; bij het even heffen van het hoofd werden zij meteen afgeknald, hun lichamen sprongen omhoog door de dodelijke schok en vielen met een doffe knal neer. (186)
De jongen die ik vooruit stuurde naar de granaat is niet teruggekeerd; ik heb zijn dood op mijn geweten. Ik geef mijn mannen orders om zo geluidloos mogelijk de voorpost weer te bemannen, zelf kruip ik tot waar het slachtoffer ligt. Ik ben zo dichtbij dat ik de Duitsers hoor praten. Mijn hart bonst in mijn keel. Ik probeer de jongen terug te trekken door het slijk, dat is onmogelijk. Zijn hele borst is opengereten, hij ligt op zijn rug. Ik neem voorzichtig zijn geweer, zijn ammunitie, geef hem een kruisje op het voorhoofd.
Gotsedewaddu, schiet het door mijn hoofd. Gotsedewaddu, makker, godverdomme. (God seën u in wat u doen; 232)
Oorlog en terpentijn is vir die Libris Literatuurprys 2014 benoem.
Godenslaap (2008) van Erwin Mortier vertel dieselfde verhaal deur die herinneringe van ’n bejaarde vroulike hoofkarakter: die digteres Helena Demont. Dit begin met wat vandag nog alles uit die Belgiese grond opgegrawe kan word:
Er is ook het verlangen, of de wensdroom, de pen om te smeden tot een ploegschaar en een pas geschreven vel weer blank te ploegen, dwars op de regels, voor na voor. Dan zou ik terugblikken op een spierwitte akker, op de restanten die het ploegijzer naar boven heeft gewoeld: doorroeste emmers, stukken prikkeldraad, botsplinters, bedstijlen, een blindganger, een trouwring. (7)
Dumont onthou die Engelse oorlogsfotograaf, Matthew Herbeir, saam met wie sy as jong meisie Ieper toe was en met wie sy later sou trou:
Schoorstenen waren verbrijzeld, dakpannen lagen op hopen aan scherven in de goten onder de naakte nokbalk. Hij leek het allemaal aandachtig te bestuderen.
“Looks different every time,” zei hij … “Never a dull moment visiting bloody glorious Ypres …” (242)
Godenslaap het in 2009 die AKO Literatuurprys ontvang. Beide Mortier en Hertmans het oorlogsromans geskryf op basis van hulle karakters se herinneringe. Die oorlog is net te ver weg vir die opskryf van hulle eie ervarings.
Tog slaan die groot oorlogsbegraafplase in België en Noord-Frankryk mens se asem vandag nog weg. Hierdie grond is met bloed deurdrenk. Daar was ongeveer 20 miljoen slagoffers in die Eerste Wêreldoorlog, wat dit die derde grootste oorlog van alle tye maak. ’n Mens begin bietjie verstaan as oumense met klaprose teen die skouers sê: “Nooit weer oorlog nie.”
![]() |
'n Kleinerige Statebondsbegraafplaas by Point-du-Jour in België
|
By Ieper in België het drie groot veldslae plaasgevind: twee maal met chloorgas en mosterdgas – massavernietigingswapens. Mosterdgas is ’n Ieperiet genoem. Rondom Ieper lê 175 000 soldate begrawe. Buite Ieper is die grootste Britse oorlogsbegraafplaas ter wêreld. Dit is by Zonnebeke, met 12 000 grafte. Dis net soveel as alle rebelle saam in Suid-Afrika. Soms kom mens skielik af op ’n graf van ’n Suid-Afrikaanse soldaat, soos ene Conradie in die begraafplaas van Stadebondslande by Point-du-Jour. Net in die provinsie Wes-Vlaandere alleen is 450 000 soldate van alle nasionaliteite dood.
![]() |
Die begraafplaas van Verdun met 15 000 grafte en die kneukelhuis of Ossuarium van Douaumont met die oorskot van 130 000 ongeïdentifiseerde soldate.
|
In Noord-Frankryk is die grootste oorlogsbegraafplaas van die Eerste Wêreldoorlog. Dit is by Verdun met 15 000 grafte. Die Slag van Verdun het 400 000 slagoffers geëis, waarvan 130 000 se ledemate ongeïdentifiseer in die Ossuarium van Douaumont (kneukelhuis as onderdeel van die begraafplaas) opgeberg lê. By Thiepval is 73 367 name van Britse en Suid-Afrikaanse soldate wat vermis geraak het, verewig. Tussen die rye en rye grafstene staan dikwels rooi rose of klaprose geplant. Die simbool het in 1920 ontstaan uit die gedig In Flanders fields (1919) van luitenant-kolonel John McCrae.
