Wanneer word genoeg te veel?

  • 0

Daar is ’n klomp mites en vooropgestelde gedagtes en vooroordele wat die werksmark beïnvloed. Sommige kleinsake-eienaars sal die standpunt huldig dat hulle nie ouens wat gholf speel sal aanstel nie. Ander base, sal weer die ou wat met sy gholfkarretjie in die kattebak saamry, juis aanstel.

Dieselfde legendariese benadering geld vir die aanstelling van uitgetrede rugbyspelers as bemarkers by alles van sekuriteitsdienste tot middelklashuise in eksklusiewe ommuurde ontwikkelings.

Selfs Ernie wissel sy spel met ander geldmaakdinge af.

My relaas op hierdie sonnige herfsdag het dit nie ten doel om die waardigheid van die obsessiewe gholfspeler of die klub se belowende buitesenter by te kom nie, maar eerder, om die skeefgetrekte vooruitsigte wat van ’n blink sportloopbaan as oorweging versteek word, toe te lig.

Weereens eenogig.

Gister het ek en my beste vriendin op die harde sitvlakbrekers van die beskeie Port Elizabeth-lughawe gesit en wag vir ons skroefmobielrit huis toe. Rondom ons het die maatjies van Mmusi Maimane in kleurgebonde groepies met blou hempies gesels en plesierig die Sondagmiddag geniet.

Moontlik het hulle reeds die 2016 verkiesing gewen - ek weet nie ...

Naas hulle en ’n paar ouer omies met krom rûe en sakkerige oë, was daar die kroonwild van ons sokkerbroeders. Die manne van Kaiser Chiefs.

(Die plaaslike mense se span het die vorige dag verloor en as onverdiende bonus, het ’n veldnaler sommer sy laaste asem ook op die veld gelos.)

Maar helaas, die beker was op pad Gauteng toe en die sokkerhelde het, met hul medaljes om die nek gegord, in die lughawe se wagkamer kom land. Die ondersteunende personeel of amptenary, ofskoon ek die afleiding gemaak het, was die penorente mannetjies met blou jannasse, swart gepunte skoene, wit hemde en Kaiser Chief baadjies. Hul gaan sit, bene kruis en selfoon teen die regteroor druk, was een beweging.

Toe frons dit aandagtig, skud die skouer ligweg om die spiermassa eweredig te versprei en kry dan daai veraf verby die mense en mure uitdrukking op die gesig – jip, hierdie is belangrike talentvolle nie-spelende lede van ’n wenspan.

“Ons is hier; hier is ons!”

Die hopies spelers kom drentel-drentel die wagkamer binne. Hierdie sweetpakbende met hul eenderse vere praat met mekaar asof die hoor en sien van die wêreld daarvan afhang. Die meestal lang lenige spelers van die spel van here, of voetbal soos Oupa sou sê, is duidelik bewus van hul eie teenwoordigheid.

Sommige manne se hare is meer gestileerd as die tantes by die opening van parlement of ’n nuwe Griekse gebou. Die horlosies skitterblink in weerkaatsing teen die lughawe se reuse glaspanele. Almal gesels en waar daar nie ’n stoel is, sit die waterdraers sommer op die grond.

Ja, my volk, die bewondering en die gawe besoldiging as sportman, kan nie beter word as die binnekant van ’n lughawe se wagsaal nie.

Sokkerspelers, rugbyspelers, krieketspelers, wêreldreisigers, branderplankryers en sommige gholfspelers, snoekerspelers en veerpyltjie-kampioene het almal die spreekwoordelike goue troon van sport al bestyg.

Vir elke denkbare aksie wat die menslike liggaam kan uitvoer of ding wat dit kan vashou, is daar ’n sport. En vir elke erkende sport, is daar ’n beheerliggaam en vir die meer suksesvolle beheerliggame, is daar geld in die koffers.

En, wanneer die koffers vol raak, dan kry die deelnemers ook ’n geldjie en binnekort wil elke Jan Rap en sy maat ook sport doen. Dis dan so maklik. Mens hoef net te leer goed skop, hardloop, duik, slaan, skuur, spring, val en grom en siedaar ... sukses as sportman of -vrou en ’n blinke toekoms. Sommige sporte se lewensduurte is wel kort, soos rugby (behalwe natuurlik as jy slot in die Noorde speel), maar ander kan aanhou solank as wat hul bene kan knak en voete tekkies kan aankry en vir so lank sal elke sportsoort sy ondersteuners hê. Daardie mense op die rusbank, die pawiljoen of die sypaadjie wat die deelnemers bly aanmoedig.

Maar hoe volhoubaar is hierdie affêre?

Wanneer word genoeg te veel?

Ons gemeenskap het in ’n ommesientjie, die afgelope 3 dekades, net so gewoond geraak aan die konsep van professionele politici, as wat loopbaansport vir ons naweek en deurnagplesier bly bring. Ons sug nie meer oor die kaders in ons parlemente en rade wat hul botterbroodjies, salm, kaas en geurige vleis brochette in die geoliede sitvlaksport van die gemene politieke spel verdien nie.

Die een deelnemer sit toe juis so skuins voor ons in die vliegtuigie op pad terug na die kolonie toe. Ek luister nie graag ander mense se gesprekke af nie en maak nog minder ’n onnodige bemoeienis daarmee, maar aangesien die agbare raadslid en haar kollega agter haar, dit goedgedink het om hul “sportsake” oor die ruglening van die vliegtuig te bespreek, kon ek en selfs Tony Leon in sy pienk truitjie 4 rye terug, beswaarlik help om die gedoente nie te hoor nie ...
Mag ek volstaan met: as hierdie 'kwota-spelers' op grond van hul kwalifikasies in taalgebruik en intelligente stilswye verkies moes word, sou hulle steeds honger en werkloos gewees het!

Vanoggend hoor ek op die draadloos dat Mmusi Maimane sê sy eie bloedbroer is werkloos en onoorweegbaar vir enige werk. Toe dink ek ... ek wonder watter tipe onderneming sou vir sommige van sy blou hempie-maters ’n werksaanbod wou maak?

En toe wonder ek verder ... watter regdenkende onderneming sou enige van die sweetpak en withemp outjies in PE se lughawegebou vir ’n aanstelling oorweeg?

Nee wat, ek dink ons het nou te veel sport-afhanklikes; te veel monde wat wawyd oop op die spreekwoordelike lepel pap sit en wag.

O’ja, net ’n laaste knyp aan die boud: Nataniël sê ’n man met blou jannas moenie swart skoene dra nie en daai spinnekop-in-die-hoek-doodskop-skoene, is nog net in Gauteng in die mode ...

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top