
Foto: Canva
Want ek kan nie anders nie
’n bekenning
Ek het al hard probeer, glo my, ek het.
Regtig.
Maar elke poging was ’n rojale mislukking. Soms was dit selfs ’n vernedering, want partykeer moes ek my vorige posisie herroep.
Ek bedoel nou daarmee my posisie van ongeloof.
Ek het sekulêre boeke gelees met die hoop dat ek tot ateïsme oortuig sou word; ek het alle apologete van die ongeloof noukeurig uitgesoek en bestudeer. Maar dit was alles tevergeefs: Gelowigheid is in my selle ingeweef soos die kleur van my oë. Ek sou myself moes vernietig om ’n einde daaraan te maak.
Richard Dawkins kon my nie oortuig nie.
Sam Harris kon my nie oortuig nie.
Sartre kon my nie oortuig nie.
Ons eie Riku Lätti se werk Taboek kon my nie oortuig nie.
Die hele skrum ateïste kon my belewenisse nie verander nie.
My reis na geloof begin al in my eerste jaar op universiteit toe ek ’n prikkelende vak genaamd filosofie, of meer spesifiek, antropologiese filosofie, die bespiegelinge oor die mens, vir my graad gekies het. Jy weet: Plato, Aristoteles, Wittgenstein, Aquinas en so meer. Al die groot denkers van die Westerse beskawing. (Vreemd genoeg, Oosterse filosofie was heeltemal uitgesluit en ek weet nie regtig hoekom nie.) Ek het gehoop dat dit die waarheid oor die wêreld vir my sou ontsluit.
Dit is toe dat ek hom ontmoet het. Die profeet van die (beweerde) goddelike doodsnikke: Friedrich Nietzsche. Die voorvader van die Nazi’s, die post-modernisme en beide linkse en regse maniakke. Ek het sy werke soos ’n wolf verslind en was gedurig high op sy nihilistiese gedagtes gewees. Dit was eerlikwaar ’n bedwelming.
Die Übermensch, die Ewige Wederkeer, die Dood van God en nog vele meer ontstellende gedagtes oor die Godheid.
Om sy boeke te gelees het was soos om ’n intellektuele zol te rook. Ek het ook hierdie zol probeer aan-pass aan ander sodat hulle ook hoog kon raak. Hulle wou meestal nie saam rook nie.
Die ongeloof staan hulle nie aan nie.
Maar selfs in my bedwelming kon ek nie die sprong na die pure nihilisme neem nie. Daar was altyd hierdie knaende gedagte aan ’n Godheid wat nie wou doodgaan nie. Ek probeer toe kompromitteer. Goed, dag ek, miskien sal God altyd in my gedagtes terugkeer, maar ek kon Hom ontmagtig.
Toe word ek maar ’n deïs.
God bestaan, Hy het die heelal geskep en beplan soos ’n Hemelse Argitek, maar Hy reik nie uit nie en Hy beantwoord ook nie gebede nie.
Kortom, Hy meng nie by die wêreld in nie.
Helaas, hierdie geloof is gedurig bederf deur gebede wat instinktief, onverwags uit my mond geglip het. En my oë het voortdurend Sy Hand in my lewe gesien.
Maar wag! Daar was nog ’n poging tot goddelike verskraling: die panteïsme! Panteïsme waarin alles in die geheel die Godheid was.
Panteïsme werk toe ook nie vir my nie, want dit is – soos Richard Dawkins opgemerk het – maar eintlik net sexed-up atheism. As alles heilig is, is niks heilig nie. Die glimlagte van kinders is nie meer heilig as die begeertes van pedofiele nie.
Dit is nihilisme met panache.
Uiteindelik was dit vir my ook maar onbevredigend.
Oor hierdie vreemde impuls om te glo het ek al vele male oor nagedink.
Gewonder.
Bespiegel.
En ek het besef my (geneigdheid tot) geloof is nie gegrond op rasionele argumente nie. Met laasgenoemde is ek goed bekend, want die kuns van redenasie is as prokureur my nering. Tog kon ek myself nie eers met my eie slinkse beredenerings oortuig nie.
In der waarheid word die geloof nie ingekleur deur die rede nie. Nee, dit is gegrondves op gevoelens.
Dit is egter ook nie komplekse sentimente nie. Hierdie emosionele fondasie is eenvoudig net dit: die liefde.
In oomblikke en dade van liefde verskyn die aangesig van God aan my.
Die Liefde met ’n hoofletter “L”.
In die Evangelie van Johannes leer ons immers dat God Liefde is.
Toe erken ek dit maar aan myself: Ek is lief vir God. Nee wag, dit is meer as dit, ek is verlief op God, net soos die Hooglied die liefde tussen die geliefde en die Liefhebber so diepsinnig beskryf. ’n Mens word dronk op die minne wat alles in vreugdevolle kleure omtower.
