Geskryf vir: Straatligkinders
Want in 'n oseaan lyk 'n traan soos niks nie
En liefde in haat word dan fiksie
Want ek het jou gesien. Ek sweer ek het.
Jyt gevlieg. Ek se dit het gelyk asof jy vlieg.
Ek kyk oor 'n ander skaduwee se skouer en word ingebalsem deur 'n reuk wat my laat dink aan die hemelruim wat ons eens gedeel het.
Maar dit was nie dieselfde nie.
Dit was nie jy nie.
Ek se dit was nie jy nie.
Dit is nooit nie.
Was dit ooit?
Dis nie jy nie.
'Kyk af en keur terug' het jy altyd geroep
Maar jy was te hoog en ek kon jou nie hoor nie.
Jou woorde is soos die wind.
Ek voel dit maar ek kan nie daaraan vat nie.
En daar bly niks agter om aan vas te hou nie- veral nie na 'n storm nie.
Nie wat ons kan deel nie anyway.
Niks
Maar ek dink jy slaap- en dit sal okay wees.
Ons kan iets maak uit niks.
Dis mos wat mense doen. Hulle veg.
Nie vir hulself nie- maar vir mekaar.
Maar vir hulself.
Eintlik dink ek mense veg omdat hul bang is vir hulself.
Omdat hulle bang is.
Want vrees maak jou wakker en vrees laat jou slaap
Kan ek asb net 'n hipster wees in die kaap.
Want dan voel mens mos niks en alles is 'n game.
- 'n maklike een wat jou siel velklein.
As ek my kop so draai sal dit moontlik wees om jou te vergeet.
En jou reuk te verdoem en te verdoof met hierdie skouer.
Want ek dink dis standvastig- vir 'n skaduwee anyway.
En ek dink ek aanvaar dat dit nie jy is nie.
Ek aanvaar dat dit nooit sal wees nie.
Maar as jy my kan ontmoet op 'n plek waar ons altwee kan loop- op aarde- opstoot.
Kan ons dan praat soos mens en dan eet van vlees?
Die brood is op en my wyn is suur- want dis donker.
En ek dink ek kies om nie die verval-datum te kyk nie.
Ek dink dis 'n storm en ek hou nog vas.
Kyk op.
Maar ek dink dis tyd dat jy terugkom.
Want in 'n oseaan lyk 'n traan soos niks nie
En liefde in haat word dan fiksie

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

