Warmwatersak

  • 2

Ek wonder of daar 'n huis is waar hierdie noodsaaklikheid nie was nie?

Dit was mos, amper soos bedtoegaan koffie voor slaaptyd een van die rituele gewees toe ons nog mens was. Die water word opgesit vir die koffie en as die koffiepot beginne prut dan moet die water opgesit word vir die warmwatersak. Vir die voete. Ek onthou soveel weergawes van warmwatersakke: Altyd gehekelde omhulsels. "Anders brand hy my voete" - hoor ek vir ouma beduie as sy die omhulsel sorvuldig oor die plestiek warmsak trek.

Stap vandag in die nuutste Wallmart-blinklig-hiper-verbruikersverslawende doenigheid rond en ek sien nie meer warmwatersakke nie. Wel warm- of elektriese komberse. Deesdae, soos alles deesdae, ook groen en Eishkom vriendelik. Gebruik minder krag as wat dit sou vat as twee mense die einste bed self sou wou warm hou. Iets soos 3 Kerskrag of so-iets per uur. En dis toe ek verdwaal raak want iemand probeer met die anner mense se koppe smokkel en kry dit teen die tempo van 'n paar honderdduisend rand later tog reg. Het jy al ooit in 'n kooi probeer slaap as daai veilige warmkombers beginne smeul? Ek onthou een nag waar ons dit probeer het en dit was nie die reuk van ons twee nie, dit was 'n brandreuk anners as die gewone wat mens ruik as jy "doenig" is en dit behoorlik probeer doen. Dalk is warmkomberse nie bedoel om 'n gewoel onner die komberse te weerstaan nie.

Soek verniet na 'n warmwatersak vandag in die designer shoppie gekamofleer as die beste ding sedert Pick en pay. Hulle beduie vir my na die elektriese afdeling en ek kry net Russel'n Hobbs goeters wat in elk geval onnodig is want ek het mos 'n Kenwood. Wat al vir 40 jaar werk en heel waarskynlik vir nog soveel jare sal werk. Ek beduie dat ek 'n warmwatersak soek. "die soort wat so Squeeeeeck as jy hom behoorlik styf toedraai" probeer ek in die rigting van die Stimorol Infinity kouende winkelassistent en toe sy die kouery so half stop toe sien ek sy het geen idee waarvan ek praat nie.

Want hoe beduie jy vir iemand van dit wat jy geken het? Hoe beduie jy vir hierdie nar wat net hier is omdat sy niks anders wil of kan doen dat jy dit wil herleef wat jy eintlik lankal moes vergeet het? Hoe beduie jy vir haar van lang nagte en koue warmwatersakke in die nanag? Hoe beduie jy dat jy daai ding vroegoggend net wil uitskop want die water in die sak is skielik koud?

Ek is redelik seker dat jy met moeite aan die deursnee outjie deesdae sal moet beduie dat jy in elk geval net so 'n warmwatersak nodig het as die ou man se voete te koud is. Deesdae het mens in elk geval 'n lepel nodig as jy selfs die basiese wil beduie.

oester

  • 2

Kommentaar

  • Dag Oester,

    die hedendaagse winkelwerkertjies verstaan niks wat nie gigabytes het nie.

    Ek het ook opgegee en het nou 'n elektriese bersie.

    Groete en wense vir 'n snoesige winter.

    Duitswester

  • Heita duitswester.

    ek het maar die kaggel en die kaggel en die karosse wat doerie tyd deur 'n ou man gemaak is. Dis lekker as die koue buite mens 'n rooi neus gee. lat mens dieper onner die komberse inkruip en voel na die goete waaroor selfs die honne baklei as ons nie kyk nie...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top