ons stap nie meer saam hand aan hand
op ’n maanlignag langs ’n Suidkus strand
want
ons maak nie meer kampvuur bo in die berge
nagte alleen so onder die sterre
want
ons eet nie meer by kerslig uit
daar waar ons saam oor die baai kon kyk
want
ons slaap nie meer somers in die agterplaas
lê en luister hoe die bure praat
want
ons stop nooit meer by ’n padkafee
vir ’n roomys of ’n coke vir twee
want
ons loop nie meer saans in ons woonbuurt rond
so vrolik saam met ons keffer-hond
want
luidens ’n duisend voorbladberigte
lê ons twee ook grusaam vermoor
op al hierdie plekke
tien duisend sinnelose kere
oor en oor
en oor

