Wanneer die musiek te veel raak

  • 0

(Die pad na da capo*)

Been there, done that. Sjoe dis raserig, besig en vol. Dit klink soos ... Radio nowhere, gugu, gaga. Niks kan my meer opgewonde maak nie. Veral nie musikante wat hulself in sirkels bly herhaal nie. Hoekom is almal so kwaad, cool, hartseer, slim, verlief, poëties, patrioties, techno-ge-wizard, stroopgelowig of daarop uit om ’n punt skerp te maak of te skok en dit dan kuns te noem? Kan niemand meer iets hartsgerig en oorspronklik doen nie? Ek luister eerder na die natuur.

 

Klink dit bekend? Het jy jouself ook al daar bevind? Verveeld met omtrent alles wat jy hoor en sien? Jou ma se sielkundige sal vir jou sê jy ly aan depressie. O ja? En van wanneer af is ’n groenteboer se versugting na kreatiwiteit ’n simptoom van depressie?

“Jou kop se hardeskyf is vol,” sê jou nefie wat digitaal grootgeword het.

“Hmmm ... Ek smag eintlik na meer oorspronklike d-a-t-a, boet. Omdat my hardeskyf nog so baie plek oor het om vreemde landskappe op ’n sterk wegholperd te gaan loop verken.” (Digitale metafore kom maar sleg tweede in ’n wêreld wat analoog skop.)

Raait, wanneer al die musiek wat jy hoor, jou herinner aan die deuntjie van ’n roomyswa wat al om die blok ry en slegs met die Doppler-effek van toonaard kan verander, dan is jy ’n presidentskandidaat vir ernstige terapie. Jy sal eerstens kan doen met ’n soliede sarsie vas. Zilch. Zero. Rien. Niks. Haziko. Nothing. Silence. Weg is jy. Woestyn toe met jou. Soos Johannes die sprinkaanvreter. Bid jou aan: geen 5FM, MK, iPod of YouTube nie. Geen “new releases” nie. Geen “ons het meer fans as die ander”-rock bands wat jou 20 keer per dag uitnooi op Facebook nie. Of jy kan gaan rustig raak langs waters waar wilderus is. Alleen met die see se suiserige witgeraas. Skuimgedagtes 24/7 is die vyfster-opsie. In ’n grot, hotelkamer of melkhoutboomtent. Klankterapie toegedien deur tinnitus se Moses. Maak dit jou dag- en nagtaak om te sorg dat die see se getye net kort duskant 6-uur-siklusse suksesvol in- én uitgaan. Met die maan as metronoom. En draai die stilte-knoppie tot op maksimum.

Voor ’n week en ’n half verby is, sal jy vind dat jou charge only-liggie weer konstant begin te skyn.

Nou het jy die kruispad bereik. Die gevaarsone. Net hier moet jy nou baie versigtig trap met dit wat jy jouself gaan laat hoor. Wat jou ore nou nodig het, is ruimte. Ooptes. Nog stiltes. Spasie. Ingekleurde leegtes. Afdwaalpaadjies tussen die note.

’n Veilige terugkomdeur is die meeste van die musiek wat vervaardig is deur Daniel Lanois. Ook sy solo-werk. Net soos Bill Evans en Miles Davis verstaan hy die noodsaaklikheid van stiltes en tekstuur in musiek. Bob Dylan se twee beste albums (Oh Mercy en Time out of Mind) is vervaardig deur Lanois. In “Chronicles Volume 1” som Bob Dylan sy eerste indrukke van Lanois so op: “ He was noir al the way – dark sombrero, black britches, high boots, slip-on gloves – all shadow and silhouette – dimmed out, black prince from the black hills.” Hierdie beskrywing vat mens kortpad na da capo“What was it you wanted?” is nét die musiekvraag en lirieke om ná jou selfopgelegde asketiese afsondering weer te gaan loer wat aangaan in die land van klank – rustige Lanois-stiltes tussen die note en al. (Luister met goeie klank of oorfone vir die volle spektrum.)

Hierna kan verskeie opsies gevolg word. Bill Evans se “Peace Piece” of Arvo Pärt se “Alina” vir Karoonag-ooptes en ’n oomblik se ewigheid.

Nou is jy amper reg om weer die klankwêreld van hoogstaan of vergaan te gaan aandurf. Net om jou stadig weer in ’n sekulêre groove in te lei kan jy hierdie song gebruik om die rivier oor te steek: Dave Grusin se “Sun Song”.

Veilige reis.

*Da capo: http://en.wikipedia.org/wiki/Da_capo

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top