“Jy moet altyd met ’n erection skryf.
Al is jy ’n vrou.”
Vanaand voel ek die sinne sneuwel in my lyf.
Gatvol geherkou aan ingeslukte stemme,
bedrieglik geblikte bekendes,
bedaard gebalsemde bokkapaters
wat in die brakste waters van my brein dryf.
Armsalige son, jy’s ‘n sirkelsin wat sielstevrede
voortskuifel met jou stomp sede
geset in sout, soos Lot se vrou.
Ysige vingers klou onder somer se wye romp.
Allen Ginsberg, die lont is koud,
hy’t lankal al gaan lê in my lyf.
Wanneer gaan ek die dinge begin sê
wat ek hier is om te skryf?

