
Foto: Canva
Was gewees
Eendag in hierdie tyd
gaan ons gejaag tot stilstand kom
ons handel en wandel vertraag
ons rug verkrom
gaan ons retrospektief
wonder oor lewenswaarde
oor inwin tot produktief
gaan ons introspeksie hou
oor jare se doen en late
alles in ’n ander lig beskou
vasklou aan soet herinnerings
kosbare oomblikke onthou
ver oor vlaktes tuur
kortstondig voor geestesoog
onthou van hoogbrandvuur.
Eendag in hierdie tyd
gaan ons insig en wysheid
in onbruik raak
kennis met jare opgebou
verouderd blyk te wees
nie meer goed om te vertrou
gaan ons vry wees van gister se gejaag
geen versoekings
wat ons meer uitdaag
gaan ons wonder oor lewensprestasies
wat moes bydra tot uitbou
van slimmer nasies
wonder oor erfenis
of jare se swoeg genoeg was,
die nageslag ons sal mis.
Eendag in hierdie tyd
sal ons moet besin en besluit
waar ons die laaste
skof gaan slyt
dit voel nog ver in die verskiet
maar teen die tempo wat
jare verdwyn in die niet,
dalk net hier om die draai
dit sal ons niks baat
om vas te skop of daaroor te lawaai,
want geen mens kan dit ontglip,
almal is beskore
om op te eindig by ...
“was gewees”.