In Flanders fields the poppies blow
Between the crosses, row on row,
That mark our place; and in the sky
The larks, still bravely singing, fly
Scarce heard amid the guns below.We are the Dead. Short days ago
We lived, felt dawn, saw sunset glow,
Loved and were loved, and now we lie
In Flanders fields.Take up our quarrel with the foe:
To you from failing hands we throw
The torch; be yours to hold it high.
If ye break faith with us who die
We shall not sleep, though poppies grow
In Flanders fields.
![]() |
Klaprose groei orals, ook in loopgrawe.
|
In die omgewing van Verdun lê oorblyfsels van die Franse dorpie Fleury devant Douaumont – grasoorgroeide hopies. Dit het as gevolg van bominslae ontstaan. Niks het van die dorpie oorgebly nie, behalwe ’n paar naamplaatjies wat nou vertel waar die skool en die kerk was. Die eerste plantjies wat hier uit die omgedolwe en bloed-deurdrenkte aarde gegroei het, was klaprose.
In Afrikaans het die Nederlandsgebore rebel Johannes van Melle die roman Bart Nel (1951) oor die Rebellie geskryf. Hy was een van die 12 000 wat geweier het om namens Engeland in Europa te kom veg. Van Melle het hom met die Afrikaners se saak teen die Britse Imperialisme vereenselwig. Hy was as rebel ’n tyd lank in die tronk en is vir drie jaar verbied om as onderwyser te werk. Die digter C Louis Leipoldt het ook oor die verskrikking van die Rebellie geskryf, in “Oom Gert vertel”.Hier volg ’n fragment:
Op ’n dag kom die nuus … (Wag, hier’s sy weer. –
Ag, hartlam, ja die hoenders van die stoep!
Kyk daardie haan; hy krap die blomme uit!)
Nou, een dag kom die nuus – ja, wat ’n skrik!
Johnnie en Ben was albei vas gevang
En in die tronk gestop. ’n Krygsgerig –
Jy weet die res! En daarop weer ’n slag:
Die vonnis was – hul altwee word gehang!
Ons Liewen-Heertjie weet dit was ’n slag!
Ons het ons bes gedoen, maar tevergeefs;
Die vuilgoed skreeu om wraak – en hul moet hang!
Dié môre kom die hoofkonstabel sê:
“Die kol’nel stuur sy kompliment!” – God,
Sy komplimente! – hoor! Het jy verstaan?
Verstaan jy, neef? – sy komplimente!
Nee!
Bedaar, bedaar my hart, al kraak jy ook:
Ons moet die drumpel oor, al breek ons dood!
En: “Asseblief, wil ek op môre kom
En sien hoedat rebelle getrakteer word ...”
In België en Nederland is die hele April-uitgawe van die poësietydskrif Het liegend Konijn gewy aan gedigte oor die oorlog. Die aantal digters wat nog iets van ’n groot oorlog uit hulle vroegste kinderjare kon onthou (die Tweede Wêreldoorlog) en iets oor oorlog gedig het, is ongeveer ’n halfdosyn uit die opgenome 113. Emma Crebolder (1942) skryf byvoorbeeld:
![]() |
Beendere in die kneukelhuis of Ossuarium van Douaumont
|
17 januari 1945 had onze moeder voor
een verjaardagkoek bakmeel uitgestrooid.
Haar handen lagen op het altaar.
Straks zou ons vergoten bloed bestoven
worden, en onze vader verwittigd zijnWe werden dood de inslag van die V1
tegen de keukenvloer gesmeten.
Het alziend oog en alle ruiten braken.
De scherven staken uit ons hoofd
alsof we allemaal verjaarden.
Vandag groei en bloei die klaprose wild langs die Europese hoofpaaie. Die brose blomblaartjies maak mens hartseer.
So is ons. Pragtig. Verganklik. Niks méér werd as die massas jong en onskuldige soldate wat eensaam in hulle grafte lê nie. As die winde van oorlog oor ons waai …