Geestelik ewig verlief.
Hiermee beskryf ek nie iets eroties nie. Die erotiek kan buitendien nie die oorweldigende aantrekkingskrag verwoord nie. Dit is iets meer as romantiese liefde.
Iets wat woorde ontwyk.
Iets majestueus.
Selfs die Liefde soos wat die digkuns probeer saamvat, kan nie die krag beskryf of verstaan nie.
Maar talryke mense beleef hierdie Liefde hoegenaamd nie. Jy kan dit in hulle oë sien – hulle kyke raak dof as jy jou verliefdheid verklaar asof hulle jou as geestelik-versteurd skat. Maar hulle is reg: Die geloof is versteurd, want die
Liefde kan ’n mens nie peil nie.
Dit laat mense vreemd optree.
Soms die lewe versaak.
Vir die sekulêre mense is self-ontkenning teenstrydig met die wêreldse wysheid dat jy altyd na jou eie belange moet omsien.
En nugter, rasioneel bly.
Daarenteen staan die oorweldiging van die Liefde.
Opofferend.
Soos ’n pa sy kind liefhet.
Soos ’n patriot haar land.
Soos ’n ma haar dogter.
Soos ’n kind sy ouers.
Soos ’n kunstenaar sy kuns.
In die wêreld se oë is my gedagtes verkrom.
Die verliefdheid op die Godheid laat mense soms swape van hulself maak: Hulle kyk en sien iets wat geen verstandige mens sien nie. Hulle luister en hoor iets wat geen mens met rasionaliteit hoor nie. Dit blyk ’n toestand van waansin te wees.
Hulle is reg.
Van buite betrag, lyk geloof soos kranksinnigheid. Om die waarheid te sê, dit lyk meer as net waansinnig, dit is uiters bisar en absurd.
Alle kritiek ten spyt, kan ek nie anders as om te glo nie.
Dit herinner my aan een van my gunsteling-Bybelverse, naamlik Prediker 7:13, wat so lui:
Aanskou die werk van God, want wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het?
Miskien is dit juis dit. Is ek dalk iemand wat krom geskape is?
Of dalk is ek reguit gemaak en die wêreld krom?
Ek kan die vraag nie beantwoord nie, behalwe om dit te sê: Die Waarheid sal eendag self uitwys wie krom en wie reguit was.
Maar dit is ’n bekenning vir ’n ander dag.
Intussen bly ek glo, want ek kan nie anders nie.


Kommentaar
Hierdie skryfstuk is waarskynlik eerder faksie as fiksie onder 'n nom de plume en die skrywer se reis na geloof het reeds by geboorte (doop en dinge) begin.
Friedrich Nietzsche was nie 'n nihilis nie (‘God is dood’; verkeerd verstaan), die Übermensch was volgens hom ’n individu wat bo homself uitstyg, nie ’n biologiese ras nie.
Gemini: “Waar baie mense filosofie gebruik om te ontsnap uit die pyn van die werklikheid, gebruik Nietzsche Amor Fati om die werklikheid voluit te omhels—die goeie én die slegte.”
En so aan.
Hier is 'n goeie anekdote: “The story of Nietzsche and the horse is a famous, likely apocryphal anecdote from January 3, 1889, in Turin, Italy, where philosopher Friedrich Nietzsche, witnessing a coachman brutally whipping a horse, rushed to embrace the animal's neck to protect it before collapsing in tears. This event is believed to mark the final mental breakdown of his life.” - Google
Ná 'n 100 bladsye van David Szalay se Flesh is ek ewe ongeroer. Dalk is ek 'n nihilis. 🙈
Dankie vir die plasing.
Ek leef jare reeds met amor fati. Dis egter iets wat al uit die Stoïsyne tyd kom en niks uniek aan Nietzsche nie
Treffend, Martin.
Ek is nou weer presies die teenoorgestelde. Ek sou bitter graag gelowig wou bly. Dit sou my lewe eindeloos makliker gemaak het. Om 'n godsdiens te beoefen is deurslaggewend vir jou loopbaan. Sakemense wat openlik ongelowig word, ly dikwels reuseskade aan inkomste, omdat gelowiges teen hulle draai. Ongelowiges se kanse in die politiek is effektief nul. Dit baat jou veel meer om te veins oor jou geloof. Jou sosiale media vol bybelverse te plak. Selfs al maak jy net of jy 'n gelowige is soos Donald Trump, jy hoef glad nie soos 'n Christen te leef nie. By elke familiesaamtrek is godsdiens ook gewoonlik hoog op die agenda. Die een helfte van die familie glo aan die wegraping en die spoedige wederkoms. Hulle volg vir Danie Botha op Facebook, wat hulle op hoogte hou van die wederkoms. Die ander helfte is protestants en is 'besoedel' met die 'liberale teologie'. Maar die heel groot probleem is jy. Jy wat nie vir God kan insien in die natuur nie. Jy wat ontken dat die mens 'n onsterflike siel het. Jy wat in evolusie glo. Jy wat nie God se stem kan hoor soos die res nie. Vir jou word daar 'n boekie in die hand gestop van die of daai een wat gesterf het en vir Jesus gesien het en toe weer lewendig geword het. Of wat dalk hel toe was, en almal nou waarsku.
As gelowige kan jy ook nou 'n reusekruis buite jou dorp oprig, homoseksueles en vroue op die kanse verdoem, tesame met alle ander denominasies, omdat hulle almal die bybel verkeerd verstaan, anders as jou denominasie. Dit is die dinge waarmee ek my ook sou besig hou, was ek nog gelowig. Dit sou my veel meer gebaat het om so te leef, as om eerlik te wees en te erken ek glo nie aan god nie. Eerlikheid is geen deug nie. Veral nie in die huis van God nie. Dit baat jou veel meer om saam te speel, of jy nou glo of nie.
Martin, ek het ook my geloof van my probeer afskud soos skilfers van my skouers. Dit was 'n verskriklike las in my kindertyd, al die gebid en gepreek. My pa, die ouderling en tiran met sy ses diensmeisies. Maatjie se pa, ouderling en pedofielvark. Ná universiteit het ek losbandig en onverskillig geleef. Gerook en gedrink. Die wilde dae van die Nagkantoor. Ek weet nie hoe en wat nie, maar ek glo steeds in en aan God. En meer nog, ek glo dat ek verlos is deur Jesus Christus se kruisdood. Ek verwyt God steeds oor dinge wat in my lewe gebeur het. Oor ek gebore is. Oor my ouers. Oor hierdie land. Ek kan skuimbekkend van kwaadgeit word oor Satan en sy hordes op die aarde afgegooi is. Was Jesus nie veronderstel om hom te oorwin nie? Ek weet nie hoe ek in God kan glo as ek lees van wêreldwye pedofielnetwerke nie, van kinders wat gemartel word vir adrenochroom, gemartel word deur MK Ultra om die mens se brein te bewapen, kinders wat geoffer en geëet word. Hoe verstaan 'n mens dit? Hoe kan God dit toelaat? Ek vind nooit antwoorde wat my tevrede stel nie. Maar ek glo in God en in Jesus Christus. Ek weet nie of ek vir hulle lief is nie, maar ek glo en ek praat met hulle. Nou het ek dit vir myself uitgemaak: Dis nie ék wat kies nie, maar God wat my kies. Ek verstaan nie die uitverkiesingsleer nie. Ek gaan ook nie kerk toe nie. Maar God het my gekies, so lelik en sleg en verkeerd en siek soos ek is. Amen.
Jy slaan die spyker op sy kop, Karla. Geloof in 'n opperwese en rasionele denke is nie versoenbaar nie. My rasionele lewensuitkyk maak dat ek nie tyd vermors op geloof nie maar eerder die goeie spirituele weg bewandel. Geloof in 'n God word van kleintyd af in mens geprent en die Bybel word gebruik om dit te staaf. Bybelse waardes and Islamse waardes is lank terug gesteel by die Koptiese Egiptenare. Meeste mense glo omdat hulle swak ingelig is, maar deeglik gebreinspoel. Jy is maar net 'n rasionele mens, dis al. Iets om op trots te wees. Jy is nie te lui om vir jouself te dink nie. Well done.
Intuïsionele (persoonlik rasionele) denke mag effektief wees in ‘n komplekse, onbekende en dinamies veranderende omgewing waarin spoed en ondervinding gebaseerde insig, krities is. Beperkinge sluit in die gebrek aan ondervinding om ‘n betroubare intuïsie te bou en die risiko van bevooroordeelde emosies wat rasionele denke (bewyse) onverwerp.
Rasionele ontleding is die beste maatstaaf.
Skitterend, Martin!
Dankie! Reguit die hart uit geskryf.
Alle moraliteit - selfs humanisme - is dan ook 'n saak van indoktrinasie. Party mense kan nie anders as om te glo nie en ander kan weer nie glo nie. Dit is 'n predisposisie waarmee 'n mens gebore word. Hoekom jy so is en nie anders kan nie, verdedig mense met rasionalisasies. Beide ateïste en Christene doen dit. My artikel beskryf my predisposisie en is nie 'n stuk apologie nie.